Vir die van julle wat nie weet nie, ek is een van ‘n nie-identiese tweeling. Jip nie ‘gecopy’ en ‘gepaste’ nie, maar twee individue wat heel toevallig ‘n uterus huisie gedeel het vir 9 maande.
Sjoe, daar is soveel voordele verbonde aan twee vir die prys van een! Dis soos om saam met jou beste vriendin gebore te word en dan so saam-saam deur die op en af’s van die lewe te loop. Dis heel handig om ‘n permanente vertroueling, vriendin, ‘n loop-jy-maar-voor maatjie te hê!
Natuurlik soos alles in die lewe is daar so klein nadeeltjie ook! Die twee in een besigheid steel bietjie jou dapper-wees en braafgeit. Miskien kry jy net 50% daarvan by geboorte. Ek weet nie! Dit steel soms selfs bietjie van jou identitiet, want sy en jy raak julle en mense noem julle sommer tweeling, so asof hulle nie lekker kan onthou wie is nou wie nie, nie dat ons so vreeslik na mekaar lyk nie, mind you!
Ek het seker hierdie ander-ek soms so bietjie misbruik, want ek het nie juis voor geloop in winkels of restaurante nie! Sy was daar en sy het voorgeloop. Ek was heel tevrede-gelukkig om te volg. Annamarie (ons het haar sommer Wielie genoem… lang storie) het meestal alles eerste gedoen. Monkey see, monkey do… dis nou ek die monkey! (Noudat ek daaraan dink, behalwe as ons moes tandarts toe gaan of inspuitings kry, dan het sy die kaart: jy is die oudste, jy gaan eerste gespeel.)
My gebed vir die afgelope paar maande, miskien heimlik al jare is: Maak my dapperder en brawer Here! As ek na funksies alleen moet gaan, mis ek haar die heel meeste, want dan moet ek voor loop, alleen loop. Ek hou nie baie daarvan nie, dis ver verwyderd van my gemaksone, maar in die braafheid en bietjie dapper wees kom groei, selfvertroue en selfliefde. In die braafheid van die alledaagsheid gebeur daar iets Goddeliks wanneer jy jouself ontdek en vind en God se droom vir jou lewe begin leef.
Met my oudste se geboorte het ek myself belowe: Vir jou maak ek groot met dapperheid en braafheid in jou hart inggeëts. Braafheid sonder arrogansie. Kleinsus is braaf gebore en het maar net in ousus se voetspore gevolg.
Ek het hulle laat redenaars praat en hulle geleer as jy voor die mense staan en vrees omsingel jou dan trek jy jou longe vol van YAHWEH, en jy prop in by die grootheid en krag van God. Jy sit jou denkbeeldige kroon op- want jy is mos die dogter van die Koning. Hulle het rympies opgesê, solo’s gesing en hulle was braaf. Ek was nog altyd so trots op hulle tweetjies wat my soveel van braaf wees en dapperheid geleer het.
Liewe mensekind naby aan My hart, Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, want Ek die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan. (Jos. 1:9) Wees dus sterk en hou goeie moed, jy wat jou vertroue in My stel. (Ps. 31:25) Saan vas, moenie moedeloos word nie, want jy sal die beloning vir jou optrede ontvang. (2 Kron. 15:7) Moenie bang wees nie, jy vir wie Ek so liefhet! Dit sal goed gaan met jou. Wees sterk! Wees sterk! (Dan. 10:19)
Braafheid en dapper wees kom van God en uit God. Dapper wees geskied nie altyd in die afwesigheid van bang en ongemaklik nie, dit gebeur telkemale in die teenwoordigheid van skietgebedjies en saggiese gesprekke met die EEN wat jou gemaak het. Dis deel van jou DNA, Sy braaf-bloed wat deur my en jou are vloei en bruis. WANT ek en jy is tot alles in staat want ons krag kom van binne af, van ‘God within me’…. (Filip. 4:13)
Ek bid vir braafheid om altyd die regte ding te doen, al is dit nie die maklike ding nie. Ek bid vir dapperheid dat God My ‘n groot maat daarvan sal gee dat ek sal kan gaan, vertel, getuig. Ek bid vir die moed om elke dag voluit te leef vir die EEN wat my gemaak het, om elke dag aan te gryp en waarlik te leef so asof dit dalk die laaste dag kan wees met die wete dat maak nie saak wat die omstandigheid is nie, dat ek waarlik en waaragtig nooit ooit alleen is nie. Die God van die heelal vat telkemale my hand en omsingel my met Engele, liefde en genade.
My gebed vir jou, my liefste vriendin, is dat God jou ‘n goeie maat braafheid en dapper-wees sal gee, dat jy Sy droom vir jou lewe sal uitleef met onverskrokke dapperheid. Ek bid vanoggend Ephesians 3:16 (TPT) oor jou hart en lewe:
I pray that He would unveil within you the unlimited riches of his glory and favor until supernatural strength floods your innermost being with His divine might and explosive power. Amen.
Dankie my liewe vriendin!
❤️❤️