Waar is U dan Here?

My liewe vriendin, die verhaal van Lasarus is so kosbaar, al in vers 5 van Johannes 11, weet ons dat Jesus hierdie drie mensies, Lasarus en sy sussies, Martha en Maria inniglik liefgehad het. Jesus daag nie ‘betyds’ op nie, om die waarheid te sê, Hy is vier dae ‘laat’. Genoeg tyd vir Martha en Maria om hulle disnis te treur or hulle liefling boetie. En soms voel ek en jy ook soos Martha wat vir Jesus sê, sonder beskuldiging- ‘Here, as U hier was… Eintlik sê sy: U was nie betyds nie…

Miskien voel jy ook soos Martha… jy bid al lank, en aanhoudend, antwoorde het jy nie, uitkoms is daar nie… sal Hy ooit betyds opdaag? Vriendin, Hy sal, lees elke skrif, maak dit jou eie, skryf dit op jou hart, want die God van die hemel en aarde sal vir jou deurkom… betyds… nie in my en jou tyd nie, maar in Sy perfekte, volmaakte tyd.

Here as U net hier was, sou dinge nie so skeef geloop het nie. (Joh. 11:32) Ek is heeltemal gedaan. Hoe lank nog, Here, voordat U uitkoms gee? (Ps. 6:4) Hoe lank nog Here? Hoe lank nog moet ek kwellinge in my binneste dra, elke dag kommer in my hart? (Ps. 13:2-3 2020)

My liewe kind, Ek het elke ding gemaak dat dit pas in ‘n bepaalde tyd, maar Ek het ook aan jou mensekind ‘n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog liefste kind, sal jy nooit My werk van begin tot einde begryp nie. (Pred. 3:11) EK IS DIE HERE. (Jes. 60:22)

Wat Ek doen is blywend, jy kan daar niks byvoeg nie en jy kan daar niks van wegneem nie. (Pred. 3:14) Wat Ek doen is volmaak. (Ps. 18:31) Op die regte tyd sal Ek jou gebede verhoor. (2 Kor. 6:2) Lewe met ywer, totdat die dinge waarop jy hoop vervul is. Moenie traag word nie, maar wag geduldig en gelowig vir die dinge wat Ek jou beloof het. (Heb. 6:11-12)

Jy kwyn weg van kommer… maar bly vergeet dat jou krag net van My afkomstig is, maar (Ps. 119:28) Ek sê vir jou: Ek is jóú God, vertrou net op My, want jou tye is in My hand. (Ps. 31:15-16) Jy weet dat Ek alles ten goede laat meewerk vir jou wat My liefhet, jy wat volgens My besluit geroep is. (Rom. 8:28) Is iets te buitengewoon vir My? (Gen. 18:14)

My woord is die lamp wat jou die weg wys, die LIG op jou pad. (Ps. 119:105) Ek wil jou My wil leer, en jou lei op ‘n gelyk pad. (Ps. 27:11) Ken My in alles wat jy doen en Ek sal jou die regte pad laat loop. (Spr. 3:6) By My is wysheid en krag, by My is raad en insig. (Job 12:13) Raadpleeg My eerste en (1 Kon. 22:5) wanneer jy wysheid kortkom, bid dit van My, en Ek sal aan jou wysheid gee sonder voorbehoud. (Jak. 1:5)

Voordat die berge gebore is, voordat Ek die wêreld voortgebring het, ja van ewigheid tot ewigheid is Ek God. (Ps. 90:2) Duisend jaar is vir My soos gister as dit verby is. (Ps. 90:4) Een ding moet jy egter nie vergeet nie, geliefde: vir My is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. (2 Pet. 3:8)

Ek skenk jou elke dag My liefde in oorvloed. (Ps. 90:14) Op die bestemde tyd het Ek vir jou gesterf, sal Ek nie ook op die bestemde tyd tot jou redding kom nie? (Rom. 5:6) Wat Ek doen begryp jy nie noú nie, maar later sal jy dit verstaan. (Joh. 13:7) Jy moet net geduldig bly wag en (Hab. 2:3) ook in die wag, is My genade vir jou genoeg! (2 Kor. 12:9)

