Ma van die Jaar.

There’s no way to be a perfect mother, and a million ways to be a good one. (J Churchill)

Hierdie stukkie het ek ‘n paar jare terug geskryf, en ek het dit so bietjie afgestof, want ek dink ons mammas moet meer as gereeld hoor: Dis OKAY as jy nie perfek is nie… geen ma is perfek nie!

Kleinsus was nog iewers in die laerskool toe ek haar een oggend skool toe vat. Ons is nie laat nie, ons is nie gejaag nie, ons is net lekker. Hier voor my trek ‘n groot voertuig met ‘n ruk op die sypaadjie op en daar vlieg ‘n mamma uit, maar sy is nie vies nie, sy is nie kwaad nie… sy is woedend. Sy gooi haar kinders se tasse op die sypaadjie, klim terug en ry weg… sonder ‘n baai, ‘n drukkie… en die ou dogtertjie loop so skrams verby ons en die gesiggie is besmeer met trane… en ewe skielik voel ek sommer ook na huil…

Vir die meisiekind met die betraande gesiggie, maar by verre voel ek die heel jammerste vir die ma… want ek weet, sy ry nou huis toe, sy huil waarskynlik self en sy weet: vandag gaan sy nie vir  Ma van die jaar  genomineer word nie, nie eers naby nie!

Luister, geen oordeel of veroordeling van my kant af nie, en al lyk my storie nie soos hare nie, weet ons almal baie goed. Sommige oggende is ek en jy daardie mamma wat goed gesê het, woorde wat nie lewe spreek nie. Teen die tyd wat ons by die skool stop is die kinders se hare skoon in ‘n ander windrigting in geskree …

Jy weet, soms val ons kinders aan die verkeerde kant van die bed uit, en hulle kom al skoorvoetend en skoorsoekend in die gang af gedrentel, met ‘n houding… hulle is soos ‘n klein klippie wat in ‘n mense se toe-skoen vassit, dit krap en kielie en irriteer, soos die oggend vorder raak daai selfde klippie ‘n yslike blaas en dan moet die skoen uit, en die ma ontplof en die kinders moet liefs koes.

Soms, en dit gebeur nou nie baie nie, as ek by die skool stop en daar was ‘n onderonsie in die motor dan het mens lus om te sê: “Koebaai, ek is bitter-baie lief vir jou, maar op hierdie oomblik hou ek nie so baie van jou nie.”

As ek dan huis toe ry bel ek altyd my klankbord, my arme liewe man wat altyd die treurmares moet aanhoor, dan huil ek bietjie in sy oor en dan voel ek sommer weer beter. As hy antwoord dan sê ek sommer vinnig… ek het nie vanoggend die ma van die jaar toekenning ontvang nie.

Ek ken ‘n vroutjie en sy whatsapp my die ander dag met die volgende: “Ek gaan beslis nie vandag genomineer word vir ma van die jaar nie, ek het oor my kind se voet gery, voor die skool ten aanskoue van almal, nie uit kwaad nie, sommer net heel per ongeluk.” Ai en ek moes lag, en nee dis seker nie snaaks nie, sy moes vir sussie dokter toe vat om doodseker te maak alles is nog mooi in plek en heel.

So het ek en jy altwee ons eie storietjie om te vertel… wat ons nie top tien sou gehaal het nie, met dit wat ons gesê het of dalk gedoen het nie. Ek besef ook  net weer, mammas is maar net mense. Ons is nie volmaak nie, ons weet nie alles nie, ons is alles behalwe perfek, maar die een ding wat hulle nie van ons kan sê nie; is dat ons nie probeer nie.

Jare terug in ’n gesprek erken ek aan ‘n vriendin dat ek bitter sleg voel as ek my @#$% verloor en op my girls skree. Sy kyk my verbaas aan en sê: “Ek is so bly om te hoor jy skree ook op jou kinders, ek dog ek is die enigste een!” Nee my liewe vriendin jy is nie die enigste een nie.

So, is dit reg om op jou kindertjies te skreeu? Mag ons maar? Ek het al agter gekom hulle ore slaan bot toe as jou stem ‘n paar desibels opskuif, ‘n gesiggie wat sê: die ligte is aan maar niemand is by die huis nie. So die vraag is eerder… is dit sinvol? Help dit as ek en jy op ons kids skree? Nee seker nie… so ek probeer my bes om dit nie te doen nie, net omdat ek so sleg voel agterna en dit in elk geval niks aan hulle gedrag verander nie, om die waarheid te sê dit leer hulle eintlik net om op ander te skree.

So miskien sê ons net vanoggend vir mekaar, dit maak jou nie ‘n slegte ma as jy soms op jou kids skree nie. Jy is nie alleen in hierdie mamma-stryd nie. Ons almal voel met tye moeg, moedeloos, oorwerk en oorweldig. Dis OKAY.

Motherhood- It’s a uniquely beautiful influence that lingers long past the seemingly ordinary moments. It’s a shaping of the tender places of the soul. It’s a miraculous, messy, imperfect, creative, crushing, trying, depending on God process of raising up and rising up and being surprised by it all. (Lysa Terkeurst)

Liewe vriendin, as jy vandag voel jy het misluk, onthou net dit: jou kinders het nie ‘n perfekte ma nodig nie. Hulle het jóú nodig. ‘n Ma wat liefhet, wat probeer, wat soms verkeerd doen, wat jammer sê en wat elke nuwe dag weer opstaan. Dalk is dit juis hoe God ouerskap bedoel het – nie as ‘n pad van volmaaktheid nie, maar as ‘n pad waarop Sy genade elke dag genoeg is.

En wanneer jy vanaand jou kop neerlê en wonder of jy genoeg gedoen het, onthou: God het jou spesiaal uitgekies as mamma vir jou kinders.  En in die plekkies waar ek en jy voel, ons skiet te kort, sal Sy genade ons ontmoet. ‘n Goeie ma is ‘n ma wat nooit ophou probeer om beter te wees nie.

2 Replies to “Ma van die Jaar.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *