Die Belangrikste Eksamen OOIT…

Daar is ‘n versie wat sê jy moenie jou kinders moedeloos maak nie, ek dink die versie is seker vir my geskryf of dan ten minste vir my bedoel. En vaders, (en defnitief ek ook) moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig  word nie. (Ef. 6:4)

Die anderdag gesels ek en kleinsus  oor die druk wat mens onwetend op jouself sit, prestasie en al daai gesprekkies wat ons deurlopend met ons kindertjies moet hê en ek sê vir haar: “Sussie, ons moet net altyd fokus en onthou wat die belangrikste eksamen ooit in ons lewe is!”, en sy kyk my so aan en sê vir my: “Mamma, moet net nie weer kom met die hemel ding nie!” Ek moes lag… sien moedeloos die kinders van my… ek sê toe vir haar ek wou eintlik gesê het Graad 11 se eindeksamen, dis die belangrikste eksamen ooit. Ek moes toe maar lag vir die ernstige gesiggie voor my.

Die gesprek laat my toe wonder, is hemel toe gaan ‘n belangrike eksamen wat ons moet deurkom? Is dit ‘n eksamen wat deurgekom moet word? Is dit ‘n eksamen wat geskryf word, is dit ‘n deurlopende evaluasie, of hoe werk dit presies hierdie belangrike eksamen aan die einde van ons lewe? Alles kom toe maar weereens terug na genade.

Vriendin, dis eintlik lagwekkend maklik om in die hemel te kom. Dis eintlik nie moeilik nie, dis nie ‘n eksamen wat jy eers hoef voor voor te berei nie. Jy hoef nie ‘n A te kry nie, daar is nie verskillende vakke en afdelings om deur te kom en die uiteinde is die hemel nie. Dis net geloof, net dit…

Dit is regtig so eenvoudig. Jesus sê: Ek is die WEG en die WAAREID en die LEWE, niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (Joh. 14:6) Dis jou krip-note, dis al wat jy nodig het. Want waaroor gaan dit? Dit gaan oor geloof en genade. So as jy glo met jou hele hart dat Jesus jou Verlosser is, dat Hy aan die kruis gesterf het vir jóú sonde, raai wat dan gaan jy hemel toe… dit kan mos onmoontlik nie so maklik wees nie… of kan dit?

Ek wil vandag vir jou sê dit is so eenvoudig. Dan kan ons onsself defnitief afvra: Hoekom moet ek dan goeie goed teenoor ander doen? Is geloof en genade dan nie genoeg nie. As goeie werke ons nie in die hemel gaan bring nie, hoekom moet ons dit dan doen? Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade. (Jak. 2:18) Want geloof sonder doen is ‘n geloof wat iewers langs die pad skipbreuk gely het. Jou dade en doen bevestig dit wat jy glo.

Ag my liewe vriendin, maar eintlik doen ons dit omdat ons dankbaar is vir Iemand wat bereid was om in my en jou plek aan ‘n growwe houtkruis te sterf. Ons is dankbaar vir ‘n God wat vir ons omgee. ‘n God wat altyd goed is in alles en alle omstandighede. Dis waar die goeie werke vandaan kom… Al wat van belang is, is geloof wat deur liefde tot dade oorgaan. (Gal. 5:6)

Ons doen nie goed aan ander en vir ander om gesien te word, om die eer te ontvang, of op die skouer te geklop te word nie, ek en jy doen goed aan ander omdat dit is wat ons hart WIL doen, nie moet nie, WIL. Dis ook maar telkemale die Gees van God in ons wat ons aanmoedig om hierdie goeie aan ander te doen.

Ek is ook die eerste een om rondborstig te erken dat ek nie altyd gehoorsaam is aan die opdrag  nie. Soms sê Heilige Gees dat ek iets moet doen, ek weet dis Hy want ek kry altyd hartkloppings, en soms doen ek dit eenvoudig nie. ‘n Houding en woord wat sê: “Nope, not doing that!” En sonder verwyl is ek na die tyd teleurgesteld dat ek nie maar geluister het nie. Vrees is by my die aanmoediger om nie te doen wat ek eintlik moet doen nie! Weet jy wat, die ongehoorsaamheid en opdragte ignoreer uit die hemel uit, nie eers dit gaan my uit die hemel uit hou nie.

Die vraag wat ek en jy dalk aan die einde van elke dag aan onsselwers moet vra is: Het ander vandag Jesus in my doen en late gesien, het hulle ‘n stukkie van Jesus se hart vandag beleef? Dan my liewe vriendin doen ek en jy reg, doen ons goed.

Dis ook nie ‘n geval van vandag is ek ongered, vanaand gee ek genadiglik my hart aan die Here en môre kan almal Jesus in my sien nie. Nee, dis ‘n groei proses. ‘n Deurlopende leer en loop met God, hand aan hand. Dis ‘n bewuswording van God se hart vir jou en die wêreld. Dis ‘n deurlopende soek na Sy wil, gryp na Sy genade elke dag.

So vriendin my vraag vanoggend aan jou en sommer ‘n in-check met self, as jy of dalk ek vandag onwetend voor ‘n bewegende bus inloop, waar gaan ons , ons ogies oopmaak? Gaan dit in die veilige arms van ons Here Jesus wees? Die alternatief gaan ek nie eers noem nie.

As jy dan in Sy liefdevolle oë in kyk en Hy vra: “Hoekom moet ek jou in my Hemelse tuiste toelaat?” Dan struikel jy nie oor jou woorde en probeer verduidelik wat jy als op die aarde reg gedoen het nie, nee jy kyk in Sy liefdevolle oë en jy sê: “Ek het U nog altyd liefgehad, U genade aan die kruis is vir my genoeg, Ek glo in U, ek glo aan die hang aan ‘n kruis vir my sonde… dankie my liefste Jesus…”

One Reply to “Die Belangrikste Eksamen OOIT…”

  1. Baie dankie Martha dat jy opnuut daardie versekering met ons gedeel het dat dit net geloof en genade is wat ons red.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *