(Opgedra aan elke mamma-hart wat die pyn ken van ‘n baba verloor)
You’ve kept track of all my wandering and my weeping. You’ve stored my many tears in your bottle-not one will be lost. For they are all recorded in your book of remembrance. (Ps. 56:8 The Passion Translation) Is dit nie mooi nie? Het hartseer en verlies jou al van agter bekruip en omsingel, geweier om jou te laat gaan, jou as’t ware in jou eie lyf gyselaar gehou? Hoeveel van jou trane van verlies, hartseer en gebrokenheid het God al namens jou opgevang? Sien elkeen het so storie van hartseer en verlies om te vertel… ‘n hartsstorie.
In die donkerste van tye wanneer hartseer jou enigste metgesel is en jou hart net klop omdat hy moet en nie omdat jy noodwendig wil nie… dis die tye wanneer God jou saggies nadertrek, die trane van jou wang afvee (Openb. 21:4) en jou in Sy sterk arms optel en jou naby Sy hart dra. (Jes. 40:11) Wanneer jy bewus is van ‘n liefdevolle Vader wat teenwoordig is, wat jy bewus raak van die Heilige Gees wat jou hand vat en die hartseer pad saam met jou stap.
Jesus se gemoed skiet vol en Hy raak aangedaan wanneer Hy jou hartseer aanskou. (John. 11:33) Ek glo dis hoe Hy gevoel het die dag toe ek my dogtertjie verloor het. Die dag op die ondersoek tafel toe die sonar wys daar is nie meer ‘n hartjie wat klop nie. ‘n Klein wonderwerkie wat nie bedoel was om op die aarde te wees nie. Sy was so kort rukkie deel van my, maar tog vir ewig myne.
Ek het nooit gedink dit sal met my gebeur nie, sulke goed gebeur mos net met ander mense, maar soveel swangerskappe eindig in ‘n miskraam. Wie sal beter weet as ek wat jare in teater gewerk het? In ‘n Ginekologiese teater was die eerste paar gevalle altyd vreugdevol. Klein wriemelende mensies wat met oordadige geraas in die wêreld inbars. Die mooiste oomblik as ‘n Pappa besef: Dis my seun, of ‘n mamma wat vir die eerste keer haar nuwe poppie teer teen haar hart vasdruk… maar op dieselfde lys die mamma wat haar baba verloor het, soms die vyfde of sesde keer wat sy op die harde teater bedjie moet klim… Verslae, bleek en hartseer.
As ek die pasiënt by ontvangs ontmoet het, het ek altyd oppad gebid: “Here gee my die woorde, of die stilte, of die begrip om hierdie mamma se behoefte te verstaan,” maar hoe kan mens werklik verstaan as jy nooit in haar skoene gestaan het nie? Hoe kan jy verstaan as trane geluidloos oor ‘n vrou se wange loop of sy bleek en moeg teen ‘n spierwit kussing lê en wag… amper soos ‘n lam ter slagting.
Na my miskraam het God vir my ekstra deernis en verstaan gegee. Ek kon haar hand vat en met eerlikheid sê: Jy gaan ok wees, ek weet waardeur jy gaan. Jou hart gaan weer heel voel. Jy sien want my hart se storie was haar hart se storie. ‘n Gemeenskaplike, gedeelde hartseer.
Het God my miskraam veroorsaak sodat ek beter begrip kon hê vir mammas in dieselfde situasie? Nee God het nie. Ons bly in ‘n gebroke wêreld. Ons is in hierdie wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie. Sal jy jou eie dogter se swangerskap beeïndig? God doen dit ook nie, maar God mors ook nie ‘n hartseer nie, hy sal dit omsit in iets positiefs, dit gebruik om ‘n ander se seer te help heel. Soos ander al ‘toevallig’ oor jou pad gekom het en deel was van jou heelword proses.
Jou hartseer sal jou hart se storie word. ‘n Getuienis van ‘n God wat omgee, wat met deernis jou hand in Syne neem. Wat saam met jou die pad van hartseer stap, wat jou nimmer as te nooit alleen laat nie. ‘n Storie wat ander bemoedig en dra wanneer hulle die soms eensame pad van verlies stap. Mag jy besef dat ook jou hartseer God sal omsit in iets moois, jou eie hart se storie, want God mors nooit ‘n hartseer nie. Mag jy ook ervaar dat die son van redding vir jou sal skyn met genesing in sy strale… (Mal. 4:2)
So mooi. Jy sal wel eendag jou klein bondeltjie in die Hemel vashou! X
Ek sien daarna uit om my arms om haar te sit en haar styf vas te hou. ❤️