Liewe vriendin, ek bid vir jou…

Geseënd is dié wat die gawe het om vriende te maak, want dit is een van God se grootste geskenke. (Anoniem)

Liewe vriendin, ek bid vir jou, ek bid vir volkome genesing na liggaam, siel en gees te midde van ‘n onverwagse kanker diagnose, te midde van die feit dat die mat onder jou uitgepluk is en jy vervaard gryp na geloof, na Hom en hoop.

Ek bid vir jou vriendin, vir genade, die genoeg-genade waarvan Paulus praat. Die genade wat inskop wanneer jou krag min is, wanneer jy swak en verganklik voel.

Ek bid vir jou vir rus en herstel onder die vleuels van Vader, ek bid vir jou vir krag om jou kindertjies styf vas te hou, vir genoeg genade om elke minuut van elke uur van elke dag moed te hou.

Here, laat U hand van genesing rus op hierdie kosbare vriendin, mag die son van redding oor haar skyn, die son van redding met genesing in sy strale. (Mal. 4:2)

Here, maar vandag bid ek veral dat U wil vir hierdie vriendin na aan my hart se lewe sal geskied. (Matt. 6:10) Ek bid ook dat U die goeie werk wat U in haar begin het, end-uit sal voer en voleindig tot op die dag wanneer Christus Jesus kom. (Filip. 1:6) Continue reading “Liewe vriendin, ek bid vir jou…”

Die Einde van die Wêreld.

Sjoe! Ek moet bieg. Ek het ernstig gewik en geweeg of ek hierdie stukkie moet skryf. Party onderwerpe is hopeloos te sensitief en meestal iewers bo-oor my kop en my verstandelike vermoëns, maar so gebeur dit dat twee mense my in een week kontak, bekommerd oor die einde van die wêreld, of meer akkuraat die Wederkoms.

Een ding weet ek verseker… vandag is ons nader aan die wederkoms as wat ons gister was… en dit klink soos ‘n gevatte opmerking… dit is nie. Dis ‘n sagte herinnering vriendin. Is ek en jy een van die verstandige meisies met oorgenoeg olie in ons lampies? Of gaan ons soos die onverstandige meisies op 99.9 rondskarrel opsoek na olie vir ons lampies om kort daarna voor dooiemansdeur te staan te kom? Continue reading “Die Einde van die Wêreld.”

My Battery is Pap!

Ek staan vanoggend op en sien my selfoon is in die rooi, dis nou die battery. Ek sê nogals vir manlief, dis nou interessant. My selfoon is pap-pap en eintlik het dit die hele nag herlaai! Hy sê droogweg dis nie só interessant nie, want ek het nooit die prop in gedruk nie, net die selfoon gekoppel. Nou ja toe. Dan is my blonde oomblik vir die dag opgebruik, of was dit gister se blonde-oomblik. Ons sal maar sien hoe vandag verloop né!

En onmiddellik herinner Vader my aan die belangrikheid van ingeprop bly by Hom, maar ons weet dit eintlik… maar vanoggend se lessie was nie die ingeprop deel nie, maar die feit dat ons onder die indruk leef dat ons ingeprop is, maar nie noodwendig so ingeprop soos ons dink nie. Continue reading “My Battery is Pap!”