Ek weet die volgende van Moses. As babaseuntjie van 3 maande was hy veronderstel om in die water te beland toe maak sy ma ‘n plan en hy land op die water, en oorleef. Hy was die belangrikste Profeet in die Bybel, een van die main manne. Hy het die Here persoonlik geken. (Deut. 34:10) Die Here het direk met Moses gepraat, soos ‘n man met sy vriend. (Eks. 33:11) Die Here was Moses goedgesind en het vir Moses op die naam geken. (Eks. 33:17) Hier was verhouding, ‘n persoonlike, intieme verhouding…
Maar tog, toe die Amalekiete by Refidim teen Israel kom veg het, het Moses op die top van die heuwel gaan staan met die kierie wat God hom gegee het in sy hand. (Eks. 17:9) Dit het goed gegaan daar doer onder met die geveg, terwyl Moses se hande uitgestrek was in gebed met die kierie in die een hand. Dit begin toe bietjie lol, want Moses is nie meer jonk nie, hy is al bietjie aan die ou kant en sy arms raak lam, soos die moeë arms grond se kant toe sak, dan wen die Amalekiete weer bietjie…
Aäron en Hur het sekerlik die spulletjie so bekyk en besef, hier sal hulle vandag ‘n plan moet sien anders gaan die manne wat daar onder spoeg en spartel en veg dalk in groot moeilikheid beland. Hulle het toe ‘n klip gevat en dit agter hom neergesit sodat hy daarop kon sit. Aäron en Hur het sy arms van weerskante af ondersteun sodat sy arms regop gebly het tot sononder. (Eks. 17:12-13)
Ek kan nie lekker agterkom wie se ‘bright spark’ idee dit was om die klip en die arm-ding te doen nie, maar nietemin, die geveg is gewen. God het die oorlog gewen-tog het dit iets gevra van Moses- moeë ou arms wat in die lug moes bly. God het nie verwag dat Moses dit alleen moes doen nie, daarom was Aäron en Hur byderhand om te help ophou, regskuif en dra.
Aäron was Moses se ouer boetie, en Hur was uit die stam van Juda, moontlik ‘n vertroueling/vriend van Moses. God gee vir Moses familie en vriende om hom te ondersteun in hierdie reuse taak wat vir hom voorlê.
Liewe vriendin in Jesus, wie hou jou moeë arms in die lug, wie moedig jou aan om net bietjie op die klip te sit en te rus? Laat jy die mense om jou toe om jou arms in die lug te hou, of sal jy self? Ongeag of die oorlog wat hier voor jou afspeel gewen of verloor word? Jy en ek is nie bedoel om stoksielalleen deur die lewe te struikel-val nie.
My vraag vandag aan jou, wie hou jou arms op, nog belangriker wie se arms hou jy op, vir wie skuif jy die klip nader vir bietjie broodnodige asemskep en blaaskans. Is dit nie my en jou werk as volgelinge van Jesus nie? Bemoedig die wie se hande slap hang, help die wie se knieë knik, sê vir die wat moed verloor het: “Wees sterk, moenie bang wees nie, jou God is hier by jou.” (Jes. 35:3-4)
Miskien moet ek en jy met ‘n doelgerigtheid soggens opstaan en vra: “Here, wie se arms moet ek vandag help hoog hou, vir wie kan ek ‘n Aäron of ‘n Hur wees, sodat die oorlog wat in daardie persoon se lewe woed ook gewen kan word. Sodat die Amalekiete in hul lewe ook verslaan kan word!”
Salomo skryf in Spreuke 11 vers 25: Wie ‘n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is. Dis ‘n wedersydse help, keer, ophelp, aanmoedig. Dra mekaar se laste. (Gal. 6:2) Dis ‘n opdrag, nie ‘n voorstel nie. Moenie nalaat om goed te doen nie, dit is die offer wat vir God aanneemlik is. (Heb. 13:16) Moenie net aan jou eie belange dink nie, maar ook aan die van ander. (Fil. 2:4)
Jip, jy het vir God, jy het altyd vir God. God se hart vir die mensdom is verhouding. God se hele wese is liefde. Hy smag nie net na ‘n naby-intieme verhouding met jou nie, maar alle verhoudings is vir Hom kosbaar en belangrik. Moses het vir God gehad, aan sy kant, hy wat God se vriend genoem is, maar hy het ook ‘n Hur en ‘n Aäron nodig gehad. Vat ‘n tydjie vandag om vir God dankie te sê vir elke liewe Hur en Aäron wat al op jou lewenspad op presies die regte tyd gearriveer het… om jou arms in die lug regop te hou!
Dankie liewe Martha!! Ek dank Pappa God vir jou in my lewe, jy was al ‘n paar keer’ n Hur en Aaron in my lewe 🌷
liefste Gretchen, dankie vir jou mooi woorde, jy het op presies die regte tyd in my lewe ingeloop!❤❤
Jy hou my arms in die lug:)
❤❤ ons is op aarde gesit om mekaar se kroontjies reg te skuif!❤❤
My manier van help om iemand anders se arms om hoog te hou, was altyd ‘n drukkie… maar die pandemie het my so bietjie gebriek.
Tog is almal net ‘n oproepie ver, of ‘n waai ver… van hulle sit in die Kaap, maar tog maak ons tyd vir mekaar en ondersteun waar ons kan.
Dankie weer vir ‘n pragtige boodskap❤❤❤❤
So waar JM, ondersteun hoef nie groot gebare te wees nie!❤❤
Dankie dis pragtig. En dankie dat jy baie kere help om ons arms bo te hou.
Dankie Tannie D!❤
Dankie Martha, jy is n liewe mens wat die Here gebruik, om n mens se hart te roer met jou boodskapie… Ja miskien is jy n Moses, Aaron of n Hur dus duidelik dat n mens nie sonder iemand kan klaarkom nie… Daarom sit die Here onbekendes op ons weg… Om ons n stootjie te gee en ons arms op hoog te hou… Ek het dit dringend nodig vriendin. My arms hang maar slap ek is moeg gestoei!
Moenie haastig wees nie, doen alles rustig en met ‘n kalm gemoed. Moet onder geen omstandighede jou innerlike vrede verloor nie, nie eers as jou hele wereld omgekeer word nie. Vertrou alles aan God toe en wees dan stil en rustig by Hom. (Frances de Sales)
Liewe Magdelinn, ek bid vir jou.