Het jy sulke dae? Die weet nie-waar-om-te-vat en waar-om-te-los dae. Of jy kom of gaan dae? Wat jy op jou merke gereed gaan, uit die bed spring en net gaan, gaan, gaan… Soos die Energizer hasie. Nou daai daggies het ek my af-kop-hoender-dae gedoop. Hulle sê, en ek het dit gelukkig nog nooit self gesien nie, as mens ‘n hoender se kop afkap sal hy net in ‘n rigting inhol…
Ek het ook vir myself begin sê dis okay om so nou en dan sulke dae te beleef, maar dan moet ons ook eerlik wees dat as elke dag ‘n af-kop-hoender-dag is dan gaan jou liggaan skoon vir jou siel weghardloop en jy gaan permanent buite beheer voel. As jy permanent buite beheer voel kom die ander ou emosies soos angs en paniek natuurlik in tou agterna… en dan volg geirriteerd en kortaf en uiteindelik slaaploosheid en siek-voel soos ‘n stout, moedswillige boetie.
As elke dag ‘n af-kop-hoender-dag is dan moet jy miskien vir jouself vra: Is dit wat God bedoel het met: Ek wil vir jou ‘n toekoms gee, ‘n verwagting? (Jer. 29:11) As die antwoord nee is, raai wat? Dan kom daai besig wees sekerlik nie van God af nie en jy is die enigste een wat iets daaraan kan doen. Ons almal het elke dag 24 uur in die dag. Hoe ek myne gebruik is ‘n keuse. Hoe jy jou 24 uur gebruik is ook ‘n keuse.
Die een goeie ding wat die inperking te weë gebring het is die besef dat mens dalk onnodig jou beentjies stomp af hardloop. Ek het ook besef dat die girls regtig nie aan alles hoef deel te neem nie, inteendeel dis beter vir hulle en vir jou as elkeen nie elke dag aan twee of drie goed deelneem nie.
Moses se skoonpa, Jetro, was ‘n wyse ou omie! In Eksodus 18:18 gee hy aan Moses hierdie goeie raad: Jy en al hierdie mense by jou sal totaal uitgeput raak. Die werk is te veel vir jou. Jy kan dit nie alleen behartig nie. Miskien moet ons ook na die wyse ou omie se raad luister. Vra vir hulp… ek sukkel bietjie want ek het maar ‘n bietjie van ‘n sal-self-persoonlikheid.
Hulle sê mens moet soos ‘n dokter of ‘n prokureur wees, gee net advies wanneer jy daarvoor gevra word. Hierdie stukkie advies is van my aan jou, mahala, gratis en verniet. Leer om die woordjie NEE te gebruik, regtig dit is in die woordeboek opgeteken reg vir jou om te gebruik. As jy nie kan nee sê nie, dan het jy net nog nie genoeg geoefen nie. Weet jy wat? Hoe meer jy die woordjie gebruik hoe makliker raak dit…genuine.
Ek het die volgende geleer: feit: Jy kan nie gelyk op twee plekke wees nie en jy kan onmoontlik almal gelukkig hou. So dis wat ek doen, ek sê altyd, ek gaan in my dagboek kyk en dan kom ek terug na jou. Dis presies wat ek dan doen, maar as ek sien ek gaan dit nie kan inpas nie. Dan is die antwoord ‘n maklike: Nee, ek sal ongelukkig nie kan help, bywoon of betrokke wees nie.
Wat ek wel weet in die midde van so kop onderstebo agterstevoor dag is dit so belangrik om net ‘n paar minute te gaan sit, 10 keer diep asem te haal, gits selfs ‘n koppie tee te maak en dit te drink… Terwyl dit nog warm is. Ek glo vas dat tee alles kan regmaak. Soms is dit belangrik om eerder ‘n Maria te wees as ‘n Marta. Marta het ‘n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit het. Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. (Luk. 10:39-40) Besig, besig, besig.
Ek werk al lank daaraan om eerder ‘n Maria as ‘n Marta te wees. Meeste van die tyd kry ek dit nog nie so lekker onder die knie nie. Ek oefen nog! Maar soms is dit nodig om net eenvoudig te verklaar ek is vandag ‘n Maria, om soms wanneer die af-kop-hoender-dag my oorweldig net 10 minute te vat met my koppie tee, wat alles regmaak, by my Koning se voete te gaan sit en net ‘n slag asem te haal…
So mooi geskryf en so waar! So bly ek het hierdie jaar besluit en besef dat ek actually nie die energizer bunny is nie en ek kan net eenvoudig nie vol hou met die tempo van verlede jaar nie! Lief v jou! X
Goeie besef as mens begin agter kom jy is nie supergirl nie!
Die boek “Boundaries” van Henry Cloud en John Townsend leer mens baie mooi hoe om nee te sê én dat dit nie onchristelik is om dit te doen nie!
Dankie, Martha! Ek waardeer jou stukkies!xx
“What’s helped with saying no to others is asking myself first if I’m saying yes out of guilt or fear. If so, then it is a polite no.” (Neil Strauss)
Dankie Martha, ek gaan ook nou, n Maria wees.. En by die voete van Jesus sit.. En nie skuldig voel, as ek nee gese’het nie.. Hou net moed en vas aan Jesus Christus.. Hy kom en herlaai weer ons batteries om aan te gaan.