Vrede. Rus. Asem. Jesus.

In die begin van die splinternuwe jaar het ek besluit (want dit was meer as ‘n voorneme, dit was eerder ‘n vasberadenheid) om te fokus op Rus in Jesus. Ek wou die versie in Matteus 11:28 my eie maak, ‘n persoonlike uitnodiging om nader te kom, om te rus… naby Sy hart, in Sy teenwoordigheid. Besig wees is nie my probleem nie, maar om te rus, stil te sit, stil te wees, is ‘n ander saak…

Come to Me. I will refresh your life, for I am your oasis. Simply join your life with mine. Learn My ways and you’ll discover that I’m gentle, humble, easy to please. You will find refreshment and rest in me. For all that I require of you will be pleasant and easy to bear. (Matt. 11:28 TPT)

Ek wou in hierdie jaar meer Maria as Martha wees. Maria kies die beste deel, sy kies Jesus bo ALLES! Teen Maart het ek besef, as iets nie verander, gaan niks verander nie, en my vasberadenheid vir Rus by Jesus nog ver van ‘n werklikheid…

Ek begin voorraadopname neem van my lewe. Wat steel my tyd, wat steel my vrede? Om te rus by Jesus vra tog tyd en dit vra vrede… want sonder vrede is daar geen rus nie! Die HERE het gesê: “Moet My teenwoordigheid saamgaan, en moet Ek vir jou rus gee? (Eks. 33:14 [2020]) Ja asseblief Pappa! Maar hoe op aarde gaan ek dit regkry?

Met my lysie in die hand, het ek begin plan maak… So met die begin van die nuwe kwartaal vee ek my swartbord-deur in die kombuis silwerskoon en skryf vier woordjies lewensgroot op die bord. Vrede. Rus. Asem. Jesus. Ek staan terug en ek wonder oor die volgorde… moet Jesus nie eerste staan nie? Maar nee, voor ek nie dit regkry om te vrede te kry, te rus in Hom en onthou om asem te haal nie, gaan ek sukkel om by Sy hart uit te kom.

Luister en ek sê nie as mens besig is, mis jy vir Jesus nie. Op my besigste weet ek van Hom, op my deurmekaarste dae is HY naby. Maar ek soek meer, dieper, nader, intiemer…

Die moeilikste vraag om te antwoord was: Doen ek tans wat ek dink die Here wil hê ek moet doen, of doen ek wat Hy wil hê ek moet doen? Volgende week vertel ek jou meer van hierdie vraag wat my hoofbrekens besorg het, maar ook die klinklare antwoord uit die hemel!

Om ‘n tuisteskepper te wees is harde werk… dit vat ‘n groot deel van elke dag se ure in beslag. Ek moes lag want manlief stuur die ander dag vir my die stukkie. I want AI to do my laundry and dishes so that I can do art and writing, not for AI to do my art and writing so that I can do my laundry and dishes. (Joanna Maciejewska) So ek het net besluit om tyd saam met God te begin skeduleer… Behalwe die moeilike besluit wat ek moes neem, het ek besluit om ‘n deel van my wasgoed in te gee om gestryk te word… net die tydrowende klere, krage en nate in broeke, en kortbroeke met 4000 sakke…

Ek oefen al van die begin van die jaar af om nee te sê. Nee. Dis ‘n sin op sy eie. En ons mag nee sê om ons vrede en rus en tyd te beskerm. Ons hoef nie alles te doen nie. Soms kan jy jouself prioritiseer bo ALLES en eintlik vriendin, moet ons onsselwers priotiseer soms, want wie kan gooi uit ‘n leë bekertjie? Jy kan nie gee wat jy nie het nie!

Die ander tyd-steler is natuurlik selfone, sosiale media en alles wat iets met ‘n skermpie te doen het. Ek kry dit al mooi reg om my selfoon neer te sit, ek het Instagram uitgevee, want ek kom toe agter ek is ‘n ‘doomsscroler’, voor jy jou kon kry is daar 30 min van jou lewe vir altyd weg en wat het jy regtig om te wys daarvoor? Net mooi niks!

So ek is in die proses van my lewe bekyk en te besluit… wat bly en wat sal moet gly. Wat kom eerste en wat kom laaste…. Kom ek gesels net gou-gou oor die vier woordjies en wat hulle vir my beteken.

VREDE: Jesus se vrede… in my hart, in my gedagtes, in my lewe. Dit kom nie so vanself as wat mens partykeer hoop nie. Mens moet deurentyd aan vrede vashou, want soms gee ons dit weg, soms verloor ons dit, en soms laat ons toe dat ander ons vrede stilletjies kom wegsteel. Ek wil vrede hê midde die besigste dag, midde die ongemaklikste seisoen, daai vrede wat alle verstand te bowe gaan, daai vrede wat net van Jesus af kom.

RUS: Hierdie ene het ek min om oor te sê… ek werk kliphard daaraan. You don’t have to explain your quiet days to anyone. Your energy is yours to protect (Aurelia Leafsong) Nie net die rus in Jesus nie, maar ook rus in die algemeen. Vriendin, uitbranding is ‘n realiteit, en voorkoming in hierdie geval is beslis beter as genesing. Rus moet ‘n prioriteit wees.

ASEM: Ek vergeet darem nie om asem te haal nie, maar soms as die besig mens oorweldig is daar soveel waarde om ‘n paar keer diep asem te haal. God het ons geskep met hierdie wonderlike skakelaartjie in ons senustelsel. Wanneer jy ‘n paar keer diep asemhaal skakel jy die een sisteem (simpatiese senustelsel- die gevoel van oorweldig, angs, veg of vlug) af en jy skakel die ander sisteem (parasimpatiese senustelsel- wat die gevoel van vrede, en in beheer, en ek is okay) aan. Probeer dit gerus, en as jy een van daai slim horlosies het op jou linkerpols, kyk bietjie wat doen jou hartklop as jy ‘n paar keer diep asemhaal. God het ons werklik op ‘n wonderbaarlike manier geskape!

JESUS: Is my ALLES. Ek begeer meer en meer van HOM. Daagliks, altyd, deurlopend…

Ag weet jy wat, ek wil jou sommer kom bemoedig vandag. Ons elkeeen is op ons unieke reis deur die lewe. Ons wonder oor te veel dinge, ons oordink alles tot in die fynste besonderheid. Ek en jy, ons het beslis nie al die antwoorde nie, ons kort gereeld wysheid. Ek en jy verloor vrede en probeer dit dan weer naarstigtelik vind. Ons is onperfek en sondig… MAAR GOD… Hy is die antwoord, Hy is die ene wat ondersteun, en regop hou en hierdie onperfekte reis deur die lewe elke dag saam met jou en my meemaak.

Only by walking with God can we hope to find the path that leads to life. That is what it means to be a disciple. After all—aren’t we ‘followers of Christ’? Then by all means, let’s actually follow Him. Not ideas about Him. Not just His principles. Him. John Eldredge.

 

2 Replies to “Vrede. Rus. Asem. Jesus.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *