Soms Kort ‘n Ma ‘n titseltjie Wysheid.

Wysheid word iewers gevind tussen jou hart en jou kop, nie noodwendig in jou kop nie, want soms is dit wysheid sonder gevoel, wysheid se woonplek is ook nie die hart nie, want wysheid met net gevoel is gevaarlik. Wysheid van God is maar altyd die allerbeste wysheid.

Wysheid is nie vir ‘n uitgesoekte, uitverkore handjie vol mense nie. God se uitnodiging staan vas vir almal… veral vir mammas wat wysheid soms so broodnodig het. Dis vir ma’s (en natuurlik pa’s ook) net nodig om te weet waar ons wysheid vandaan kom. Wysheid word van God afgebid… en vrylik gegee aan die wat vra. Ware wysheid kom van God af. Dit is die Here wat die wysheid gee… (Spr. 2:6)

God se wysheid, wat Hy so mildadig en vrylik uitdeel aan ma’s, is altyd gevul met ‘n bietjie genade, liefde, geduld en verdraagsaamheid. Wysheid is altyd om meer te luister as wat jy praat. Wysheid is om eers vrede te gaan opsoek voor jy optree, want vrede gaan wysheid vooruit. Continue reading “Soms Kort ‘n Ma ‘n titseltjie Wysheid.”

Vat Nog ‘n Happie van my Jesus, Liefie.

Net nadat ek die opskriffie getik het, toe ‘crinch’ ek so bietjie binne toe, want sjoe dit voel amper disrespekvol teenoor HOM vir wie ek so liefhet, maar in my hart van harte weet ek hier is mammas en vrouens wat dit moet hoor, so optimisties-versigtig gaan ek, met liefde en deernis, hierdie boodskappie probeer oordra! Hoor my hart, nie die woorde nie!

Baie jare gelede met die verhuis van Bloemfontein na Roodepoort was ousus kort-kort siek. Ons het gedink dit kan die lug wees wat vuiler is, sy het nagte om gehoes. Een van die medisynes wat die Pediater lief was om te gee was kortisoon, nou kyk om ‘n een en ‘n half jarige te máák medisyne drink sit nou ook nie in elke ene se broek nie. Continue reading “Vat Nog ‘n Happie van my Jesus, Liefie.”

‘n Goeie Ma.

God is in the midst of her, she will not be moved; God will help her when the morning dawns. (Ps. 46:5 AMP)

‘n Goeie Ma is geduldig. Sy is ‘n stille teenwoordigheid wat jy voel meer as wat jy sien. Sy gee nie om te wag nie… by die balletklas, langs die rugbyveld… Sy gee ook nie om om geduldig te wag vir haar gebede om beantwoord te word. Sy is goed met wag…

Nederigheid is ‘n ma se kleed. Liefde en sterkte is haar metgeselle. Haar geheime wapen- kalmte van gees. En met hierdie sagtheid kan selfs nee nie na ‘n slegte proposisie klink nie. Met hierdie nederige kleed om haar skouers het sy lankal besef, al weet sy baie, weet sy nie alles nie. Sy weet baie goed dat haar gesinnetjie se behoeftes voor haar eie kom… en eintlik is sy heeltemal okay hiermee, want sy is die naam ma werd.

Die woorde van ‘n ma word fyn uitgekies. Haar woorde is deurdrenk met deernis vir die enetjie wat hier voor haar staan. Sy probeer hard dat elke woord uit haar mond aanmoedig, maar nooit vergelyk nie. Sy luister meer as wat sy preek, en sy probeer om met haar woorde haar kinders aan te moedig en te ondersteun.

Speak with your children as if they are the wisest, kindest, most beautiful humans on earth, for what they believe is what they will become. (Brooke Hampton)

‘n Goeie ma weet dat sy baie spesifiek en spesiaal uitgekies is deur God om haar kinders se mamma te wees. Sy is nie gekies omdat sy so perfek is nie, maar omdat sy bereid is om op te offer, om te val, en weer op te staan. En al voel sy nie altyd so nie, weet sy tog hier iewers in haar agterkop dat sy genoeg is. Genoeg vrou, genoeg ma. Dis haar werkie om voor te loop, agter HOM aan, deur ‘n deurmekaar, agterstevoor wêreld.

Toe God ma’s uitgedink het, moes Hy van tevredenheid gelag het, so ryk, so diep, so goddelik, so kragtig, so sielvol en so mooi was die idee. (Henry Ward Beecher)

Verhouding… vir ‘n goeie ma kom verhouding eerste. Dit staan kop en skouers bo ‘n argument wen, ‘n deurmekaar kleuter-kamer, ‘n knorrige tween of selfs ‘n moedswillige tiener wat skoorvoetend in die gang afdrentel op soek na moeilikheid. ‘n Ma kort gedurig wysheid, maar sy weet waar om dit te gaan afbid, ‘n ma kort soms perspektief, want dis in die terugstaan en asemhaal wat die prentjie duideliker raak.

