Van die van julle wat nie weet nie, ek het ook ‘n Wees stil Facebook blad. Daarop deel ek inspirerende Bybelversies en my blog posts. Ek is mos maar dommerig met tegnologie, so effe tegnologies gestremd, heel waarskynlik gedeeltelik a.g.v. my ouderdom en gedeeltelik miskien die feit dat ek regtig nie van tegnologie en rekenaars hou nie. Facebook is eintlik tydrowend en vat baie meer as wat dit gee.
Facebook het my darem ietsie geleer ook! Jy kan ‘n post ‘like’ tot jy potblou in die gesig is, maar as jy nie die post ‘share’ nie gaan dit nie veel verder as jou eie sad FB blad nie. Dis ‘n lewensles, nie ‘n FB-les nie. Nee ek vra nie jy moet die goedjies wat ek opsit ‘like’ of selfs ‘share’ nie, maar dit het betrekking op Jesus. Huh? Mind-blowing, ek weet!
Hierdie waardevolle les wat God my deur FB geleer het, deel ek graag met jou! Hier is die ding as jy Jesus die heeltyd ‘like’, maar nie ‘share’ nie, as jy jou Liewe Jesus net styf teen jou bors vasdruk en vir jouself hou, wegsteek en nooit ‘share’ nie, gaan dit nie ‘n rimpel effek hê nie.
Sê nou maar net ek ‘share’ Jesus i.p.v om Hom net te ‘like’ (want ek ‘like’ Hom besonders baie) en jy ‘share’ Jesus, wat ‘n ongelooflike rimpel-effek kan dit tot gevolg hê? Weet jy watter versie in die Bybel laat my dink aan rimpels en die effek wat rimpels kan hê? Soos om ‘n klippie in die middel van ‘n blink-gladde dam te gooi… Handelinge 1:8, Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem, sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld. Sien jy die rimpels?
Ek loop deesdae met ‘n nuwe gebed wat lê-plek in my hart gekry het, en dit is: Here, maak my braaf! Here, maak my braaf en manmoedig sodat ek U onverskrokke, sonder vrees met ander mense kan deel. Ai, want braaf is ek beslis nie, ek verkies om deur voorbeeld te lei en dan gee ek nie om, om woorde op papier te skryf nie, maar die mond oopmaak slag. Ja, nee Here maak my ekstra braaf. (Ek sal beslis ‘n stukkie moet skryf oor braafheid!)
Voor die rimpel kom is daar darem ‘n troos ook. Jy hoef nie op jou eie braaf te wees nie, nee, want jy sal krag ontvang van die Heilige Gees. Die Heilige Gees van God wat binne jou woon sal jou braaf maak, en die bonus: Hy sal sommer die regte woorde gee, waar en wanneer dit nodig is, ek en jy, ons hoef net ons monde oop te maak…
Ek erken rondborstig dat ek bietjie daarmee sukkel. Dis maklik die skryf ding want ek kruip lekker agter ‘n skerm weg, maar daar in die ry by Pick ‘n Pay. Nou daai is ‘n ander storie. My klippie sink daar eensklaps tot op die bodem, ongesiens! My rimpel-effek is meer soos ‘n ping-pong balletjie op die kalm water… jip miskien een skrale rimpeltjie.
In Handelinge vier vers twaalf was die Joodse Raad verbaas oor Petrus en Johannes se vrymoedigheid om Jesus te deel … hoekom? Volgens die Joodse Raad was hulle tweetjies ongeleerde en eenvoudige mense. Jy hoef nie teologie te gestudeer het om ander mense nader aan Jesus te trek nie.
Weet jy wat is evangelisasie? Om iemand een stappie nader te neem aan God se omgee hart as wat hy/sy gister was. Miskien is evangelisasie om jou liefdesverhaal met Jesus met ander te deel. Jou pad, wat Jesus vir jou is, wat Hy vir jou gedoen het, wat Hy vir jou beteken. Dis nie ‘n teologiese in diepte gesprek oor wie God is nie.
Hou bietjie op om jou Jesus en jou geloof te ‘like’ en ‘share’ bietjie, toe man! Hê ‘n nuwe gebed in jou hart: Here wys my die geleenthede waar ek kan deel en as ek ‘n skoppie onder die alie nodig het, dan is dit ook reg so!
Wees lief vir die mensies om jou, wees gasvry, wees opreg, wees eerlik, wees jouself, wees soms ‘n bietjie kwesbaar, wees ‘n mense mens. Gee om, glimlag baie, oordeel minder en WEES BRAAF vir Jesus omdat jy Hom ‘like’!
Het dit so nodig!
Meer braaf en minder bang!❤️❤️
❤️❤️❤️❤️❤️
Ja JESUS ek ken U. Maak my braaf om te share wat U vir my doen en beteken
Verseker bid ek ook vir ‘n ekstra skoot braaf en dapper tannie!!❤️
Ek wil ook braaf wees.. Ek is n Skaam teruggetrokke ma, het nooit die geleentheid gekry om myself te wees nie.. Alles rus op my! Ek is alleen gered! Ek moet almal se laste dra.. Bid vir my asb!