Geen Konneksie, Probeer weer Later…

Kan jy onthou vriendin, toe jy die eerste keer in jou splinternuwe baba se ogies gekyk het, het daar iets groots gebeur, iets heiligs? Dit was so mooi, rein en teer dat jy moes diep inasem om plek te maak vir hierdie té groot gevoel in jou bors. ‘n Liefde so volmaak, oorheersend, beskermend dat geen een woord op aarde dit ooit sou kon beskryf nie.

God het dit toe al bestem dat hierdie band tussen ma en kind groot genoeg is om selfs die storm en drang jare van tienerwees te deurleef en selfs te oorleef. Dis daardie band wat maak dat al hou ons nie altyd so baie van hulle nie, het ons hulle lief met ‘n intensiteit wat moeilik is om te verduidelik.

Ja, daar kom tye wat jy hulle wil skud, veral as hulle oë terugrol in hulle kaste, dat jy lus het om hulle aan die strot te gryp wanneer hulle met daardie ‘whateva’ houdinkie in die gang afslinger, en jy weet dat jy weet hulle enigste doel is om die witwaks uit jou uit te irriteer. Continue reading “Geen Konneksie, Probeer weer Later…”

Om te Skeinat of nie te Skeinat nie.

Ek kan vir die lewe van my nie onthou dat die kies van vakke enigsins ‘n moeilike ding was jare terug nie. Dit was eintlik maklik. Jy kon kies A of B x4 en dan jou tale. Sommige skole was so klein dat vakkeuses eintlik nie ‘n keuse was nie, dit was ‘n vat wat jy kan kry tipe situasie. Nou raak dit ‘n geweldige storie en kopseer vir menige ouers en hulle baie deurmekaar 15 jariges.

Goeie nuus, enige kindertjie na die eerste ene raak gelukkig progressief makliker… en minder vreesaanjaend. Ongelukkig nie vir die 15 jarige in jou huishouding nie. Die arme goed voel oorweldig, so kompleet asof hierdie ‘n permanente keuse is vir die res van hulle 70 of 80 jaar hier op planeet aarde. Hulle dink hulle moet al die moeilike antwoorde op onmoontlike vrae hê, wat gaan jy word, watter presies graad gaan jy by watter presiese instansie studeer? Hoofbrekens probleme vir die arme bloedjies!!

Ek het ‘n paar goedjies geleer so tussen ousus en kleinsus se vakkeuse krissise. Bietjie meer kennis en wysheid so tussen die lyne opgedoen. Continue reading “Om te Skeinat of nie te Skeinat nie.”

Vir net 4% ?!?!

Dis weer daardie tyd van die jaar, al die pad afdraend na die einde van die jaar se kant toe. Teen ‘n ongemaklike spoed met alles wat gedoen en afgehandel moet word. Met Eksamen vir menige kind en student wat soos ‘n berg voorlê… vir sommige ouers amper erger as vir die kind self. Ek het die stukkie gaan afstof wat ek 2 jaar terug geskryf het en net weer besef, soms is help nie help nie. Soms is ons begeerte om in beheer te wees van alles en almal nie net ongesond nie, maar ook skadelik.

Ek het albei my girls in graad 4 gehelp leer, gehelp opsom, gevra, weer gevra… maar geleidelik soos die jare aanstap het ek die leisels so stelselmatig laat verslap en uiteindelik laat gaan.

Ek is beslis ‘n helikopter mamma- ons mammas wat hou daarvan om te ‘hover’. Dit klink soos volg: Is jy al klaar geleer? Nee, ek dink nie so nie! Bring jou boek dat ek kan sien! Het jy die werkboek ook deurgegaan? Hoeveel keer het jy alles deur gegaan? Ek dink nie jy het genoeg geleer nie!  Sien jy al die!?!?!?!? Nou as jy jouself in die gesprek kan sien en identifiseer, dan kan jy die self-diagnose maak van ‘n helikopter mamma… ek weet jy weet eintlik baie mooi waarvan ek praat… Continue reading “Vir net 4% ?!?!”