
Die lewe het sy op en affe. Jy is in ‘n woestyn seisoen, of jy is nounet daardeur, en kan bietjie vryeliker asemhaal. Of, jy is onwetend op pad na die skadu kant van die lewe. Ons lewenspaadjies loop so, soms gaan dit goed met ons, selfs uitstekend, soms is ons in ‘n seisoen van minder lekker en ja, dan gebeur dit ook dat ons soms loop deur ‘n dal van doodskaduwee.
God het al so baie met my gepraat aan die hand van Psalm 23, dit is die Psalm wat die diepste in my hart ingegraveer is! En ek loop nou weer in ‘n skaduagtige vallei. En ek wil jou nie verveel met my eerste wêreldse probleme nie.
Jip, ek het ‘n wyse vriendin wat altyd praat van eerste wêreldse probleme, want as ons bietjie terug tree, en effe perspektief kry, sal ons probleme vaag lyk en wees teen ander se probleme. En nee, dit maak nie jou en my probleme en struikelinge minder belangrik nie… maar tog kan perspektief ons probleme minder groot laat lyk.
Nietemin, ek loop nou in hierdie vallei van skadu, eintlik loop ek deur Psalm 23 en ek wonder of die lewe nie baie soos Psalm 23 verloop nie? Terloops, ek het die 1953-vertaling nader getrek, want dis net vir my só-só mooi! Miskien moet die opskrif van my lewe wees: Die HERE is my Herder, niks sal my ontbreek nie, ongeag die vallei, die stroom, die lewe, die storms. Dit staan vas… ek het ALLES, want ek behoort aan Hom.
So wandel ek en my Here na vers twee: Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen. As ek hierdie versie lees, dan kom die woordjie voorsiening by my op. Liefde is ons Herder, wat ons lei na rus, en dis meer as rus, dis ‘n plekkie in Sy hart. ‘n Plekkie waar daar vrede is… Dis vers wat tegelyke tyd belowe en vertroos. ‘n Vers wat skree, Ek is jou VREDE!
Vers 3: Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om Sy Naam ontwil. Watter woordjie spring uit? Leiding? Verfrissing? Herstel? Of miskien sommer al drie! Ons siel bestaan uit ons emosies, wil en denke… sien jy op watter intieme vlak is die Herder met jou besig? En wat beteken die woordjie verkwik? Dit beteken (volgens die HAT) opfris, verfris, laaf, opbeur, troos, nuwe krag en moed gee. Volg Sy spore van geregtigheid, want dit is waar jy herstel langs die pad sal raakloop en as jy ver en lank genoeg saam met die Herder wandel, sal jy Sy plan en wil vir jou lewe herontdek.
Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: U stok (om te beskerm) en U staf (om te lei) dié vertroos my. As iemand vir my vra, in watter vers in Psalm 23 sal jy die graagste kuier, gaan vers 4 dalk nie my eerste keuse wees nie! The Passion Translation se woorde slaan my asem weg van pure mooigeit … Lord, even when your path takes me through the valley of deepest darkness, fear will never conquer me, for you already have! You remain close to me and lead me through it all the way. Your authority is my strength and my peace. (stok en staf) The comfort of your love takes away my fear. I’ll never be lonely, for you are near.
Hierdie nabyheid, hierdie intimiteit ervaar ons selde elders as in die dal waar die skadu’s is. Hoekom… want as die lewe maklik is, lekker is, is ons behoefte aan naby wees soveel minder as wanneer die skadu ons oorval en oorheers! Ervaar ons Sy teenwoordigheid die intenste, wanneer ons harte swaarkry en ons struikel, en val en tas in die donkerte na Sy heerlike LIG!
So vat die Herder my hand en ons stap rustig voort na vers 5: U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; Sien jy hierdie tafel? ‘n Tafel wat kreun onder al die oorvloedigheid, jou plekkie is gedek, die 1983 praat van jou en my as die eregas… gaan jy kom aansit genooide gas? Sy seëninge word uitgestal vir almal om te sien. Waar die tafel gedek is, is ook belangrik! Die tafel staan midde my vyande… Hoe op aarde moet mens dan nou aansit aan hierdie gedekte tafel met vrede in jou hart, terwyl jou vyande jou aangluur? Maklik, want die Herder, met Sy staf wat jou beskerm, is by my en jou. Hy die Gasheer, ek en jy die gaste. Die gaste is afhanklik van hierdie Gasheer, vir voorsiening en beskerming.
U maak my hoof vet met olie; ‘n salwing… jy is die kind van die Koning, jy het die Heilige Gees van God wat in jou woon. My beker loop oor. God is ‘n God van oorvloed. Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, en dit in oorvloed. Ek is die goeie Herder. Die goeie Herder lê Sy lewe af vir die skape. (Joh. 10:10-11 [2020]) Die Gasheer bly die gas se beker volmaak… meer as wat ek en jy nodig het. Die Gasheer is fyn ingestel op die behoefte van sy gaste. Hoor jy dit, die God van die hemel en aarde, weet wat jy nodig het, wanneer jy dit nodig het.
Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae. Nou kan ek en jy met ‘n nuutgevonde selfvertroue leef, want ek en jy ken die geheim. Sy goedheid en guns agtervolg ons… haal ons in… oorrompel my en jou, hoe kan ons dan bekommerd wees oor alles en almal en die toekoms? En die goeie Herder sal jou bly agtervolg, aanhou klop, nooit opgee nie, want jy is Sy geliefde… en meer as enige iets anders gaan hierdie Psalm oor verhouding, ‘n ewige liefdesverhouding met jou Verlosser.
En toe die wandeling tot ‘n einde kom besef ek ‘n belangrike ding. Die verse staan nie los van mekaar nie, selfs in die dal van doodskaduwee sal God se goedheid en guns jou volg, sal jy na ‘n oase gelei word waar jy vrede en rus sal ervaar. Selfs in die woestyn is die gedekte tafel daar, ek en jy moet net gaan aansit. God is oral waar jy is en gaan…
Miskien is die wonderlikste van Psalm 23 om te herontdek, dit gaan nie oor die vallei nie, maar dit gaan oor wie saam met jou stap deur die vallei. Hand aan Hand… jy is nie alleen nie. Die HERE is my Herder, niks sal my ontbreek nie. Nie omdat die lewe altyd maklik is nie. Maar omdat Hy altyd genoeg en teenwoordig is!

Liewe Martha, dit is SO spesiaal soos jy my ook deur hierdie reis deur Psalm 23 gevat het met jou mooi verduideliking. Omdat mens die Psalm so lank ken, is mens geneig om sommer vinnig deur die Psalm te lees, terwyl mens eintlik by elke reel moet stilstaan eers. Baie liefde.
Dankie kosbare tannie Christa! Bekend en bemind is hierdie stukkie in die Woord beslis!
Die Here is my Herder niks sal my ontbreek nie.
Hy is altyd genoeg en teenwoordig. ❤️❤️
Dankie Martha vir vandag se diep boodskap. Ek het dit soooo nodig gehad.
Ek dink soms ek het Psalm 23 nodig op ‘n daaglikse basis. Baie liefde vir jou Liewe Lien!
Psalm 23 is al my lewe lank baie spesiaal vir my
Ek moet saamstem! Dis ‘n wonderlike troos-Psalm!
Kosbaar, veral in ‘n wêreld wat skree na die Here, die Herder. Dankie Martha, die wandel saam met jou en God deur Psalm 23 is nodig. Dankie my maatjie!
Ek stem! Ons het nodig om stiller te leef, om te leer om meer hand aan hand te wandel saam met die Herder. Liefde vir jou my maaikie!