Ek vat jou aan jou hand, Ek gee jou raad. Al voel jy afgetakel, moedeloos, op en gedaan, Ek is jou sterkte, aan My behoort jy vir altyd. (Ps. 73:23,26) Ek sal jou weer laat opstaan. (Ps. 37:34) EK IS NABY! (Ps. 34)

Jy wat op My vertrou, Ek omvou jou met My liefde. (Ps. 32:10) Daarom moet jy in stilte op My vertrou, moet jou nie so ontstel nie, My liefste kind. Moenie kwaad word nie, laat staan die woede, dit bring net ellende. (Ps 37:7-8) Vind jou vreugde in My en Ek sal jou gee wat jou hart begeer… in My perfekte tydsberekening. (Ps. 37:4)

Nou kyk jy nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal jy alles sien soos dit werklik is. (1 Kor. 13:12) Laat jou lewe volkome aan My oor, vertrou net op My. (Ps. 37:5) Ek sal jou onder My sorg neem. (Ps. 27:10) Jou hart word deur My genade versterk. (Heb. 13:9)                                                                               

‘n ‘Kragtige’ Getuienis.

Liewe vriendin, vandag se stukkie is baie persoonlik, en ek deel dit omdat ek wil hê jy moet weet en verstaan, dat ek en jy tot alles in staat deur Christus wat my en jou krag gee. (Philip. 4:13). As jy my baie goed ken; sal jy die volgende van my weet, ek is in hart en siel eintlik ‘n introvert, ek hou nie daarvan as my hok of my vere geskud word nie. Verandering is vir die voëls, beslis nie vir my nie, en ek hou nie daarvan om voor ‘n klomp mense te praat nie. Een of twee- geen probleem, maar massas, nee dankie, hou verby.

Aan die einde van verlede jaar kontak ‘n vroutjie my en vra of ek bietjie met die oumensies sal kom gesels, informeel, niks ernstigs nie. En ek stem sommer dadelik in, want dit kan ek sekerlik doen! (Nog iets wat jy dan dalk ook nie van my weet nie, ek is mal oor babas en kinders en dan op die ekstreme van dieselfde lyn, oumensies. Ek het ‘n besonderse sagte plekkie vir hulle.)

Nog in my universiteits dae het manlief altyd gesê, ek moet maar verby hou met enige pos wat met kinders, kanker pasiënte of oumensies te doen het… my hart het swaar gedra aan al hul hartseer. Continue reading “‘n ‘Kragtige’ Getuienis.”

Ek het U Gesoek… en Myself gevind.

Nader tot God en Hy sal tot julle nader… (Jak. 4:8)

Wanneer ek in opregtheid die aangesig soek van die EEN wat my gemaak het, gebeur daar iets Goddeliks, ek vind nie net HOM wat ek met hart en siel soek nie, Ek vind ook myself in Hom.

Ek en jy, eintlik alle mense, het ‘n intense behoefte om te behoort, om met oortuiging te kan sê: Ek is… Probleem is, ons weet nie altyd lekker wat die beste pas na die drie kolletjies nie. Ek is wat? Ma, Vrou, Vriendin, Dogter, Verpleegkundige? Waarin is my identiteit vasgevang?

Ons soek hoog en laag na antwoorde en aanvaarding, van die teenoorgestelde geslag, van ons kinders, die wêreld… Ons doen persoonlikheidstoetse en allerhande asseserings, want ons wil so bitter graag weet. Wie is EK???

Vriendin, wanneer ek en jy ons identiteit in die wêreld soek, sal jy antwoorde kry, maar dit gaan steeds nie die reuse gat in jou hart en siel vol maak nie. Dit gaan leë antwoorde en beloftes wees wat net tydelike antwoorde gee. The more you know about the trouble in the world, the more you will be troubled by it. (Cold case Christianity) Dis ‘n gevaarlike besigheid om jou identiteit in die wêreld te gaan soek, daar waar die vergelyk-gogga amok maak, waar die klem op die individu is, kry dit… koop dit, because you are worth it. ‘n Wêreld vol leuens en slaggate. Continue reading “Ek het U Gesoek… en Myself gevind.”