‘n Goeie ma laat haar kinders toe om minder as volmaak te wees. (Victoria Secunda)

‘n Ma vol genade, is ‘n goeie mamma… Sy het vroeg-vroeg al geleer, ons almal kort genade… van God, maar verseker ook van mekaar. Sy kyk met genadige oë na haar kinders en na die wêreld om haar, maar sy het veral genade met haarself. Sy verstaan dat ma’s soms moeg voel, soms ‘n bietjie moedeloos voel. Dat geen ma perfek of volmaak is nie. Sy vergeef vinnig en glo in onvoorwaardelike aanvaarding. Wanneer sy die boompie saggies buig, is dit met deernis en genade…

Liefde is ‘n ma se wapen. Sy het lief met ‘n felheid. Haar liefde kan genees, omvou, en beter maak. Haar liefde nooi vrede by die voordeur in en gee plek vir stilte in ‘n chaotiese wêreld. ‘n Ma se liefde bly vir ewig. Moederliefde fluister… Jy het dit… en ek het jou. ‘n Ma se liefde getuig, sonder woorde…

Soms wanneer jy mooi kyk, kan jy sien hoe ‘n ma die glans van die hemel en die hart van God weerkaats. Soms hoor jy hoe sy saggies met Hom praat- kompleet asof Hy daar reg langs haar staan. Sy bid… Sy glo… Sy vertrou.

Gebed vir ‘n Ma.

Abba, dis sommer net ek… ‘n gewone ma.
Vandag bid ek vir die moeders van die wêreld.
Ek bid vir elke ma wat leeg en moedeloos voel,
ek bid en vra dat U haar sal vul met krag,
en liefde
en selfbeheersing. (2 Tim. 1:7)

Here, ek moet bieg,
dis nie altyd maklik om ‘n mamma te wees nie,
om te weet wanneer om te praa
en wanneer om stil te bly nie.
Soms kort ons wysheid en dit terwyl
insig wegkruipertjie speel
en perspektief skitter in sy afwesigheid.

En Here soms voel mens net moeg,
nie van ma wees nie,
maar van spoeg en spartel in ‘n wêreld wat elke minuut verander,
wat onvriendelik en vyandig daarna uitsien…
Here ek, en elke mamma wat hier lees,
kort U rus. (Matt. 11:28)

En U vrede,
moenie vergeet om U vrede
op elke mamma wat hier lees,
uit te stort nie.
Here, maar ons soek asb. die ene
wat alle verstand te bowe gaan, (Filip. 4:7)
‘n vrede wat skree,
Ek sal jou nooit begewe of verlaat nie. (Heb. 13:5)

Here, van ons kindertjies sukkel om rigting te kry,
ek bid Jeremia 29:11 oor elkeen van ons kinders,
Planne van voorspoed…
Here, gee vir elke kind ‘n droom…
‘n Toekoms.
‘n HOOP.

Ek bid vir woorde,
genadig,
opbouend,
Ek bid vir woorde wat U hart weerspieël… (Ps. 142:3)

Op U vertrou elke ma met haar hele hart,
op ons eie insigte wil ons eerder liewersters nie staatmaak nie.
Ons wil U ken in alles op die moederskap-pad,
maak ons paaie reguit… nie maklik nie, net reguiter… (Spr.3:5-6)

Ag Here, ons wil nie moeg raak van goed doen nie,
verslap wil ons nie, (Gal. 6:9)
help ons met hierdie kollosale werkie van ma-wees.

Here, dankie vir elke stukkie genade,
wat afgemeet en genoeg is,
selfs wanneer dit nie genoeg voel nie,

Dankie vir ekstra genade
wanneer ‘n goeie mamma afgemat en afgerem,
en nie goed-genoeg voel nie. (1 Kor. 12:9)

‘n Goeie Ma hou aan elke belofte in U woord vas Here,
veral aan die ene in Deuteronomium 31:8.
Ek vat hom vir myselwers,
op my hart sal ek hom skryf.

Here, want U is werklikwaar die Een wat voor elke ma uitgaan,
U is by ons,
U laat ons nie in die steek nie,
U verlaat ons nie,
en daarom Vader sal ons nie bang wees nie,
daarom sal ons nie skrik om ‘n goeie Ma voor U te wees nie.

In die kosbare naam van Jesus bid ons dit,
vra ons dit,
verklaar ons dit.

AMEN