50+50=50

Wiskunde was beslis nie een van my sterk punte op skool nie. Nietemin dis hoe my kop en my som werk. As ek 50% gee vir ons huwelik en Jannie gee 50% dan het ons ‘n huwelik van 50%… niks minder en niks meer nie. Vir ‘n huwelik om 100% te werk moet jy en jou huweliksmaat albei 100% gee. Jy moet jou alles gee en jou maat se belange en behoeftes voor jou eie stel… dis hoe ‘n huwelik werk.

Kom ek vertel jou wat het ‘n paar jaar van getroude lewe my geleer het. Jy kan nie die Heilige Gees vir jou man wees nie. Ek het probeer en dit het nie gewerk nie. God het op ‘n stadium vir my gesê-vra: “Sussie gaan jy nou bietjie opsy staan dat Ek My werk in jou man se hart en lewe kan doen?”

Moenie namens God praat nie. God het vir manlief ‘n hart en ore gegee, ‘n brein en ‘n niks boksie ook.  God praat baie graag namens Homself, gits Hy is immers God. Wat kan jy dan doen as jy so bitter graag net ietsie kleins wil sê, net hom so klein bietjie in die regte rigting stoot, net so bietjie help? Dan bid jy vir hom, aanhoudend, sonder ophou. Onthou niks wat jy sê, dreigemente en raas gaan ooit jou man verander nie. God kan jou man verander, niemand en niks anders nie. Net God. So dit help nie jy raas en baklei met jou man daaroor nie, want is raas en baklei nie net mooi die teenoorgestelde van genade en liefde nie?  Nee jy praat met God daaroor.

Wat ek nog geleer het soos die jare aangestap het, my stap en wandel met God lyk heel anders as Jannie se pad. Ek is bv. mal daaroor om uit die The Passion Translation te lees. Ek kan liries raak oor hoe mooi en gevoelvol dit geskryf is, as ek dit vir Jannie lees dan is sy reaksie of: Ek verstaan nie heeltemal wat dit sê nie of ja dis bietjie te veel emosie vir my. Ek is ‘n emosiebelaaide vrou en hy is ‘n man. Daar is niks daarmee verkeerd nie. God het die man en vrou anders aanmekaar gesit… en dankie tog ook daarvoor, anders sou elke huishouding so oorlaai wees met hormone en emosies wat by al die deure en vensters uitpeul!

Wanneer jy jonk is kies jy jou lewensmaat, reg? Ek bedoel niemand het (hopenlik) ‘n geweer teen jou kop gedruk en gesê: Sê ja!! MAAR dan moet jy die een wat jy gekies het lief hê. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot ‘n volmaakte eenheid saambind. (Kol. 2:14) Kan ek jou ‘n geheim vertel? Lief hê is ‘n werkwoord, jy kan nie nou gaan loop terug sit en niks verder aan jou huwelik doen nie.  Dis harde werk.

Die huwelik bestaan uit drie dele: dis soos ‘n 2D driehoek. God aan die bo punt en julle tweetjies onder. Hoe nader julle aan mekaar groei hoe nader groei julle as ‘n eenheid nader aan God. Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat… (Matt. 19:5) Dis nie ‘n vierkant nie, so jammer om te sê daar is geen plek vir ma’s en skoonma’s in die driehoek nie.

As jy liewer is vir jou kids as wat jy vir jou man is, dan moet daar iewers in jou wese ‘n alarmpie afgaan. Jy en jou huweliksmaat is ‘n span. Wanneer hy verloor, verloor jy, verloor julle! Daar is ‘n rangorde in die huwelik. God, jou man en jy (want eintlik is julle mos een!) en dan die kindertjies. Die man is die hoof van die vrou soos Christus die hoof van die kerk is. (Ef. 5:23) Onthou hulle gaan eendag hulle eie driehoeke bou. Daar gaan nie plek wees vir jou in hulle driehoekies nie.

Ek wil ietsie sê oor wie die broek dra in die huis, dis so bietjie tong in die kies, maar eintlik ernstig ook in dieselfde asem. Daar is net een broek in die huis om te dra. Jy sal daai broek maar moet uittrek en teruggee aan hom. Jy is nie geskape om die broek te dra nie, en dis hoekom dit vir jou so swaar is om die broek te dra. Ek hoor jou, jou man stel nie belang in die broek dra nie. Het jy hom al kans gegee om die broek aan te pas? Te dra? Of het jy sommer net van dag 1 die broek gegryp en gesê: Gee tog net die ding, ek sal dit dra!

Ek hoor hoe die feminis in jou ‘retaliate’: Wat dan van hom! Ek kan mos nie van my kant af alles doen nie! Verandering begin by jou. Dink jy daar gaan geen reaksie wees as jy jou alles gee? Dink jy hy gaan dit nie agterkom, nie raaksien nie?

Weet jy wat ontstel my soms? Wanneer mans bespreek word deur hulle vrouens in die ry in Clicks, in die koffiewinkel. As jy na ‘n vriendin gaan en sê: bid saam met my vir my man en my huwelik. Yes!! Ek wil ook saambid. Maar as jy net jou vuil wasgoed was en jou man wil sleg sê, dan wil ek vir jou sê jou man weet dit dalk nie, maar die mannetjie met die horinkies maak ‘n bollemakiesie en doen ‘n oorwinnings dansie. Hy is mal oor die onmin en negatiwiteit in jou huwelik Nee, laat alles by jou in liefde geskied, (1 Kor. 16:14) ‘n vrou moet aan haar man eerbied betoon. (Ef. 5:33) Eerbied en skinder in ‘n huwelik is nie vennote nie.

Hoe lyk die liefde in ‘n huwelik? Die liefde is geduldig, vriendelik, die liefde verheug hom oor die waarheid, dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde is NIE afgunstig, grootpraterig, verwaand nie, dit handel nie onwelvoeglik nie en soek nie sy eie belang nie. (1 Kor. 13) Hoe lyk jou som my liewe vriendin in Jesus. Hoe lyk jou huwelik?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *