‘n Pa is gemaak van beton, spiere, ‘n sagte hart vol jellybeans en ‘n growwe stem. Hy is met gare van genade aanmekaargewerk deur God homself. ‘n Pa trek sy insipirasie van sy Pa in die hemel. Na hom kyk hy op vir wysheid, geduld, onvoorwaardelike liefde en medelye. Hy volg letterlik sy Hemelse Pa in die te groot voetspore wat Hy agterlaat.
Soms verdwaal ‘n pappa in sy eie wêreld en menswees, ‘n wêreld waar hy sy niks-boksie oopmaak en aan… niks dink nie. Dieselfde wêreld waar hy soms onbevoeg en onopgelei voel vir die reuse taak van Pa wees, maar nooit te lank nie.
Daar bestaan klein wesentjies wat die grond aanbid waarop hy loop. Wie is die klein wesentjies? Sy dogtertjies natuurlik, die klein pienk wesentjies wat hulle pappa om die pinkie draai, maar natuurlik sal ‘n Pappa wat sy sout werd is dit altyd ten sterkste ontken.
Sommige dogtertjies, wanneer hulle baie klein is, smeek hulle mamma om toestemming om eendag met Pappa te trou, en as die mamma sagkens nee sê dan huil ‘n kindertjie-dogtertjie-hartjie… waar gaan sy ‘n man kry soos haar pappa? So dis dan ook geen geheim dat wanneer hierdie klein wesentjies in klein dametjies ontpop hulle soek na ‘n man wat aan die hoë standaarde van hulle Pa voldoen. Dis hoe lief ‘n dogtertjie haar pappa het. Dogtertjies dans op hul pappas se voete en kyk met vertroue en liefde op in hulle oë!
Dan is daar ook ‘n blou spesie wat hierdie Pappa met oë vol vertroue en liefde intens dophou, wat doen wat hy doen, sê wat hy sê, en met oorgawe verklaar dat hy eendag net soos sy pappa wil wees. Hierdie seuntjie-spesie wil rof mee gespeel word, boks, rugby balle, nerf-af kniekop speletjies- daar waar ma’s net oë toeknyp en vinnige, veiligheids, skietgebedjies hemelwaarts stuur. By ‘n Pa leer hierdie blou-spesie van respek vir vrouens, van deure oophou en terugstaan vir die skoner geslag.
‘n Pa sê soms baie sonder om ‘n woord te gebruik, die woorde lê in die manier wat sy linkerkantste wenkbrou lig, of die gemeensame lig van ‘n mondhoek. Duisende woorde gespreek in ‘n moment. Sy testosteroon gevulde stemtoon wat met agting en respek bejeën word, wat maak dat kinder oortjies spits en die eerste keer luister. (wel meeste van die tyd)
‘n Pa voel, en sien, en beleef baie dinge, hy slaan soms die wêreld gade van ‘n afstand af. Min van sy gedagtes kom as woorde by sy mond uit. As ‘n pa praat kan jy maar luister.
In elke pappa se hart leef “A wild man at heart”, wat se enigste doelwit is om te voorsien, versorg en sy gesin veilig te hou. Soms is hierdie verantwoordelikheidsbesef so groot dat sy rug plek-plek wil knak van swaar dra aan al die baie verantwoordelikheid. Hierdie drang om te voorsien en te versorg het Vader God self in sy mense hart ingeplant.
Soms voel ‘n Pa moeg op en gedaan, nie net van harde werk nie, maar sommer net lewensmoeg, en dis dan wat hy in gesprek tree met Sy hemelse Pa. ‘n Gesprek wat handel oor wysheid, genade, liefde en hope, hope geduld. ‘n Aardse pa volg die goeie raad van sy Hemelse Pa en sy raas kom altyd uit ‘n plek van liefde, hy lei met voorbeeld en is wys genoeg om te weet sy kinders sal doen wat hy doen en nie doen wat hy sê nie.
Pa’s is soms in stuitige oomblikke van grappies en humor aanmekaar geflans. Dit gebeur dan ook dat hulle soms tiener gemoedere verkeerd lees en dan loop hulle onverwags met semi-oop oë in die leeu se hok in… Ai die aardse pappas van ons.
Pappas is dogtertjies en seuntjies reg oor die wêreld se helde. Die helde sonder maskers en skouermantels. Hulle sal en het al hulle gesinne beskerm ten alle koste met geen agting vir hule eie kosbare lewens.
Aardse Pa’s is alles in een wesens, hulle skuif hulle dogtertjies se krone ongesiens reg, troos en moedig aan. Hulle buk af en kyk hulle seuntjies reguit in die oë en sorteer probleme man tot man uit, maar bowenal onderskraag en ondersteun hy hierdie kosbare kindertjies wat God aan hom toevertrou het se mamma.
Die grootste geskenk wat enige pa vir sy kinders kan gee is om onvoorwaardelik vir hulle mamma lief te wees. Om liefde te verpersoonlik, sodat die kinders onder sy dak altyd sal weet hoe liefde lyk en hoe liefde nie behoort te lyk nie. Hierdie groot geskenk kan met geen geld gekoop word nie, daar is geen plaasvervanger vir hierdie kosbare liefdes-voorbeeld nie. In die hart van elke pa leef ‘n stukkie van God.
Dankie. Ek sal dit vir die Pa’s ook gee om te lees.
🌺 My pa het my die grootste geskenk gegee wat een mens vir ‘n ander mens kan gee: hy het in my geglo! (Jim Valvano)