Genade Toggie!

Ek is die ander oggend by die skool besig om saam met ‘n paar ander mammas vir die onnies cupcakes, versies en capachino sakkies uit te pak. Om een of ander rede was die tweede kwartaal van hierdie jaar net lekker woes. Dit was so lekker om net saam met ‘n paar mammas te gesels, en grappies te maak… ek stap uit, en net voor ek ry, gooi ek net gou ‘n oog op my selfoon wat op ‘stilte’ was. Ek sien een van my hartsvriendinne het probeer bel, en sommer toe ‘n stemborrel gelos.

Ai en daar verander ‘n goeie Vrydag eensklaps in ‘n hartseer ene. Een van ons Graad 11 bid-mammas is skielik oorlede… en jy weet mos die aanvanklike verdwaasdheid en amper ontkenning… dit kan mos nie wees nie.

By die eerste links draai vergeet ek toe heeltemal om my flikkerlig aan te sit, en die man in die groot bakkie agter my is toe nie so heeltemal beϊndruk met my nie. Eers wys hy vir my met vingertjies wat skiet, jy weet mos, in kinderkrans as ons die liedjie sing wat sê: ja, die kindergesiggies, soos die sterre se liggies, selfde beweging, ander betekenis, en net om sy punt mooi af te sluit, net vir goeie ‘measure’, gooi hy vir my ‘n middelvinger ook, nou kyk, ek weet ek moes my flikker gebruik het, ek was verkeerd, maar in daai spesifieke oomblik sou ‘n klein bietjie genade só welkom gewees het. Continue reading “Genade Toggie!”

Met Uitgestrekte Arms.

Ek kyk weer die ander dag bietjie die foto albums deur en kry ‘n kosbare foto van kleinsus wat hier tussen hemel en aarde in ‘n foto vasgevang is. Toe die girls baie kleiner was, het Jannie hulle altyd so lekker hoog in die lug op gegooi, dit was vir hulle vet pret, die armpies vol dimpels, uitgestrek in die lug, sorgvry. Oopbek skatterlaggies en mooi smeek-vra: “Nog, nog!” Hulle is nie eers vir ‘n oomblik bekommerd dat hulle pappa mis kan vang nie.

Ek loop so vir ‘n paar dae met die uit- en oopgestrekte arms-tema in my hart rond, en besef daar was ‘n Pa wat ‘n verlore seun met oopgestrekte arms tegemoet geloop het in die Bybel. Dag na dag het hy gewag, op die uitkyk vir sy verlore seun. Geduldig. Uitgestrekte arms vol verligting oor ‘n seun wat uiteindelik tuis is, arms wat sê: Ek vergewe jou!

Wat beteken oopgestrekte arms? Dit beteken maar net jy is welkom, jy is geliefd, jy is kosbaar genoeg om teen my hart vas te druk. Continue reading “Met Uitgestrekte Arms.”

Ek kloof steeds die see vir jou oop…

Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe Ek die Here jou vandag gaan red. Bly jy maar kalm, want Ek veg vir jou. (Eks. 14:13-14)

Ook jy sal op droeë grond deurgaan in die middel van jou storm.  (Eks. 14:16) Weet jy steeds nie mensekind? Vir mense is dit onmoontlik, maar vir My is alles moontlik. (Matt. 19:26) Ek is YAHWEH. (Gen. 1:26) Vir My moet jy prys, want Ek is jou God en Ek het al hierdie magtige wonderdade vir JOU gedoen. (Deut. 10:21)

Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie. (Jer. 33:3) Wat Ek doen, is groot en ondeurgrondelik, wonder op wonder. (Job. 5:9) Ek is magtig om oneindig meer te doen as wat jy bid of dink. (Ef. 3:20) Continue reading “Ek kloof steeds die see vir jou oop…”