“Heilig, heilige, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom. Here, ons God, my God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur U wil het alles ontstaan en is dit geskep.” (Openb. 4:8,11)
Here, tye soos nou, wanneer die wêreld ‘n vyandige plek is, tye van vrees en onsekerheid, dis tye soos dié dat ek net U goedheid en vrede wil in adem, tot ek tot oorlopens toe vol is van U teenwoordigheid en liefde. Here, wat ek met onsekere treë U troonkamer ongesiens wil inkruip net om te wees, naby aan U hart te wees…
Here ek wil net nabyerig aan U wees, ek wil bedaar en erken dat U God is, hoog bo die nasies en hoog bo die aarde. (Ps. 46:11) Ek wil tot rus kom daar naby U, want ek weet dat ek weet my krag lê in stil wees en vertroue. (Jes. 30:15) Ek wil volkome op u vertrou. (Spr. 3:5) Here, ek wil nie meer onsteld wees en voel nie, ek wil net glo… en vashou aan U. (Joh. 14:1)
Here U is in U heilige tempel! U is op U troon in die hemel! U oë is oop en op my… (Ps. 11:4) U is vir my en nie teen my nie. (Rom.8:31) U wink my nader, en ek loop nader, onseker en skaam gaan sit ek by U voete. Gaan sit ek voor u troon van genade! As ek U hemel aanskou, die werk van U vingers, die maan en die sterre waaraan U plek gegee het, wat is die mens, wie is ek, dat U aan my dink, ons dink, die mensekind dat U na ons omsien ten spyte van? (Ps. 8:4)
By U voete is daar hemelse rus en vrede, (Ps. 23:2) ‘n vrede wat my mensehart omvou en verswelg, ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan. (Filip. 4:7) Here U is naby, U is hier… (Filip. 4:5) U kom en vervang my bang en vrees met liefde. (2 Tim. 1:7) Onverklaarbare Goddelike liefde. U majesteit en wonder vul my onrustige siel.
Here laat my toe om op U skoot te klim, sodat ek met my oor teen U bors kan sit. Veilig toegevou onder die vleuels van die Allerhoogste. U Pappa is my toevlug en my veilige vesting, die EEN op wie ek alleenlik vertrou. (Ps. 91) Here ek wil U gerustellende teenwoordigheid fisies ervaar. Ek wil op U skoot sit soos ‘n klein dogtertjie op haar Pappa se skoot sit as sy bang en onseker voel oor ‘n groot en wrede wêreld wat sy nie mooi verstaan nie.
Here ek wil net stil sit by U, ek wil niks vra nie, ek wil niks sê nie… ek wil net wees in U teenwoordigheid tot U genade die verlatenste hoekie van my hart vul, tot ‘n liefde soos olie oor my kop en gesig drip. My hart sien, my siel luister, my gees ontvang U goedheid en guns.
Die Lam wat geslag was, is waardig, o God U is waardig en ek is klein en nietig, niks Here, maar U God is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang. Aan U wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid. (Openb. 5:12-13)
U is El Gibbor, die Almagtige God, my God. Here in my nietigheid kniel ek voor U as die Koning van my hart en my lewe. Ek lewe in totale afhanklikheid van U, U is my alles. Uit U en deur U en tot U is alle dinge. Aan U behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen… (Rom. 11:36)
“Heilig, heilige, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom. Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur U wil het alles ontstaan en is dit geskep.” (Openb. 4:8,11)
Abba, gee U om as ek net nog ‘n rukkie langer vertoef?
Amen🙏🏻
Hoe ongelooflik is dit om by die Here as pappa se voete te kan sit. Stil en met geloof en vertroue. Te weet ek is nie alleen in hierdie onseker tye nie. Prys die Here se heilige naam
Baie dankie vir die pragtige boodskap.
Amen! Hy is ‘n goeie goeie Vader!
Dit was/is nou WOW, dankie Martha!!! Gaan dit weer moet lees … x.
Ware aanbidding lewer ‘n veranderde lewe op terwyl dit die Een weerspieël wat aanbid word. (Henry T en R Blackaby)