Een oggend so kort duskant die tyd wat ons ousus by die Universiteit moet gaan aflaai staan ek op, maar ek is so ver van okay af dat dit nie eers snaaks is nie. As opkrul in ‘n fetale posisie op my bed onder my duvet ‘n opsie was, sou ek dit gedoen het. As vlug en die ‘groot intrek’ heeltemal vermy ‘n opsie was het ek. Maar helaas soos met baie dinge in die lewe is daar net ‘n vorentoe. Geen sprake van omdraai nie.
Twee dae voor ons haar moet gaan aflaai begin hierdie groot ongemaklikheid in my hart, siel en gees… ‘mind you’ dit sypel toe sommer deur na die lyf toe. Hoofpyn, wat ek nie eintlik ken nie, en ‘n nek en skouers wat lekker op ‘n knop getrek is.
Ek bly maar besig, want daar is geen beter tyd as die hier en nou om al die gordyne in my huis te was nie… en ek skrop en skuur en maak skoon en pak reg, enige iets om nie te hoef te dink aan die groot koebaai nie. Continue reading “Dis Okay om nie Okay te wees nie!”
Kleinsus kom die anderdag vroeg-vroeg in die kamer in met ‘n bottel lyfroom wat haar eindeloos frustreer. Die probleem is daar is blinkertjies in die room en elke keer as sy die room aansmeer dan loop en krap sy blinkertjies oral af… Ek sê toe: “Ek ruil jou, gee maar vir my die Lama blinkertjie room, jy kan my lekker ruik Nivea roompie vat.” Dis mos wat ‘n ma doen, ons is probleem oplossers van formaat.
Kleinsus is ‘happy’, frustrasie en ongelukkigheid is afgeweer! So sit ek die blinkertjie room aan, maar ek het nie besef dis so blinkertjierig nie, ek vat aan my gesig, dis op die motor se sitplek, bene, arms… oral, op ‘n manier het van die blinkertjies tot op manlief se gesig beland… (ek weet glad nie hoe dit gebeur het nie!), maar dis nie ‘n shimmer nie, dis blink… silwer blink. Ousus sê nogals vir manlief hy beter die blinkertjies afhaal voor sy video call, behalwe as hy nie omgee om FA-BU-LOUS te lyk nie.
Dit lyk of iemand ‘n hele buis blinkertjies in die bottel room omgedop het. As dit Hansie en Grietjie se storie was sou jy my sekerlik die hele dag kon agtervolg… volg net die blink spoor… Continue reading “‘n Blinkerige Besigheid.”
Die slim mense sê ‘n verandering is so goed soos ‘n vakansie… dan wil ek net vandag sê ek kies oor en oor, weer en weer eerder die vakansie deel. Nee, ek hou nie van verandering nie, dit skud my hok, dit tip my boot, dit is eenvoudig nie vir my lekker nie… en dit was nog van altyd af so… maar nou met ousus wat huisverlaat, darem nie hart nie, en nuwe jaar met nuwe dinge… ja wel laat ek net sê, my hok is behoorlik geskud en dis net vere waar jy sien…
Die slim mense sê ook dat die enige konstante ding in mens se lewe is verandering. Jy sien my dilemma, ek moet balans vind, voete vind in ‘n wêreld wat konstant anders lyk, ja die mens is sosiaal lekker aanpasbaar, maar dis nie te sê die aanpasbaarheid kom so natuurlik vir almal nie. Nietemin, ek kan eerlik sê, wat verandering aanbetref, is ek nie waar ek was ‘n paar jaar gelede nie, maar ek is beslis nie waar ek wil of moet wees nie.
Ek het lekker geoefen met die verandering besigheid deur twee groot trekke in die afgelope 17 jaar, nuwe provinsies, nuwe dinge, nuwe mense. Verandering veroorsaak ‘n groot ongemaklikheid in my siel… jip en dit steel klein bietjie van my vreugde en ‘n titseltjie van my vrede ook. Dit het ook ‘n geneighdheid om stress en bekommernis aan te blaas en natuurlik vrees. Vrees vir verandering. Miskien moet dit eerder die opskrif wees.
