Ons kan tog so maklik onsself veroordeel, so maklik onsself meet en vind ons skiet tekort. Het jy ook ‘n ingeboude radar? Wanneer jy by ‘n vertrek in stap vol vrouens, dan meet jy, vergelyk jouself en jy “measure” nie op nie. Hierdie ingeboude radar word sommer van kleins af geaktiveer, dogtertjies doen dit ook. Haar rok is mooier as myne, ek wil ook graag eerder krul hare hê, ek is te kort, te lank, te vet, te maer… nooit ooit reg nie. Hoekom doen ons dit? Ons kies om die leuens te glo, ons skram weg van die waarheid, want ons voel … I am unworthy, never enough…
Het jy die vader van leuens al in jou oor hoor fluister: God het moed opgegee met jou? Het jy al? Maar dis juis dan wanneer God van die berge af skreeu: “Toe jy nog ver aangekom het, het Ek jou al gesien, Ek het jou innig jammer gekry. Ek staan op die bult, Ek kyk elke dag uit vir jou, kom net huistoe, hardloop My tegemoet, hardloop in My wagtende arms in liefste kind. (Luk 15:20) Ek het jou nog altyd liefgehad, daarom wag Ek geduldig op jou… (Jer. 31:3)”
Wanneer die wêreld gil: Jy is waardeloos, dan antwoord God kopskuddend: “Ek het jou gevorm, jou aanmekaargeweef in die skoot van jou moeder. Ek het jóú op ‘n wonderbaarlike manier geskep. (Ps. 139:13) Jy is duur gekoop, die prys is reeds betaal. (1 Kor. 6:20)”
Die leuen wat ons die vinnigste op inkoop is: ware geluk kan gekoop word. Die Woord van God leer ons: Bly in My liefde dan sal jou blydskap volkome wees. (Joh. 15:11) Wees gehoorsaam aan My liewe kind en Ek sal deur die Heilige Gees vir jou vrede en vreugde gee. (Rom.14:17) By My is daar oorvloedige blydskap. Uit My hand kom net wat mooi is. (Ps. 16:11)
Mense sê so graag, jy is so gemaak en so gelaat staan. Die waarheid is: Mense kan nie mense verander nie, maar God kan. “Ek het die goeie werk in jou begin…en sal dit end-uit voer. (Filip. 1:6) Ek sal vir jou ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee. (Eseg. 36:26) Jy is in My ‘n nuwe mens, die oue is verby, die nuwe het gekom. (2 Kor. 5:17)”
Hierdie leuen vertel ons sommer vir onsself en boonop glo ons dit: Ai! Ek is nie goed genoeg vir God nie, maar Jesus self, wat die Woord is, sê vir my en jou: “Jy liefste kind, jy is uit genade gered. (Ef. 2:9) Ek sal jou wat na My kom nooit verwerp nie. (Joh. 6:37) Ek het vir jou gesterf toe jy nog ‘n sondaar was. (Rom. 5:8) Elkeen wat My Naam aanroep sal Ek red… ongeag. (Joël 2:32) Het Ek nie juis gekom om te soek en te red wie verlore is nie?” (Luk. 19:10)
Die vyand kan jou tot raserny dryf met sy konstante herinnering aan jou sondes, maar dis God wat jou nader trek en saggies in jou oor fluister: “Ek is getrou en regverdig, as jy jou sondes bely sal Ek jou vergewe. (1 Joh. 1:9) Al was jy skarlakenrooi van die sondevlek, Ek sal jou wit maak soos sneeu. (Jes. 1:18) So ver soos die Ooste van die Weste af is, so ver het Ek jou sonde van jou verwyder. (Ps. 103:12)”
Ons menslike verstand redeneer graag met ons hart. God het jóú nie lief nie, hoe kan Hy? Dis die Heilige Gees van God wat ons saggies in Sy omhelsing intrek en in ons harte fluister: “My liefde vir jou reik tot in die hemel. (Ps. 36:6) Ek is liefde. (1 Joh. 4:8) Ek het My liefde in jou hart uitgestort. (Rom. 5:5) Ek het jóú lief. (Jes. 62)”
Miskien staan ek en jy vandag by die vurk in die pad? Wat gaan ons glo? Wie gaan ons glo? God… Of die wêreld?
Luister gerus na die mooi lied van Lauren Daigle. You say. https://youtu.be/qUeHcsvfzWI

Baie dankie Martha dit is pragtig. Het sommer vir twee ander aangestuur. Is dit nie maar ons almal se fout nie.
Verseker Tannie Dalene. 💜
Ons gaan God glo🙏
AMEN!!💜