Hoe Eet jy ‘n Olifant?

Nou wie eet nou ook ‘n olifant… sies man. Ja nee ek stem saam! Dis ‘n retoriese vraag. Ek het vir ousus gevra hoe mens ‘n olifant eet en sy het my aangekyk asof ek al my varke verloor het, die kluts skoon kwyt is… toe antwoord sy ewe versigtig… “met moeite en selfvertroue?” Nee, dis nie die antwoord nie sussie, jy eet ‘n olifant happie vir happie…

Kan ek die olifant ‘n naam gee? Oorweldig. Dit is nie die beste beskrywende Afrikaanse woord nie, maar nietemin. Dis die gevoel van weet nie of ek moet vat of los nie. Weet nie of ek kom of gaan nie. Wat moet ek eerste en wat kan bietjie wag. Bietjie vorentoe, bietjie agtertoe, maar niks word eintlik gedoen nie. Die gevoel tref ons almal een of ander tyd vol in die gesig, soms kuier oorweldig lank soms is dit net ‘n vinnige inloer.

Ons as mammas, vrouens het soveel balle om in die lug op te hou en te balanseer, en glo nou maar vir my dis ‘n balanseer toertjie van formaat… en dan so nou en dan t.s.v die Olifant in die kamer, gooi ons nog ‘n bal in die lug op… gits so asof daar nie reeds genoeg balle in die lug is nie. Continue reading “Hoe Eet jy ‘n Olifant?”

Dankie, maar Nee Dankie!

Jy weet kinders sal mens nooit ooit ten volle kan verstaan nie, een dag wil jy hulle plat veeg met die aarde om net die volgende oomblik te dink jy kan hulle sommer opeet so oulik is hulle. Nie te lank terug sê ek so in die verby loop vir my twee girls dat ek vandag die kombuis gaan uitpak, skoonmaak en regruk. Is iemand lus om my te help? Nie verpligte oefening nie, maar ek sal dit darem so waardeer! Ousus stem dadelik in want sy hou van regpak en organiseer. (En sy voel altyd woes sleg om my alleen te laat werk) Kleinsus was nou nie oordrewe opgewonde oor die vooruitsig nie, maar stem toe maar in, jy weet groepsdruk en al.

So pak ons die takie met ywer, lap en Domestos aan en lekker tiener musiek wat die hele huis deur blêr. So vier ure later is die kombuis silwerskoon en elke kassie is uitgepak, gestof, gewas en teruggepak. Harde werk hoor! Ek troos sommer vroeg al as ons klaar is popcorn en fliek ons sommer en ons kan mos maar dis dan vakansie! Ek haal so stilletjies vir elkeen ‘n geldjie uit en gee dit vir hulle toe ons klaar gewerk het. Nogals heel verontwaardig sê hulle asof uit een mond, dankie mamma, maar nee dankie. Ons het mamma gehelp omdat ons vir mamma lief is, nie omdat daar moontlik ‘n betaling sou wees nie! Continue reading “Dankie, maar Nee Dankie!”

Liefde in Onbeantwoorde Gebede…

As ‘n dogtertjie van 12 jaar oud, was ek klaar broeis, regtig! Ek wou opsluit my eie babatjie hê, gits op daardie stadium het ek nie eers geweet ‘it takes two to tango’ nie. Dit was my hartsbegeerte… dit het gehelp dat my ma ‘n dagsorg by die huis bedryf het, man ek het lekker pop gespeel! Ek is so bly God het nie my gebed beantwoord om op 12 al ‘n mamma te wees nie.

Tydens my opleiding as jong verpleegstudent het ek in Universitas se SSE eenheid gewerk, dis ‘n Spesiale Sorg Eenheid vir premature babas. Sjoe!  Daar het ek eers lekker pop gespeel, van daai klein baba-lyfies was so bitter klein en cute en oulik. Ek praat van minder as 1,5kg klein. ‘n Skamele botter en ‘n half. Dit was die lekkerste ding om hulle te voed, en te bad en te versorg. Dis soos om ‘n kleuter in ‘n speelgoedwinkel of lekkergoedwinkel vrye teuels te gee. Ek het gebid dat ek ook eendag so klein babatjie kon hê, sjoe ek is so dankbaar God het besluit om my versoek te ignoreer en vir my ‘n meisiekind wat twee keer plus soveel weeg af te lewer. Continue reading “Liefde in Onbeantwoorde Gebede…”