‘n Motor kan net vorentoe beweeg in die rigting wat jy wil wanneer daar brandstof in die motor se tenk is. Dis ook nodig om gereeld brandstof in te gooi anders gaan hierdie betroubare, selfs nuwe motor van jou net eenvoudig nie sy werk kan doen nie… en gaan staan. ‘n Eenmalige vol tenk hou nie verewig nie, dit hou net vir so lank as wat dit hou. As jou motor sonder brandstof gaan staan, dan weet jy wat die probleem is, jy bel manlief en hy kom met sy geel Diesel kan en ta-da, probleem opgelos. Krisis vermy! Dis nie rocket science nie, dit is algemene kennis.
Interessant genoeg, as dit by ons eie tenkies kom is ons soms ‘clueless’. Ons hardloop op spreekwoordelike dolleeg en verwag dat ons superma, supervrou, noem maar op, moet wees. Ons raak vies vir onsself as ons nie genoeg het om nog uit te deel ook nie.
‘n Goeie vriendin het onlangs vir my Five Love Languages van Gary Chapman geleen. Ek besef, ek het die boek iewers al onder oë gehad, maar toe kom die ‘aha’ oomblik. Wag kom ek sê eers wat die 5 liefdestale is vir in geval jy nog nie die boek gelees het nie.
- Kwaliteit tyd.
- Geskenke.
- Diensbaarheid/Liefdesdienste.
- Opbouende woorde.
- Fisieke aanraking.
So my liefdes taal is Liefdesdienste, en met die lees van die boek besef ek ‘n baie belangrike ding, dis nie net my gee taal nie maar ook my ontvang taal. As jy my nou heel verloor het dan gaan ek nou my bes probeer om te verduidelik. So na ek die boek die eerste keer gelees het, het ek meer vir myself sin gemaak. Ek het besef hoekom ek dinge doen soos ek dit doen en hoekom ek nie great geskenke koop of toedraai nie!
So ek wys vir ander mense ek het hulle lief deur goed vir hulle te doen. Dis ook heel waarskynlik hoekom ek hou van stryk en kosmaak, dis my liefdestaal hoe ek vir my gesin wys: ‘Ek het jou lief…’, maar in dieselfde asem dis hoe my tenkie vol kom. Blomme, opbouende woorde, drukkies en ‘n Coffee date maak nie my tenkie vol nie, dis natuurlik lekker en ek geniet dit vreeslik baie. As my man en girls my tenkie wil vol maak: maak vir my tee, vat die vullissak uit, help my om die kombuis skoon te maak, maak kos, koop wegneemetes. (lekker skimp ek nou want ek weet baie goed hulle 3’tjies lees die blog!)
‘n Baie belangrike ding is ook om te weet wat jou lewensmaat en kids se liefdestaal is. Onthou; net soos geskenke niks aan my tenkie doen nie gaan gestrykte wasgoed niks doen aan die dogter se tenk wat kwaliteit tyd vereis nie. ‘n Lekker bord kos gaan nie die gat vul in jou seun se hart wat opbouende woorde kort om sy tenkie vol te kry nie. Die enigste gat wat gevul word is die ene in sy maag. Ons moet mekaar se liefdestale weet, verstaan en regtig ‘n brawe poging aanwend om almal se tenkies vol te hou.
So met die skryf besef ek ‘n ander ding, liefdestale alleen gaan nie jou hart se tenkie 100% vol kry nie. Jy het Jesus op ‘n daaglikse basis nodig. Hy, die 50ppm brandstof wat altyd, beskikbaar, verniet is…
Daar loop miljoene mense rond met ‘n yslike gat in die hart, ‘n hol gevoel, ‘n leeg gevoel wat nie met geld, goete, dinge, mense gevul kan word nie. Mense wat hulle hoop vestig op verhogings, geld, vakansies, juwele, klere, noem maar op. Mense wat bestaan, maar nog glad nie begin leef het nie.
Liewe vriendin in Jesus, net Jesus kan die reusagtige gat in jou hart vul. Manlief kan aangestorm kom met die geel petrol kannetjie wat ook maar net 20l kan vat. Dit gaan nie lank hou nie, net om die volgende draai, 200km later dan staan jy maar weer. Jou man is nie geskape om jou gelukkig en vervuld te maak nie. As jy dit nog al die pad glo dan is ek bitter jammer om die een te wees wat jou borreltjie bars.
Jou man kan jou liefdestaal ken en jou op sy hande dra (dankie my engel), en ‘n gelukkige huwelik sal jy hê… maar die gat in jou hart; die sal steeds daar wees. Laat Jesus die wonderwerker en Yehovah Rapha- die God wat genees jou innerlik gesond maak en die gat in jou hart heelmaak, ongeag wat die gat veroorsaak het.
Wil jy weet waarmee God jou tenkie wil vol maak? Met liefde en ontferming. (Ps 103:4) Hy wil aan jou goed doen, (Ps. 119:65) jou oorlaai met hartlikheid. Goedheid en liefde sal jou vul en by jou bly. (Ps. 23:5-6) God stort Sy liefde in ons harte uit deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. (Rom. 5:5) God, my en jou bron van hoop, sal jou vul met vreugde en vrede. (Rom. 15:13) Hy sal jou vul met wysheid en insig. (Kol. 1:9) Vol blydskap en vol van die Heilige Gees sal jou tenkie wees. (Hand. 13:52)
Dankie Martha vir die mooi boodskap. Dit laat my ook besef dat ons ook mekaar se tenkies moet vol hou dan sal ons sin oorloop..
So waar tannie, as ons dolleeg tenkies het, het ons niks om te gee nie.
Amen vriendin!! So goed geskryf! Trots op jou!!
Dankie liewe Gretchen!
My tenkie is baie voller vanaf ek my ‘nuwe jy’ journey begin het want ek het besef ek kan nie mense “vul” as ek self leeg is nie! Lief v jou!
Dis so waar, eers wanneer ons na onsself omsien kan ons na die mense om ons omsien. ❤︎
Pragtig!
❤︎ Melkbos en die berg gaan verseker help om die tenkie vol te hou!