Mamma, ‘k wil ‘n Man hê.

Watter man my liewe kind? Ag liewe sussie, vandag skryf ek baie spesiaal vir jou wat alleen voel, al raak jy groot in ‘n liefdevolle, ondersteunende huis. Wat die gemis voel na ‘n spesiale maat wat jou hart sal verstaan. Wat sy arms om jou sal sit en net sê: Alles gaan okay wees. Die ene wat jou sal laat veilig voel, die ene wat jy voel: He gets me!

Jy soek hierdie spesiale maat wat God baie spesifiek vir jou uitgesoek het, en ek weet, soms raak die wag lank, en jy vra vir God, maar dit voel so bietjie of Hy van jou vergeet het. Jy is half ongeduldig in jou afwagting na jou eie persoonlike prins op sy wit perd…

I am patiently waiting for the man that gave me his rib (my jongste het hierdie oulike aanhaling met my gedeel, sy kon net nie onthou waar sy dit gesien het nie) maar ek wil byvoeg, en sodat jy dit kan hoor, daar iewers is ‘n outjie wat ook sug en verlang en sê: I am patiently searching for my missing rib. Continue reading “Mamma, ‘k wil ‘n Man hê.”

‘n Prins of ‘n Skollie?

Ek is goed met prekies afsteek, ek sal wel erken dat my tydsberekening soms bietjie skaafwerk kort, maar met die prekies self skort daar niks. So leer ek van kleins af vir my girls oor die regte maat kies, ag as jy wil, kan jy dit selfs breinspoel noem…

Ons het die gewoonte om op pad skool toe ‘n stukkie te lees of om ‘n liedjie te luister, en soms bid ons sommer so vir almal in die ry. Kan ek net sê ek mis vir Ousus in die oggende in die kar? Elk geval, soms, so uit die bloute uit sê ek kom ons bid sommer vanoggend vir julle mans van eendag, want gebede is kragtig, God hoor elke versoek.

Ek laat geen oomblik ‘n leergeleentheid deur my vingers glip nie. Luister jou tieners se hormonale bril waardeur sy mannetjies bekyk moet soms bietjie skoongemaak word, deur jou, haar eie persoonlike mamma. Leer haar, jy kan nie ‘n Skollie kies en dan verwag hy gaan jou soos ‘n Prinses behandel nie. Skollies bly Skollies, maar Prinse raak Konings, Priesters en Profete in hul eie huise. Prinse dra hulle vrouens van eendag op die hande, Prinse is geduldig en kan wag. Prinse herken Prinsesse. Continue reading “‘n Prins of ‘n Skollie?”

Gelukkege Welentaams dag!

Gelukkege Welentaams dag…

Is dit nie dierbaar nie? Kleinsus was 8 jaar oud toe sy vir my ‘n kaartjie gemaak het van haar Pappa af wat gesê het:

Liewe Martha
Gelukkege Welentaams dag.
Van: Jannie

En natuurlik het hy ook ‘n kaartjie gekry. Hoekom? Want ek en manlief is nie die grootste aanhangers van hierdie liefdes-dag nie. Kleinsus het gevoel sy sal dan maar die verantwoordelikheid op haarself neem en seker maak daar is darem so bietjie sprankel op die dag is.

Vir my persoonlik voel dit soos ‘n uitgebuitery, ‘n Oor-gekommersialiseerde dag… ons is darem aanhangers van die liefde self! Elk geval, het jy al probeer uiteet op hierdie spesifieke dag? Ag nee wat, liefde, geduld en vrede vlieg by die venster uit die oomblik wat jy die rye voor die deure sien staan. Nee, wat vriendin. Kom ons vier elke dag die liefde net sommer om vir mekaar lief te wees, om te gee vir jou medemens en altyd te onthou dat GOD liefde is.

Nietemin die girls dink ons tweetjies is woes onromanties omdat daar nie blomme, sjokolades en wat nog vir mekaar gekoop word nie. Weet jy wat? Ek het besef dis belangrik vir hulle want elke dogtertjie/tiener/jong dame hart wil weet: Ek is bekoorlik, Ek word bemin, Ek is genoeg, Ek is die MOEITE WERD. Dit is waarna elke jongmeisie hart smag.

En iewers langs die pad het ek net besef as dit vir hulle belangrik is, moet dit vir ons ook ‘n saak van erns wees. En nee, ons koop nogsteeds nie vir mekaar ietsie nie, maar daar is groot waarde daarin as ‘n Pappa vir sy dogter(s) ietsie koop met ‘n kaartjie by wat sê:

 

Jy is lieflik.

Of

Die eerste keer wat ek jou in jou mamma se maag voel skop het,
Het jy my hartsnare geroer en ‘n deeltjie van
Pappa se hart sal altyd aan jou behoort!

Of

Jy is genoeg.

Of

Ek is die gelukkigste Pappa op aarde,
Want jy is my meisiekind.

Of

Vir jou het ek lief!

Of

Jy is my trots, my hart, my alles.

Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling. (Filip. 1:9)

Weet jy wat as sy dan van die skool af kom en die geheime bewonderaar het geskitter in sy afwesigheid, geen een-stingel rooi roos wat na niks ruik nie, geen rooi hartjie sjokolade wat nie eers lekker proe nie,  nie eers ‘n corny ruimpie wat ietsie sê soos:  Roses are red. Violets are blue. Sugar is sweet. And so are you.

Niks… Dan gaan haar hart nie so stukkend en verlore voel nie, want die bewys dat ek geliefd is staan op my lessenaar… want nog voor die dag behoorlik begin het op die 14de Februarie, het sussa se liefdes bekertjie oorgeloop, want die man van die huis het opgedaag met woord en daad.

Luister vriendin ek praat ook nie van groot geld geskenke, elektronika en wat nog nie. Ek praat van ‘n gunsteling sjokolade, of ‘n beker met ‘n sweetie in. Klein geskenkie met GROOT waarde.

‘n Jaar of drie terug pak ons ousus se kas reg en bo in die kas lê ‘n leë houer wat hartjie sjokolades bevat het.  Ek vra: “Kan ek weggooi?” Nee, sê sy verontwaardig, Pappa het dit vir my gegee vir Valentyns dag. Sien, want dit maak saak. Dit maak ‘n verskil.

Die seunswêreld is vir my ‘n vreemde ene… ek vermoed hulle is minder gehinder en nie veel gepla oor rooi hartjies en wat nog nie, maar ek kan nie dink ‘n uitgevrete tienerseun sal nee dankie sê vir sy gunsteling sjokolade met ‘n nota van mamma af wat sê… mamma lief jou, nie!

En ja, ons wederhelftes is besig, ek besef hulle het nie noodwendig die tyd of die geduld om vir meisiekinders te loop en geskenkies uitsoek nie, vriendin, maar is ek en jy nie sy helper nie? So help hom, koop die geskenkie, kry die stukkie bladsy reg, en ‘n dag of wat voor die tyd druk jy dit onder sy neus in en sê: ‘skryf gou vir sussie ietsie’! Jy gaan sien hoe dogtertjie gesiggies blom en ek wed jou daar gaan ‘n gespoggery wees by die skool oor die awesome Pappa wat hulle het!

Mag jy liefde in jou hart beleef. Mag jy elke dag Jesus se liefde vir ander leef en uitleef.

Soos ‘n blom die son nodig het om waarlik blom te word, so het ‘n mens die liefde nodig om waarlik mens te word. (Phil Bosman)