Die Lewensredder.

Ek het die vakansie amper so ‘n noue ontkomingtjie gehad wat ek amper gedink het ek gaan die tydelike met die ewige verwissel…

Laat ek die storie maar by die oggend begin… die Ingelsman sê: “Words are cheap” en “Practice what you preach”. As jy so afkyk van Hartenbos se kant af en jy kyk Diaz se kant toe is daar so struktuur wat soos ‘n brug lyk (dit is nie ‘n brug nie vir in geval jy wonder, ek het gaan kyk, dis meer soos ‘n ou pyplyn struktuur)- elk geval ons gesinnetjie met aanhangsel en al stap een oggend vroeg strand af om ondersoek te gaan instel…

Die afgelope paar dae het daar darem verskriklik baie mense verdrink veral kinders… dit breek my hart elke keer as ek dit hoor. Dis net te erg vir woorde… Jonge kinders en tieners wat nog op die drumpel staan van die lewe wat net weggeruk word… Continue reading “Die Lewensredder.”

Ek Gooi vir jou ‘n Klippie in die See.

(opgedra aan Joe)

Die laaste dag van 2022 wandel ek en manlief op die strand. Ek loop stadiger as hy, ek soek altyd ‘n mooi klip of drie om saam te vat huis toe, so met die drentel sien ek sommer alles raak wat die afgelope ruk uitgespoel het…

Plastiek stukkies wat nie daar hoort nie wat die strand ontsier, amper soos weggesteekte sondetjies in ons lewe ook maar maak. En ek sien baie klippies, rondes, groottes, kleintjies, alle kleure en vorms, sommige klippies is gebreek en ek dink onwillekeurig aan mense, dis asof die klippies die mensdom verteenwoordig.

Sjoe die wind was die jaar woes, ampertjies party dae gevoel of ons kan weg waai, elk geval met die wind kom die bloublasies… toe kleinsus nog kleiner was het ‘n bloublasie haar beetgehad en ‘n brandstert so halfpad rondom haar lyfie gemaak terwyl sy geswem het, dit het vreeslik gebrand… maar hier aan die ‘regte kant’ van die see is die bloublasies skadeloos, uitgespoel… dit is ‘n goeie herinnering om die jaar miskien in jou baan te bly, op die strand te bly waar dit veilig is.

Paar keer hierdie jaar het die fluitjies woes geblaas en dan swem, skarrel die hele spul uit die water uit tot die haai weer sy swem kry, maar vir die ou wat diep swem en die waarskuwings ignoreer is lewe in oorvloed nie ‘n waarborg nie.

So met die drentel is ek versigtig om nie op die gebreekte skulpies te trap nie, so min heel skulpies wat oorgebly het om jou aan te verwonder en bymekaar te maak… en daar is ook ‘n lessie te vind… kyk waar jy loop, moenie loop waar jy kyk nie, dit geld sommer vir die pad van 2023 ook. Loop lig, trap versigtig.

‘n Sussie in Jesus sê hier iewers in die middel van die vakansie: “Gooi vir my ‘n klippie in die see!” Ek het vir haar ‘n klippie van hoop en vrede in die see gegooi by Hartenbos… Maar vir hierdie jaar liewe vriendin gooi ek 5 klippies in die see ook vir jou: ‘n klippie van hoop, liefde, vrede, geloof en natuurlik ‘n genade-klippie.

Ons hoop is nie in mense, dinge of gebeure nie ons HOOP is in Hom. Die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie. (Jes. 40:31) Die God van die hemel en die aarde regeer in VREDE oor ons. Die Here doen alles vir ons. (Jes. 26:12) Hy gee ons krag en Hy seën ons met oorvloed. (Ps. 29:11)

Ek het ook ‘n klippie vol GELOOF  ingegooi; ons lewe immers deur geloof en nie deur sien nie. (2 Kor. 5:7) en vir goeie mate ‘n GENADE  klippie. Genade in oorvloed… daaglikse genoeg genade.

Maar die belangrikste klippie wat ek ingegooi het was die klippie van LIEFDE en dit het my aan die klip voor ‘n oop graf laat dink, ‘n klip wat getuig van liefde, ‘n weggerolde klip wat getuig van die dood wat vir altyd en ewig oorwin is. ’n Want só lief het God die wêreld gehad-klip… (Joh. 3:16) Dalk tel jy daar op Hartenbos se eindelose wit strande ‘n klippie op…

Dis ‘n splinternuwe jaar wat voor my en jou uitstrek my liefste vriendin, nuwe jaar, nuwe dinge, nuwe geleenthede, oor beginne, weer probeer. Vir sommige is dit ‘n opstaan-jaar, ‘n langverwagte oorwinningsjaar vir ander.

Nee ek het nie nuwejaars voornemens  nie, hulle is geneig om te verdamp hier teen die 14 de van die eerste maand… dit vat net energie om hulle uit te dink en nog meer energie omdat jy sleg voel dat jy hulle nie kon volhou nie. As jy ‘n nuwejaars voorneme het, laat dit een wees wat op mense fokus. Om liefde en genade vrylik uit te deel, om vrede te los oral waar jy gaan, om hoop te bring na ‘n hopelose situasie en om jou geloof in Christus te vernuwe.

Vir hierdie jaar is my wens en my droom vir jou ‘n laat-los-en-laat-gaan jaar… ‘n jaar waar jy opnuut sal besef en weet dat jy werklik en waaragtig op God kan vertrou en staatmaak, dat jy kan stil raak en stil wees, want Hy is jou God. Vriendin en dis so persoonlik, dis nie ‘n almal se God nie, Hy is jou persoonlike God en Verlosser. Hy het jóú lief… Sy genade is vir jóú genoeg. Jóú naam is in Sy handplams gegraveer tot in ewigheid.

Ek verklaar vanoggend dat 2023 ‘n goeie jaar gaan wees, nie oor goeie goed gebeure nie, maar omdat ek en jy ‘n goeie God dien met goeie planne vir ons. (Jer. 29:11) Hy het my en jou veilig uit die ou jaar tot in die nuwe jaar in gebring.

Wat is dit wat jy van God vra in hierdie broosnuwe jaar? Sy nabyheid? Sy krag? Sy vergifnis? Sy liefde… wat is daai een dingetjie wat jy hierdie jaar van Hom afsmeek? Vra maar gerus liewe vriendin, Hy hoor jou… Hy wat jou sien, jou raaksien wag op jou…

Ek wil jou los met ‘n kosbare woord vir 2023, Jesaja 32 vers 17: Wie reg doen, sal vrede hê; wie volhard in regdoen, sal vir altyd rus en sekerheid geniet en mag barmhartigheid, vrede en liefde in oorvloed in 2023 aan jou geskenk word. (Judas 1:2)

Uitverkore en Afgesonder.

We pray that you would walk in the ways of true righteousness, pleasing God in every good thing you do. Then you’ll become fruit-bearing branches, yielding to his life, and maturing in the rich experience of knowing God in his fullness! (Col. 1:10 TPT)

Ek lees die anderdag ‘n dagstukkie sommer op die Bybel toep van Joyce Meyer en sy sê ‘n baie waar ding, wanneer onsself met ander of die wêreld vergelyk lyk ons meermale nie te sleg nie. Ons dink darem ons kan amper ‘n malva in ons hoed steek, baie aardbewonders wat baie slegter en sondiger as ek en jy is…Die ding is ons moet ons eintlik met Jesus vergelyk… Oeps! Continue reading “Uitverkore en Afgesonder.”