Voor mens trou het mense mos opinies, ‘goed bedoelde’ waarskuwings en die mees ontoepaslikste raad, een van die wat ek na 22 jaar steeds onthou is: Trou is nie perde koop nie. Ek het dit nie toe geglo nie, ek glo dit beslis ook nie nou nie. As jy die maat trou wat vir jou bestem is, die maat wat jou hart verstaan, dan is dit ‘n leeftyd van vreugde en soms ‘n klein sakkie sout…
Kinders kry… nou daai is ‘n perd van ‘n ander kleur. Sover, en ek leer elke dag nog, het die girls my geleer om nederig te wees. Net soos jy dink jy het die ma-ding onder die knie, dan verander ‘n tween na ‘n teen of ‘n bom bars op die onverwagse, mees ongeleëste tyd.
Ek wil darem net sê ek het regtig twee maklike dogters, regtig hulle is awesome en ek is elke dag in verwondering dat God my spesiaal uitverkies het om hulle mamma te wees, maar ma-wees is nie maklik nie en soms voel jy soos ‘n absolute mislukking, soms voel dit of jy nie genoeg is nie, maar regtig as die God van die heelal jou uitverkies het, spesiaal daai kindertjies in jou sorg geplaas is wil ek vandag vir jou vra? Hoe kan jy nie genoeg wees nie?
Ek het nog altyd gedink: sal dit nie wonderlik wees as jy ‘n baba kry, so tussen die baba en die die nageboorte kan daar nie maar ‘n klein handleidinkie uitval so reg uit die hemel uit waar jou kleinding met groot sorg gevorm en aanmekaargeweef is nie? (Ps. 139:13) Sommer so met al die moets en moenies, waarvan hierdie kleinding hou, boompie tipe, liefdestaal, voorkeure, afkeure, die hele besigheid… sou dit nie beter gewees het nie?
Met Ousus se geboorte was ek nat-nuut en onseker, ek het enige denkbare boek gelees oor babas en kinders en sommer ook tieners, net om seker te maak ek is reg vir aksie. Kan mens regtig reg wees vir die stormloop van hormone, min slaap, en ‘n totale ommeswaai van die lewe soos wat jy dit ken? Die insluip in die kamer, die bid dat die dingetjie tog net vir 2 ure moet slaap, en weereens sy was nie ‘n moeilike baba nie. Sy het gehou van vasgehou word, sy het nie baie mense en geluide geduld nie.
Teen die tyd wat kleinsus gebore is 3 jaar en 3 maande later het ek gedink (verkeerdelik) dat ek die ma ding nou regtig onder die knie het, ek bedoel ek oefen al 3 en ‘n half jaar 24 uur per dag! Keinsus kom toe wraggies ook sonder ‘n handleiding daar aan en alles wat gewerk het vir ousus werk glad nie vir kleinsus nie. Sy hou nie van vasgedraai en gesus word nie, sy slaap deur die grootste lawaai denkbaar. So verskil ons kinders soms dag en nag van mekaar.
Ek besef net weer vandag ek en jy het ‘n handleiding om ons kindertjies groot te maak… die Bybel is ‘n boek vol raad, leiding en genade vir ‘n ma se onsekere hart. Is jou kindertjies nie net ‘n verlenging van jou hart nie, jou hart wat in ‘n kleiner lyfie rondloop. My goeie vriendin sê altyd: ‘n Mamma is net so gelukkig soos haar ongelukkigste kindertjie. Is dit nie waar nie? Ons kry saam met hulle seer wanneer teleurstelling en verlies aan die deur van hulle kinder-amper-groot harte klop, klop dit nie direk aan jou eie hart ook nie?
Moet nooit vergeet jou kind is ‘n geskenk van die Here. (Ps. 127:3) Spreuke 22:6; Gee leiding aan ‘n jongmens, maar dit beteken jy moet voorloop, jy moet die voorbeeld wees wat hulle kan navolg. Wat jy sê, hoe jy ander mense behandel, jou kinders hou jou fyn dop, en hulle sal jou voorbeeld volg. Hulle sal doen wat jy doen, nie doen wat jy sê nie!
Spreuke 1:8 begin met: My seun, jy moet luister… weet jy wat het ek geleer, kinders hoor nie ‘n woord wanneer jy raas en skree nie. Jy kan maar in die verskrikte ogies voor jou in kyk, die ligte is aan, maar NIEMAND is by die huis nie. Jy het so pas jou kosbare asem gemors… Wanneer jy praat, laat dit met wysheid wees; as jy leiding gee, laat dit uit ‘n plek van liefde kom. (Spr. 31:26) Nou hoe op dees aarde kry mens dit reg as jy voel jy wil die ding wat voor jou staan se nek omdraai? Jy draai om en jy loop weg, jy tel tot 10, 100 of selfs tot ‘n 1000… wanneer jy kalm is en jy het tee in jou lyf dan bid jy Jakobus 1:5, Here gee my wysheid… en Hy sal vir jou wysheid gee om die oorlog te wen, nie die skree geveg nie.
Ek weet soms is daar min tyd vir gesprekke oor wysheid, en soms sê jy goed wat eerder ongesê moes gebly het, gaan sê jy is jammer… kinders het nodig om te sien dat mamma soms verkeerd is, dat mamma ook ‘n hart het wat gekwets word deur onnodige harde tiener woorde. Dat mamma miskien van staal gemaak is maar mamma is maar net mens…
Jy, mamma na aan God se hart, Hy sien vir jou raak! Wanneer jy moedeloos en gedaan in die aand in die bed neerval. Hy sien vir jou raak wanneer jy raadop en hopeloos voel. Hy sien jou hart raak, Hy ken jou deur en deur en Hy het jou lief net soos jy is en wanneer jy jou kop laat sak in die aand en bid vir jou kinders is Hy die een wat op Sy knieë neersak langs jou, jou hande vat en jou sterk maak vir die dag van môre.
Ja Martha hulle sê klein kinders in klein probleme. Groot kinders is groot probleme. Laat ons dankbaar wees vir ons kinders as hulle naby ons is.
Dis baie waar Tannie Dalene.
💛 Kinders is ons s’n om groot te maak, nie om te hou nie. (Kahlil Gibran)💛