Ons Reëls.

As daar een ding is wat nie te sleg is van ouerskap nie is dit die feit dat jy die reëls kan opmaak, bysit, wegvat, verbuig soos jy gaan. Is dit nie lekker nie? Arme ousus, alle reëls word mos op die oudstes en eerstes uitgetoets en vervolmaak. Wanneer al die ander kids volg het jy al helfte van jou baie reëls skoon vergeet! Nietemin vir my is die belangrikste reëls die ons reëls, reëls wat niks te doene het met moets en moenies nie. Wat jy mag doen of nie doen en wanneer en waar nie!

Dis die nie-geskrewe reëls, dis die harts-reëls!

Ons huis is meer  as net die fisiese adres, ons huis is die mense wat in die huis bly of dit hier of in die Noordpool is.  In  hierdie mense-huis, tussen ons is jy veilig, is jou gevoelens en menswees veilig. Hier tussen jou hartsmense kan jy jou batterye vollaai en net jouself wees. ‘n ‘You do you and I’ll do me’, motto.

In hierdie gesin dra ons mekaar se laste, huil ons op mekaar se skouers. Ons help mekaar op, hou mekaar bo. Hier bid ons vir mekaar aanhoudend, sonder ophou. Niemand hoef hier in stilte en alleen te ly nie. Jy is nie swaar nie, jy is my man, dogter, sussie, vrou, boetie… brakkie. Spanwerk, almal vir een en een vir almal. Wanneer een seerkry of val op die lewenspad, dan voel ons almal dit aan ons harte en lywe.

In ons huis het ons onvoorwaardelik lief, ten spyte van, ter wille van. Respekteer ons mekaar en praat met mekaar asof ons die ander een lief het en besef die ander persoon het ook ‘n hart wat moontlik kan breek. Daar kom tye, natuurlik soos in elke gesin, dat ons nie so baie van mekaar hou nie, maar ons is altyd maar altyd lief vir mekaar. Die tye van minder-hou, maar darem nog lief oomblikke duur darem mos nie vir ewig nie?

Soms kuier daar ‘n gesinslid op moedverloor se vlakte, en al hou ons nie daarvan nie, gaan sit ons in ‘n kringetjie om daai moedelose gesinslid, en ons kuier saam en praat moed in en stof die moedeloosheid af tot almal weer reg en gereed is om die lewe vierkantig in die oë te kyk.

In ons huis is daar nie plek vir die groen-eenoog-monster nie. Hier vier ons mekaar se suksesse, deel ons high-fives en prys in oorvloed uit. Gebruik ons frases soos… ek is trots op jou… ek het nog altyd geweet jy kan dit doen… Hier kan almal iets goed doen, in iets goed wees, want ons is mos nie dieselfde nie.

Soms maak jy op grootskaal droog, siende dat niemand perfek is nie, is dit okay. Regtig! Onthou net om reg te maak, om te sê jy is jammer. In hierdie huis vergewe ons mekaar 70×7 keer, omdat ons moet, nie omdat ons  altyd so voel nie. Dissipline in ons huis is nie regtig vir enige iemand lekker nie, maar in ons huis geskied dissipline met ‘n goeie dosis genade en ‘n knippie humor. Lag ontlont menige te ernstige situasie. Lesse wat geleer word waar genade betrokke is, is lesse wat vir jare daarna nog onthou word.

In ons huis maak tee en hot chololate baie en alle dinge reg. Van moegheid, hartseer en gevoelens wat ons oorweldig. Dis ook okay in hierdie huis om soms nie so heeltemal okay te voel nie. Solank jy net nie jou nie-okay gevoelens op ander uithaal nie. Jou kussing is ‘n goeie slaansak, jou mede-huisbewoners… not so much. (en dit sluit die kat en die hond in!)

Wanneer ons mekaar se spasies deel, mekaar se harte deel dan leef ons met die besef dat ons nie net ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar het nie, maar ook teenoor die mense buite ons kringetjie en die natuur. In ons huis is daar plek vir foute maak, oor-begin, tweede kanse en U-draaie. In ons huis huil ons saam, lag ons saam, droom ons saam.

Die belangrikste ons reël is: God het ons almal ewe lief… en jy beter optree asof jy lief gehê  word deur die God van die hemel en die aarde. God het ons almal geskape, uniek, anders, mooi. Ons is nie per ongeluk a.g.v ‘n kosmiese gebeurtenis bymekaar gevoeg, uit ‘n hoed getrek nie, nee dit was nog altyd God se perfekte plan dat ons viertjies na mekaar moet omsien. Na mekaar sal kyk tot die dag wat Hy ons een vir een huis toe roep…