Het jou kids al ietsie gevra en jou antwoord was: Ek sal sien? My ma het ook graag so gesê, dit het my altyd erg gefrustreer, en tereg soos my girls altyd sê dis eintlik maar ‘n nee met ‘n baie skraal kans dat dit moontlik in ‘n ja kan verander. Dis ook natuurlik een van die frases wat ek myself belowe het ek nooit ooit met my kids sal gebruik nie… wel nooit ooit is ‘n baie lang tyd.
Het jy al vir God iets gevra, ietsie wat jy gedink het redelik onselfsugtig was en in jou enigheid het jy boonop gedink dit is tot voordeel van die Koninkryk? Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. (Matt. 6:33)
Ek het al so versoekie gerig tot die God van die hemel en die aarde. Weet jy wat is die antwoord wat ek gekry het? Ek sal sien, miskien eendag maar nie nou nie. Ek moet eerlik wees ek was so bietjie baie teleurgesteld en eintlik kon ek glad nie verstaan hoekom dan nie? ‘n Saggiese nee, ‘n miskien in die toekoms, maar nie nou nie.
Luister maar dis nie dat God my hoog en droog gelos het na die saggiese nee nie. Nee Hy het gesê My planne vir jou lyk anders, beter as jou planne vir jouself. Jy sal My eenvoudig moet vertrou. Jou planne vir jouself is net dit… planne vir jouself, My plan vir jou lyk anders, aan jou wil Ek ‘n werking van die Gees gee wat tot voordeel van almal is. (1 Kor. 12:7) Die Gees van God deel aan elkeen afsonderlik ‘n gawe uit soos Hy wil… (1 Kor. 12:11) nie soos jy wil nie en verseker nie soos ek wil nie.
God sien altyd die groter prentjie… ons… not so much. Gestel jou tiener vra of hy kan dagga rook, dis medisinaal, al sy vriende doen dit in elk geval, hy voel uit. Wat sal jou antwoord wees? Natuurlik sal jy nee sê! Jy weet dis gevaarlik, gewoonte vormend en nie goed vir enige een se breinselle nie. Jy, as ouer, het die lewenservaring en ondervinding om die regte besluit te neem, presies dieselfde met God. As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra? (Matt. 7:11) Hy weet wanneer iets nie goed gaan wees vir jou nie, soms sê Hy ‘Nee’, soms ‘Ja’, en soms ‘n ‘Ek sal sien…’
Miskien is daar ietsie wat jy al gevra het en God het nog nie geantwoord nie. Hou moed liewe vriendin in Jesus. Hy hoor jou, Hy neem notisie. Hy sal jou mos nie nou in die steek laat nie… onthou nou weer: Hy is bitter lief vir jou. Sy planne vir jou is goed. Gaan met vrymoedigheid in Sy troonkamer in, Hy sal jou gebede verhoor as jy enigiets volgens Sy wil vra. (1 Joh. 5:14) Hy vra vandag vir jou: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?” (1 Kon.3:5)
Ek het opgehou vra om in tale te kan bid. Ek is tevrede met die gawes wat vir nou aan my toevertrou is. Ek is tevrede met ‘n God wat my belange op Sy hart dra ‘n ‘Ek sal sien’ antwoord is vir my goed genoeg. As ek terug kyk dan weet ek dat ek weet, Hy ken my hart, Hy weet altyd beter. Ek berus in Sy Almagtigheid, goedheid en guns. Vir nou is ek dankbaar dat ek ‘n Herder het, dat ek met ‘n dankbare hart kan verklaar ek kom niks kort nie. Aan Hom wat deur Sy krag wat in my werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ek bid of dink, aan Hom kom die eer toe. (Ef. 3:20)
Dis God se belofte aan jou vandag: “Roep My aan, kom bid tot My, en Ek sal jou gebede verhoor. Jy sal vra na My wil en jy sal dan My wil ken as jy met jou hele hart daarna vra. Jy sal My ontmoet…” (Jer. 29:12-14)
Pragtig🙏🏻🙏🏻🙏🏻
🌺 Hou aan met bid, maar wees dankbaar dat God se antwoord wyser is as jou gebede. (William Culbertson) 🌺
Hoe mooi het jy nou die ons sal maar sien van God kom verduidelik. Dankie vir jou mooi menswees.
Wanneer ons bid, gebeur daar iets geweldigs: aarde en hemel ontmoet mekaar, die nietige mens kom in aanraking met die lewende God. (Hennie Conradie) 🌺
Thank you for that very beautiful, Holy Spirit led piece of writing. Praise God for your willingness to share your walk with our Saviour and passion to share with others. Thank you for sharing your stories and encouragement. Continue to be a blessing to all your sisters in Christ.
Happy , fulfilling and blessed mothers day to you.
Liomia💞
Thank you Liomia for the beautiful, encouraging words. 💛