En ja daar is ek mooi netjies terug by die Wees stil tema- ‘n her-eksamen (alweer) van soorte. Ek moet ook sê dis nie ‘n Jes. 30:15 hereksamen nie, dis meer die Psalm 46:11 weergawe.
Jy sien die Jesaja versie sê mos dat jou KRAG lê in STIL WEES en VERTROUE hê… die vertroue ding het ek nou mooi onder die knie want dit was die 2022 tema waarmee God regtig intens met my gewerk het. En as jy 1000 keer hoor. Vertrou My! Jy kan My vertrou! Onthou van die vertrou-ding! Ek is betroubaar. Dan glo jy dit later verseker en ek kan met oorgawe sê dat Ek Hom met elke vesel van my wese vertrou… met my man, met my girls… met absoluut alles. Hy het ‘n plan, ek is veilig in Sy hand.
Die probleem met die Jesaja versie is vir my die balans ding- sien omdat die vertrou ding reg is maar die STIL WEES deel kort nog baie aandag (alweer) lei die krag deeltjie daaronder. Want mens voel kragteloos wanneer jy nie lank genoeg stil word om te hoor, in te drink en te verstaan nie.
So dan bring dit my terug by Psalm 46:11 (NLV), “Wees stil en weet Ek is God!” Ek is ook lief vir die The Passion Translation se weergawe: Surrender your anxiety! Be silent and stop your striving and you will see that I am God, I am the God above all the nations, and I will be exalted throughout the whole earth.
Gee oor, nie op nie. In die stilte is dit juis waar jy die grootheid van God ontmoet, waar jy werklik Sy krag ervaar. Dit lyk vir my daar lê vir my ‘n paar wees stil toetsies voor in die jaar…
Ek dink sommer nou aan die versie in 2 Timoteus 1 vers 7: en Ek besef die Gees wat God my gegee het, maak my immers nie lafhartig, maar vul my met krag, liefde en selfbeheersing… die NKJV se vertaling sê in die plek van die woordjie selfbeheersing- a sound mind. Ek dink soms is ek en jy ons grootste vyand… ons verhinder soms die Gees van God, wat in ons woon, om Sy werk in ons en met ons te kan doen, want ons sukkel met die stil wees deeltjie.
En ek weet ek is nie die enigste een wat daarmee sukkel nie, want ons bly in ‘n wêreld met oorverdowende konstante lawaai. ‘n Wêreld waar stilte eintlik abnormaal geraak het. ‘n Wêreld waar stil wees en word ‘n doelbewuste besluit en keuse is. (net sommer ‘n voetnota vir self en vir jou liewe vriendin, skerms van enige soort steel nie net tyd nie, maar ook jou vrede en tye van stilte wat vervang word met wêreldse geraas en dinge)
Wat ek geneig is om te doen wanneer verandering my vol in my gesig tref en daar is geen ander keuse as vorentoe nie, die dinge waaroor ek wel beheer het sorteer ek uit met ‘n passie, ek wil alles NOU doen en gedoen hê en behoede jou siel as jy nie so vinnig soos ek dink en doen nie, en die probleem met dit is my liefste vriendin dit veroorsaak nie net eindelose spanning en stres nie, maar dit kan ook lei tot onnodige konflik.
So nog iets waaraan ek sal moet werk die jaar. Vir nou het ek net werk wat voorlê en min antwoorde en oplossings. Ek verklaar dat 2023 my Wees Stil jaar gaan wees.
Here, help vir my met dit asseblief. Ek het nodig dat U my wys en leer hoe om ordentlik stil te word, regtig stil-stil te word, ‘n stilte wat deursypel na liggaam, siel en gees. Here, hier is ek! Ek het vanoggend meer vrae as antwoorde, meer vertroue as stilte en eintlik wat ek soek is U, maar nietemin, hier is ekke! Dankie my Jesus vir U vrede en ‘n stille gemoed vol vertroue en krag wanneer ek dit die nodigste het. AMEN.