Nou wie eet nou ook ‘n olifant… sies man. Ja nee ek stem saam! Dis ‘n retoriese vraag. Ek het vir ousus gevra hoe mens ‘n olifant eet en sy het my aangekyk asof ek al my varke verloor het, die kluts skoon kwyt is… toe antwoord sy ewe versigtig… “met moeite en selfvertroue?” Nee, dis nie die antwoord nie sussie, jy eet ‘n olifant happie vir happie…
Kan ek die olifant ‘n naam gee? Oorweldig. Dit is nie die beste beskrywende Afrikaanse woord nie, maar nietemin. Dis die gevoel van weet nie of ek moet vat of los nie. Weet nie of ek kom of gaan nie. Wat moet ek eerste en wat kan bietjie wag. Bietjie vorentoe, bietjie agtertoe, maar niks word eintlik gedoen nie. Die gevoel tref ons almal een of ander tyd vol in die gesig, soms kuier oorweldig lank soms is dit net ‘n vinnige inloer.
Ons as mammas, vrouens het soveel balle om in die lug op te hou en te balanseer, en glo nou maar vir my dis ‘n balanseer toertjie van formaat… en dan so nou en dan t.s.v die Olifant in die kamer, gooi ons nog ‘n bal in die lug op… gits so asof daar nie reeds genoeg balle in die lug is nie.
As klein kindertjies het ons ‘n ballon speletjie gespeel, die speletjie: hou-die-ballon-ten-alle-tye-in-die-lug-maak-nie-saak-wat-nie. Sjoe die speletjie het soms woes en wild geraak soos jy oor die meubels spring-val om betyds by die ballon te kom. Gits, toe het ons gedink dis woes om een ballon in die lug te hou … look at us now!!
Ons moet begin balle teruggee en afgee. Ons moet dit minder maak tot dit daar is waar ons regtig vreugde, geluk en vrede ervaar. Al die balle in die lug is nie belangrik nie, die kind-bal, die huwelik-bal, geloof-bal, manlief-bal daardie balle is van glas gemaak en moet liefs nie laat val word nie. Die ander balle kan jy maar bietjie laat val soms, of laat hop, of eenkant toe stoot vir ‘n seisoen of twee. Verlaat maar ‘n whatsapp groepie of twee… jy weet waarvan ek praat? Miskien kry ons vinniger so daai olifant by die deur uit. Wie weet?
Hoe lyk jou prioriteits lysie. Wie is op, wie is af? Wie kan wag? Wat moet nou? Wat kan later? My man is oulik met dit, hy neem alle besluite volgens sy prioriteitslysie, wanneer sy niks-boksie toe is en sy prioriteits-lysie-boksie oop is dan hardloop hy hom so van bo af deur. God. Ekke. (whoop whoop) Girls. Familie. Hy laat dit altyd maklik lyk. My prioriteits lysie lyk dieselfde, maar ai daar is altyd klomp emosies verstrengel in die eenvoudige lysie wat dit dan oor kompliseer.
Ons moet minder maak en begin nee sê, die hooi op die vurk so maak dat ons dit darem kan optel… Ek het ‘n paar reëls met myself, ek maak nie afsprake vir enige iets in die middag nie. Ek woon nie seminare, Zoom sessies in die middae of aand by nie. Dis ‘n resep vir chaos, as ek dit nie voor die eerste skool klok lui kan inpas nie. Gebeur dit net nie. Jy gaan nooit die olifant opgeëet kry en minder oorweldig voel as jy die ding die heeltyd voer en groter maak nie. En dan praat ek nie eers van die cholesterol nie!
Weet jy watter bal skop ons eerste tussen die pale deur. Die bal gemerk Ek. Ons skeep daai bal af, gee die minste om vir daai pragtige bal. Ons dink ons kan bal-in-die-lug-ophouers wees van formaat, maar ons kyk nie na ons selwers nie. Nie na ons gesondheid nie. Na wat vir ons belangrik, lekker en nodig is nie. Ek en jy jaag almal se geluk na en vergeet dan skoon van onselwers. Ek praat nie van girls night out, of naweke weg van alles en almal af nie. As dit jou ding is… doen dit, reël dit. Ek praat van tyd vir batterye laai, mooi musiek, ‘n nuwe haarstyl, ‘n nuwe parfum. Ietsie moois, ietsie lekkers.
Vanoggend staan en kyk ek vir my en die girls se kalender teen die muur en ai, my moed val summier sommer tot diep in my skoene. Want daar is baie inskrywings en min ure… maar jy weet mos kinders het hierdie wysheid in pag en ek onthou wat ousus vroeër die week vir haarself en vir my gesê het. “Jy is okay, vat net een dag op ‘n slag, dan lyk dinge klaar meer doenbaar.” Laat my dink aan die liedjie: One day at a time.
Soms is dit nodig om jouself op die skouer te klop, ‘n malva in jou hoed te steek en te besef, jy doen nie te sleg nie. Almal leef en oorleef darem nog. As jy jou beste gegee het, is dit mos genoeg? Hoe kan ‘n mens se beste nie genoeg wees nie? Beste is die oortreffende trap. Goed, beter, beste. Daar is niks na beste nie!
Mag díe die versugting en gebed van my en jou hart wees: “Whenever my busy thoughts were out of control the soothing comfort of your presence calmed me down and overwhelmed me with delight. (Ps 94:19 TPT) I spill out my heart to you and tell you all my troubles. For when I was desperate, overwhelmed, and about to give up, you were the only one there to help. (Ps. 142:2-3 TPT) When I’m feeble and overwhelmed by life, guide me into your glory, where I am safe and sheltered. (Ps. 61:2 TPT) May everyone who knows your mercy keep putting their trust in you, for they can count on you for help not matter what. O Lord, you will never, no never, neglect those who come to you. (Ps. 9:10 TPT) Amen!”
Baie dankie vir die rigting.
God is by diegene wat met geduld volhard. (Arabiese spreekwoord)
Baie dankie vir die balle-in-die-lug boodskap. Dit klits die bal raak vir al ons besige mammas!
Toe God ma’s uitgedink het, moes Hy van tevredenheid gelag het, so ryk, so diep, so goddelik, so kragtig so sielvol en mooi was die idee. (Henry Ward Beecher)
Dankie Martha. Hoe ouer mens word, hoe moeiliker raak dit om dasrfie balle op te hou. Liefde.
Ek glo dit goed tannie Dalene!