Ek’s ‘n Dapper Muis.

Waarvoor is jy bang? Ons almal is bang vir iets, of soms vir ‘n paar ietse. Baie soos die Dapper muis. Ons is vir niks bang nie, behalwe… en hoe langer ons dink hoe langer raak die lysie. Waar kom vrees vandaan? Ek is nie heeltemal seker waar vrees vandaan kom nie, maar ek weet verseker waar vrees NIE vandaan kom NIE. For God will never give you the spirit of fear, but the Holy Spirit who gives you mighty power, love, and self-control. (2 Tim. 1:7 Passion Translation) So in die plek van vrees gee God ons krag, liefde en selfbeheersing.

My definisie van vrees is om vir iets bang te wees wat heel waarskynlik nooit sal gebeur nie, om in konstante vrees te leef oor dinge waaroor jy absoluut geen beheer het nie. Kan die dinge wat jy vrees moontlik met jou gebeur?  Moontlik. My vraag is kan mens vir 80 jaar van jou lewe in vrees lewe vir die 5% moontlikheid dat dit wel met jou kan gebeur?

Om vreesloos te lewe beteken ook nie ‘God’s water oor God’s akker’ houding nie. ‘n Skouerophalende-God-is-in-beheer houding: So nou hoef ek net terug te sit en te vertrou nie. Om vreesloos te lewe beteken ek vat verantwoordelikheid vir die dinge waaroor ek beheer het. Ek leer my kids van ‘stranger danger’, ek myself gaan loop tog nie 2uur in die nag in gevaarlike plekke rond en dink ek kan moontlik niks oorkom nie. God het vir ons darem breins ook gegee, maar die feit bly staan: Jy hoef nie in konstante vrees te leef vir die wat asse en sê nou maars nie.

Vrees kom van die vyand af. Die een wat wil slag, moor en uitroei.Vrees is die mes wat die vyand in jou hart indruk, wat maak dat jy kort van asem raak en jou hart met jou op hol gaan… Die olifant wat op jou bors kom sit en sit en sit. Ons almal het ‘n “achilles’ heel”- en ek dink vir baie van ons mammas het dit te doen met ons kinders en ons manne. Natuurlik is ons ongemaklik om ons kinders in die ‘big bad world’ in te stuur. God moes al so hard met my praat oor vrees en weet jy wat sê Hy vir my? Martha, Martha, jy is so vreesbevange bang vir dinge waaroor jy geen beheer het. Dink jy nie ek is veel liewer vir jou twee girls as wat jy ooit kan dink of droom nie? Vertrou My, vertrou My met hulle, want hulle is veilig in My hande.

Wat ek wel gevind het, is wanneer ek banggeit en vrees my konstante metgesel maak, wanneer vrees by die voordeur van my hart in marsjeer dan vlug geloof by die agterdeur uit. Daar is net eenvoudig nie genoeg plek in my hart, in my menswees vir vrees en geloof nie. Hoor hoe mooi stel Psalm 56:12 dit: What harm could man do to me? With God on my side I will not be afraid of what comes. My heart overflows with praise to God and for his promises. I will always trust in him.

Tawwe ene die! Wat kan ‘n mens aan my doen? Baie goete, baie slegte dinge wat jou lewe kan beeïndig of onherroeplik verander. Soms het ons nodig om bietjie terug te staan en met ‘n hemelse perspektief, skeefkop na ‘n situasie te loer. Kom ons vra die vraag anders. Wat kan ‘n blote mens aan my siel doen wat reeds aan Jesus Christus behoort? Absoluut niks…

Identifiseer jou vrees. So wanneer vrees jou met sy staal vingers om jou nek beet kry dan sien jy dit vir wat dit is, en jy stuur daai mannetjie met sy horinkies terug na die warm plek waar hy vandaan kom. Nog beter maak jou bang lysie en gee dit vir Jesus. Oorhandig dit en ruil dit vir liefde, krag en selfbeheersing. Wanneer vrees weer aan jou hart se deur kom klop, gryp na die soom van Jesus, laat Hom die storm stil maak in jou hart. Gryp na die uitgestrekte hand van God. Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, my uit geweldige waters uitgelig. (Ps 18:17)

Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. (1 Joh. 4:18) God het jou bitterlik lief, laat Sy liefde toe om die vrees uit jou hart te dryf. God sal jou onder Sy vleuels beskut, Hy sal jou veilige skuilplek wees. Dit is Sy trou wat jou beskerm aan alle kante, vir jou en jou kinders en jou wederhelfte. (Ps. 91:4)

Wanneer ek bang word, wanneer vrees my oorweldig (en dit sal weer gebeur, want ek en jy is maar net mens), vertrou ek net op U. In God, wie se woord ek prys, in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie. (Ps. 56:4-5) Jy kan maar ‘n dapper muis wees, nie omdat jy dapper is en vir niks bang is nie, jy is ‘n dapper muis want jou hart behoort aan Hom, Hy is by jou in Sy hande is jy veilig. (Ps. 23:4)

8 Replies to “Ek’s ‘n Dapper Muis.”

  1. Ek is so baie dankbaar om te kan deel in jou gawes en talente. Gaan voort met hierdie besondere boodskappies. Dit beteken so baie vir my

  2. Dankie dat jy ons elke keer kom bless met jou mooi woorde. Dinge waaroor jy skryf gebeur daagliks en hoe jy dit stel maak sin.
    Baie lief vir jou.

    1. 🌼 Sy woorde, nie my woorde. Ek luister net fyn wat Hy sê en dan dra ek dit oor. Al ons talente kom tog uit die skatkamers van die hemel. Biddend afhanklik van die Een wat ons gemaak het. ❤️ jou!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *