Die Appel van Sy Oog.

As iemand vinnig vir jou moet vra: wie is jou gunsteling kind? Gits moet nou net nie hardop uitskree as jou kids naby is nie. Hier is beslis ‘n regte en ‘n verkeerde antwoord. Ek hoop die antwoord is dat jy ewe lief is vir al 2 tot 5 kindertjies wat God aan jou toevertrou het. Onomwonde wil ek vanoggend vir jou sê: Jy my liewe vriendin in Jesus is die appel van God se oog. Wie ek, vra jy? Ja jy! En as dit nie vir jou so voel nie, voel ‘n bietjie oor. Want dit is nie ek wat so sê nie, maar God self.

Wat is jy anders my liewe vriendin as sy eie kind. (1 Joh. 3:1) God het nie gunstelinge nie, en daarom as ek sê jy is die appel van Sy oog dan kan jy my met die grootste liefde maar net glo. Hy beskerm jou soos die appel van Sy oog, Hy steek jou weg in die skaduwee van Sy vleuels. (Ps. 17:8)

Wie aan julle vat, vat aan My oogappel. (Sag. 2:8) Sien jy God se liefde vir jou in die verise? Hy sê: Vat aan haar en jy vat aan My, die God van die hemel en die aarde. Jou Pa staan vir jou op, tree vir jou in die bresse. Dis nie’n leë dreigement nie! Dis ‘n belofte.

God het nie witbroodjies nie, Hy trek niemand voor nie. (Rom. 2:11) Dis ‘n genade-ding, en dit is hoekom ons partykeer dink ander word voorgetrek. Ons verstaan nie God se genade nie. Dis amper vir ons onmoontlik om te verstaan dat God nie gunstelinge het nie. Net soos ek en jy nie ‘n gunsteling kind het nie… net so het God nie ‘n geheime lysie met al sy gunstelinge op nie.

Weet jy wat ek en jy is soms so gedetermineerd om te glo dat ons nie God se oogappels is nie, dat ons soms heel tevrede is met die krummels wat van ander se tafels afval. Klein brokkies getuienis wat ons hoor so terloops iewers deur die loop van ons gejaagde dae. ‘n Mooi opbouende liedjie op die radio. ‘n Versie wat ‘n vriendin aanstuur.’n Post op Facebook. Dan probeer ons vervaard aan die oorskiet vashou en oorleef daarmee. Oorleef in ‘n wêreld wat kop onderstebo, gat oor kop is op die oomblik.

Ek en jy moet en hoef nie tevrede te wees met tweede beste nie. Ek en jy is ‘n dogter van die Koning. Die Here omhels jou, vertroetel en versorg jou, want jy IS die appel van Sy oog. (Deut. 32:10) Jy is dit klaar… daar is nie ‘n lysie van voorvereistes waaraan jy eers moet voldoen nie. Net soos jy daar sit, wie jy nou is in en op hierdie oomblik.

Soms as ons met ‘n groenerige gelaatskleur na die sussie in Jesus langs ons loer en ons wonder, hoekom word sy so geseën en ek nie? Dan glo jy nog nie dat God vir al Sy kinders ewe lief het nie, maar een ding moet jy verstaan sommige sussies in Jesus spandeer baie tyd in die troonkamer. Hulle glo nie aan die krummels en oorksiet nie, hulle gaan by die troonkamer in, ongehinderd. Soms sommer so in die ry werk toe, of met die stryk van die wasgoed, of in die ry van Pick ‘n Pay gesels hulle so stilletjies met Hom. Want hulle het ‘n lewendige verhouding met hul Pa in die hemel, en ons moet dit nie verwar met voortrek nie. Hulle leef so naby aan God se hart dat daar ‘n bietjie glans van God aan hulle voorkoms vassit. Dis vir almal beskore, hierdie bietjie glans uit die hemel. Vir jou en vir my, want ons het almal vrye toegang tot die Vader deur die bloed van Jesus.

Hoor die vandag, skryf dit op jou hart: God se liefde vir jou bedek alles, hoop alles, verdra alles. Sy liefde is vriendelik, geduldig en die waarheid. (1 Kor. 13:4-7) Hy wil hê jy moet weet hoe wyd en ver en hoog en diep Sy liefde vir jou is. (Ef. 3:18) Sy liefde vir jou is onverstaanbaar groot. Dit kan nie eers gemeet word nie. Sy liefde vir jou reik tot in die wolke. (Ps. 36:6) God se goedheid en liefde beskerm jou soos ‘n skild. (Ps. 5:12-13)

For it is Christ’s love that fuels our passion and holds us tightly. (2 Cor. 5:14 TPT) ‘n Omsirkelende als-omvattende-onverstaanbare-onbeskryflike liefde. God is goed. Sy troue liefde vir my en jou het geen einde nie. (Ps. 107)

God se liefdesverklaring aan jou vanoggend, my liefste vriendin: Ek het jou nog altyd liefgehad. (Jer. 31:3) My liefde vir jou is perfek, heel, mooi maar ek verwag nie van jou om perfek te wees nie. Ek het vir JOU gesterf toe jy nog ‘n sondaar was. (Rom. 5:8) Ek het My liefde in jou hart uitgestort geliefde na aan My hart. Ek gee aan jou die Heilige Gees as bewys. (Rom. 5:5) My liefde vir jou is ‘n innige, genadige, nimmereindigende liefde. (Ef. 2:4-5) Ek beskerm jou soos die appel van My oog, Ek steek jou weg in die skaduwee van My vleuels, vir ewig en altyd… (Ps. 17:8)

 

 

3 Replies to “Die Appel van Sy Oog.”

  1. Dankie vriendin… Oooh eks excited om te weet “ek” 😜 is Sy favourite.. 🍏
    Dis so ‘n mooi boodskap.. 💕

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *