God van die Leeus.

Dankie Kleinsus vir die mooie skets.

(Die storie agter die storie: Ek het die storie van Daniël begin skryf omdat ek regtig met ‘n dringendheid gevoel het ek moet oor die spesifieke storie skryf. Die oomblik toe ek die stukkie klaar geskryf het, voor die eerste ‘edit’ en ‘spell check’ het ek dit vir ‘n spesifieke vroutjie gestuur, sy laat weet terug: Jy sal nie glo nie! Ek is op die oomblik in daai Leeukuil en ek is besig om die boek Daniël te lees en vanaand lees ek die stukkie van Daniël in die Leeukuil… dis die tipe God wat ek en jy dien!)

Daniël was maar 15 jaar oud toe die Assiriese mag Jerusalem binne geval en vernietig het. Wat ‘n traumatiese gebeurtenis in ‘n tiener se lewe? Die Israeliete is bymekaar gebondel en weggevoer Babilon toe. Daniël en die res van die volk moes 1448km aflê na Babilon. ‘n Trippie wat jou 4 maande te voet sal vat. Nie sommer net agter die eerste bult nie.

Met die aankoms in Babilon, word Daniël se naam verander na Belsasar. Daniël verloor nie net sy naam nie, maar ook sy geliefde land en identiteit, wat hy nie verloor nie is sy onwankelbare geloof in YAHWEH.

Die boek Daniël bestaan uit 12 hoofstukke. Teen hoofstuk 6 word Daniël in die Leeukuil gegooi. Weet jy hoe oud was Daniël toe hy in die Leeukuil beland het? 80 jaar oud. So tussen hoofstuk 1 en 6 verloop 65 jaar van Daniël se lewe…

Koning Darius het die Koningskap oorgeneem en het ‘n klompie goewerneurs-generaal aan gestel om oor sy koninkryk te regeer. Onder hulle was 3 ministers waarvan Daniël een was. Daniël het so uitgeblink dat die Koning hom eintlik oor almal wou aanstel as die Main van die Main manne, maar sien waar mag betrokke is volg jaloesie soos ‘n moedswillige, stout kleinboetie.

Al die amptenare kom bymekaar en bedink ‘n plan om van Daniël ontslae te raak. Uitgeslepe was hulle beslis. Daar word ‘n wet uitgevaardig en Daniël mag vir 30 dae nie tot God bid nie… pleks Daniël bid net saggies, jy weet daar waar niemand hom kan sien nie, maar nie Daniël nie…

Wat doen Daniël? Hy gaan na sy dakkamer soos sy gewoonte was en gaan bid tot sy God wat hy nie kan sien nie. Hard en aanhoudend… Hy prys, aanbid en dank God. Hy het as’t ware ‘n kaartjie gaan koop vir ‘n close encounter van 12 ure met ‘n paar honger leeus. Nou wonder ek het Daniël geweet God gaan hom red? Ek dink nie so nie, ek dink net Daniël het besluit leeukos of te not, as God my red dan is dit goed so, maar as Hy dit nie doen nie, dan is dit ook reg so!

Ou Daniël is pens en pootjies in die leeukuil ingeboender en die ingang is met ‘n klip verseël. Dit moes vreesaanjaend erg gewees het, koud, donker met ‘n paar honger leeus wat se asems lekker stink. Ek is seker die klomp amptenare het duskant die klip stelling ingeneem en mekaar ‘gesjuut’ sodat hulle Daniël se angskrete kon hoor soos die leeus hom uitmekaar skeur. Weet jy wat dink ek het hulle gehoor? Ek dink hulle het gehoor hoe Daniël met God gesels, en vir hom lofliedere sing.

Wat kan ek en jy by Daniël leer wat vandag op ons lewens van toepassing is? Daniël staan vas in sy geloof in ‘n vreemde, heidense land. Ons is ook in ‘n vreemde land, ons is burgers van die hemel. Ons is net tydelik hier op aarde. Wat Daniël eintlik vir my en jou leer is hou vas aan die lewende God wanneer die Leeus jou bekruip. Die leeukuil is nie ‘n alleen plek nie, dis ‘n plek waar jy jou God kan ontmoet. My en jou God is die God van die leeus ook.

Waar is jy op hierdie oomblik? Is jy in die leeukuil? Kan jy die leeu se stinkasem ruik? Lyk dinge sleg en daar is mense wat hul mes vir jou in het? Kuier jy op moedverloor se vlakte? Vertrou dan net op God. Hy sal die sleutel voorsien om jou leeus se bekke toe te sluit. Jy is nie alleen in jou leeukuil nie. Die Here slaan ag op jou geroep om hulp. (Ps. 6:9) Die Here is jou lig en jou redder, vir wie of wat sal jy bang wees? Die Here is jou toevlug, wie sal jy dan vrees? (Ps. 27:1)

 

4 Replies to “God van die Leeus.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *