
As jy met jou lewensverhaal die ruimte van die liefde van God binnegaan, staan daar op die deur van die ruimte: “Vrees verbode!”. (Karl Barth)
Ek is die anderdag alleen by die huis, ek hoor iets, ek sien Grietjie, die dowe, kan net deur een ogie sien Jack Russell, sit kiertsregop. Maar niks… paar minute later hoor ek weer iets en ek loop na die oop voordeur om net seker te maak als is wel.
Met die omdraai-slag sien ek die oorsaak van die geluid. ‘n Bevreesde baba Mossie het sy rigting verloor en in die huis in gevlieg. Nou kyk ek is baie lief vir alle diertjies en dingetjies, maar ‘n geveerde vriendjie, hulle lê besonders naby aan my hart. Nou wil ek die ou dingetjie vang voor hy hom disnis teen die venster vlieg, wat ek vermoed die oorsaak was van die eerste twee harde geluide.
Hande viervoet kruip ek rond, en nogals met min moeite kry ek vir Mossie beet… en toe Mossie veilig is in my mensehand, kan ek die ou hartjie voel klop. Ai siestog, ek lyk nie soos sy ma nie, vere het ek nie, ek is beslis effe groter as sy ma, so ek kan die wildkloppende hartjie heeltemal vestaan.
En terwyl ek deur toe stap met Mossie in my hand toegevou, soen ek hom op sy koppie en sê: “Dis okay, jy hoef nie bang te wees nie…”, maar ek vermoed hy verstaan dit nie mooi nie, en in voël taal het dit dalk soos ‘n dreigement geklink, want hy wriemel hom los uit my hand, en ek maak my hand oop en laat hom wegvlieg, want ek wil hom verseker nie seermaak nie!
Probleem is, hy is nog binne, nie buite nie. Ek maak toe maar alles oop dat hy ‘n oop pad buitentoe het, nie lank nie toe kry hy rigting buite toe. En agterna wonder ek oor die Mossie, wat ‘n paar keer in die Woord genoem word!
En ek kom op die oorbekende versie van die Mossie af: “Word twee mossies nie vir ‘n assarius verkoop nie? En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie. En julle- selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dan nie bang wees nie-julle is meer werd as baie mossies.” (Matt. 10:29-31 [2020])
En toe wonder ek: Hoekom sal mens ‘n mossie wou gekoop het in die Bybelse tyd… om wat mee te maak? Wel dit wil my voorkom die armste van die armstes het die mossies geëet, en as jy nie ‘n duif of groter dier kon bekostig nie, kon jy die Mossie gebruik as ‘n reinigings offer na bv. ‘n geboorte. Een is geoffer, die ander ene is vrygelaat. So miskien het Mossie rede om bang te wees…
‘n Mossie is mos ‘n alledaagse voëltjie, en daar is nie ‘n tekort aan hulle nie. Hulle kom sommer oral voor. Miskien is hulle so algemeen dat ons hulle skaars raaksien! Daar is nog ‘n versie waar ‘n Mossie genoem word: My hele wese verlang, ja, smag na die voorhowe van die HERE; my hart en liggaam roep uit na die lewende God. Selfs ‘n mossie vind ‘n tuiste…by U altare, HERE, Heerser oor alle magte, my Koning en my God. (Ps. 84:3-4[2020])
‘n Mossie, ‘n doodgewone standvoël, ordinêr, buin, onopvallend… vind ‘n tuiste by U altare. Miskien sê hierdie versie juis, jy is welkom, kom gerus binne… al is jy doodgewoon, net nog een van vele, vir God is jy spesiaal, anders, mooi, besonders.
Met die Mossie in my huis en ‘n paar sekondes in my hand, dink ek, is ons nie soms ook so nie? Vlieg ons nie by die troonkamer in nie, laat selfs God toe om ons vir ‘n sekonde vas te hou, selfs ‘n vinnige soen op die voorkop, maar dan por die gejaagdheid van die lewe ons aan, om weer iets te doen. Wriemel ons los uit die magtige regterhand van die Vader… met ‘n vinnige: “God sien U later, daai probleem waarvan ek U vertel het… ek dink ek het die oplossing, ek gaan weer probeer.” En in ons haastigheid vlieg ons ook soms in vensters vas om net uit of in te kom, selfs soms weg te kom…
Is ons ook soos Mossie vreesbevange bang, klop ons hartjies ook woes, soms van angs, soms vrees, soms bekommernis… of soms is ons sommer net moeg… moedeloos moeg. Maar plaas van die magtige regterhand van God vastegryp en nie te laat los nie, sukkel-struikel ek en jy op ons eie aan.
Dit is net menslik dat jy soms bang sal word, al is jy ‘n Christen, maar jou angs is getemper omdat jy weet dat God by jou is, dat jy, ook te midde van jou vrees, deur God se liefde omsluit word. (Nina Smit)
Ek glo God het nie verniet vir my en jou ‘n verbeelding gegee nie, so as jy weer angstig en moedeloos voel, sien hoe jy by God se troonkamer invlieg en jou veilig gaan toewikkel in Sy hand. Waar daar vrede is, waar jy veilig is. Jy is nooit alleen nie, God is naby.
My diepste wese is aan U verknog, u regterhand ondersteun my. (Ps. 63:9 [2020]) Neem ek die vlerke van die daeraad, gaan woon ek by die see; ook daar sal U hand my lei, U regterhand my vashou. (Ps. 139:9-10 [2020]) U wys my die pad van die lewe: oorvloedige vreugde in U teenwoordigheid, lieflikhede in U regterhand, vir altyd. (Ps. 16:11 [2020]) Wys my die wonders van U troue liefde, Verlosser van hulle wat teen teenstanders skuiling soek by U regterhand. (Ps. 17:7 [2020])
Die dag wanneer ek bang is, vertrou ek op U. (Ps. 56:4) Dis ‘n kies, ek wat kies… vertroue bo bang en vrees. Wat kies om nie holderstebolder weg te vlieg nie, maar knus en veilig te bly naby die hart van die Vader. Veilig in Sy hand…
Ek los jou vandag met hierdie kosbare vers uit: The Passion Translation. Psalm 93:1
Look! YAHWEH now reighns as King! He has covered himself with majesty and strength, wearing them as his splendor-garments. Regal power surrounds him as he sits securely on his throne. He’s in charge of it all…


(opgedra aan Joe)