‘n Wonderwerk in die tru-spieëltjie.

Ek glo aan wonderwerke! Grotes, kleintjies, onsigbare en sigbare wonderwerke. Soms mis ons die GROOT wonderwerke in ons lewens, die lewensveranderde beantwoording van gebede. Ons mis die grotes reg onder ons neuse, want ons is so besig met die lewe dat ons ophou kyk vir die wonderwerke.

Ek was 18 jaar oud, op Universiteit, stoksiel alleen, depressief en huissiek. Ek het na my ma verlang en wou net huistoe gaan. In my dagboek inskrywing vir 23/05/1996 skryf ek die volgende:  Dis seker simpel, maar Jesus ek wil só graag iemand hê wat omgee vir my ten spyte van my reguit-geit. (My ouma het hoeka altyd gesê ek moet ophou om ‘n graaf ‘n graaf te noem!) Jesus, sal U asseblief iemand stuur wat nie rook of drink nie? Here ek vra nie vir ‘n foutlose ou nie, net iemand wat U ook ken.

Ek het jare later eers besef watter “tall order” dit was… want onder die studente in Bloemfontein was daar nie juis baie wat aan die vereistes sou kon voldoen nie, miskien een! Nietemin ons dien ‘n groot God! Ek en Jannie was al meer as 10 jaar getroud toe ek eendag weer my dagboek nader trek, sommer uit pure nostalgie. Wat ek daar gesien het, het my oë laat rek en my gevul met ‘n diepe besef van Vader se omgee hart wanneer Sy kinders Hom die nodigste het.

Twee bladsye verder op 9/06/1996 het ek die volgende dagboek inskrywing gemaak: Jesus, ek het intussen vir Jannie ontmoet, en Jesus hy is vreeslik oulik en hy het sommer klaar erken hy is ‘n Christen. Dit maak my sommer nóg liewer vir hom. (Miskien verliewer en nie nou al lief nie.)

Dit was 17 dae, net 17 dae nadat ek by God gepleit het vir ‘n maat dat ek my lewensmaat ontmoet het, op ‘n plek wat ek ook nie sou gewees het as my liewe sussie nie daarop aangedring het dat ons by die Scholtz saal moet gaan sokkie nie. God het my gebed tot op die letter beantwoord. Hy het nie gerook nie, ook nie gedrink nie. Hy het reeds aan Hom behoort vir wie ek die liefste was, en bowenal het hy my aanvaar net soos ek is…met my reguit-geit en al en God het sy oë geopen en hy het my herken! Ek sou die een wees met wie hy trou.

Ons is getroud op 25 September 1999, die jaar raak ons huwelik mondig! ‘n Onvergeetlike reis saam met ‘n man na God se hart. Ek sê elke dag dankie vir die wonderwerk in my lewe.

“Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie.” (Mark. 10:9)

 

4 Replies to “‘n Wonderwerk in die tru-spieëltjie.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *