Loop Lig, Trap Versigtig.

Foto Krediet: Joe-Marie Botha

Ek moes verlede jaar vir kleinsus help om ‘n ATKV redenaars stukkie te skryf oor voetspore, nou kyk, soveel soos wat ek hou van skryf is dit nou een ding wat ek nie van hou nie, en ook nie baie goed in is nie. Ek dink dit het iets te doen met die feit dat ek namens kleinsus moet redeneer en iemand oortuig van ‘n punt waarin ek miskien self nie so ernstig oor voel nie. Wat en hoe redeneer mens nou ook oor voetspore vra ek vir jou met trane in my oë? So, die eindproduk lyk toe meer soos ‘n blog inskrywing as ‘n oortuigende wen-argument. In my wese vermy ek argumente en redenasies soos die pes, seker die dat ek so min van die hele redenaars besigheid hou. Ek moet erken, dit was toe darem nie so sleg om die redenaars te skryf nie, ek het ten minste darem ook ietsie geleer.

Ek en jy vat min tot geen tyd om soms bietjie terug te draai, en met nabetraging te kyk na die voetspore wat ons laat oor ander se harte. Soms probeer ons die resies van die lewe net voltooi en vergeet soms van die voetspore wat ons agterlaat. Hoe lyk die voetspore wat ek en jy agterlaat?  Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg. (1 Kor. 11:1) Volg ek en jy in Jesus se voetspore, is ons voetspore genadige, liefdevolle spore, of is dit ‘n bloederige, modderige besigheid wat geen gyselaars neem nie?

Soms los mense sonder toestemming die vuilste, modderigste voetspore denkbaar op jou hart. Woorde wat gespreek word in die hitte van die oomblik: nie goed deurdinkte woorde nie maar woorde wat uit die mond marsjeer soos vasberade soldate op ‘n oorlogspad. Woorde wat stukkend maak en geen snars omgee vir mense se gevoelens en emosies nie. Ek vermoed modderspore wat kruis en dwars op jou hart kom lê is defnitief diep spore wat mens eerder so gou as moontlik wil vergeet en heel waarskynlik die persoon wat dit daar agter gelaat het ook.

Soms laat ek en jy diep spore in die sneeu. Die spore word sommer vinnig deur vars sneeu toegevee, dit bly nie noodwendig in jou hart vasgevang nie, beslis ‘n skoner voetspoor as ‘n modderspoor, maar nie regtig betekenisvol nie dis maar net nog ‘n spoor. Spore wat kom en gaan. Is dit hoe jou spoor lyk? Onindrukwekkend, net daar. Dis moeilik om voetspore in die sneeu te vind en te volg wanneer dit eers weer gesneeu het.

Spore wat met liefde gemaak word deur mense wat vir jou omgee, mense wat jou liefhet net soos jy is. Ek noem hulle sommer lig-trap-onthou-spore. Lig spore wat sê: jy kan dit doen, ek glo in jou. Spore wat getuig van ‘n diep omgee uit die hart en siel. Onthou-spore dis die spore wat ek die heel graagste in jou hart wil agterlaat. Spore wat jy kan onthou en aan terug dink met ‘n dankbare hart, die spore in ons harte vorm die mens wat ek en jy vandag, maar veral môre sal wees.

Hoe gaan die voetspoor lyk wat jy agterlaat in die sand van tyd? Weet jy hoe los ‘n mens mooi en duidelike voetspore? Jy volg elke dag in die voetspore van Jesus. Hy, ons Leermeester en by Hom kan ons die beste leer hoe om te leef, hoe jou voetspore behoort te lyk en hoe hulle liefs nie moet lyk nie. Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van Hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!” (Jes. 52:7)

Hoe lyk die voetspore wat jy daagliks op mense se harte los liewe vriendin. Is dit mooi spore, die moeite-werd-spore, onthou spore? Is dit loop lig, trap versigtig, kyk waar jy loop… spore?

Onthou jy van die een ry spore in die sand?

Voetspore. 

Een nag het ek ‘n droom gehad.

Ek het gedroom dat ek op die strand loop

En gebeure uit my verlede het voor my afgespeel.

In elke toneel het ek twee rye

Voetspore in die sand gesien;

myne en die Here sin.

Toe die laaste toneel voor my afspeel,

het ek teruggekyk na die voetspore in die sand

en merk toe op dat daar soms net een ry spore was.

Dit was telkens gedurende die eensaamste

En droewigste tye in my lewe!

Dit het my gehinder en ek het gevra:

“Here,toe ek begin het om U te volg, het

U beloof dat U my nooit in die steek sal laat nie.

Hoekom was daar dan net een ry spore gedurende

Daardie moeilike tye in my lewe?

Ek kan nie verstaan waarom U,

in die tye wat ek dit die nodigste gehad het,

My verlaat het nie.”

Die Here het geantwoord: “My liewe kind!

Ek het jou lief en sal jou nooit verlaat nie.

Die tye wat jy net een ry spore gesien het,

Was die tye toe Ek jou gedra het.”

                                                          ~Mary Stevenson

 

 

2 Replies to “Loop Lig, Trap Versigtig.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *