Jesus in die Verandering.

Het ek al gesê ek hou nie van verandering nie? Ek hou van standvastigheid, roetine en orde, dit is die afmetings waarbinne ek veilig voel. Ek weet ek weet, verandering is soos ‘n vakansie…

Verandering is soms nodig, maar nie noodwendig lekker nie. Ek weet wel dat verandering meermale groei beteken, en jy leer meer wysheid, soms geduld en soms selfs goedjies van jouself wat jy nie eers geweet het daar diep binne wegkruip nie.

En dis ook nou nie asof ons nie al bietjie oefening gehad het in die hele veranderings-tema nie. Ons het al twee maal na splinternuwe provinsies getrek, maar die begin van die jaar het sy eie uitdagings en veranderings meegebring, en dis al verby Maart en dit voel of ek nog my voete moet vind.

Ek het so bietjie gaan na-dink oor verandering, en hoekom dit vir sommige makliker is as vir ander. Vir sommige mense is dit amper tweede natuur, vir ander minder so. En ja ek weet ook, verandering is die enigste konstante in die lewe… of is dit? En dis hier waar my gedagtes begin vassteek het… by Jesus en verandering, of meer akkuraat Jesus in die verandering.

You can endure change by pondering His permanence. Max Lucado

So dis nou wat ek doen, ek hou vas aan Sy standvastige karakter wat nie verander nie, want midde in die ongemak en verandering is Hy daar, is Hy inderwaarheid, daarder as voor die verandering. Dit is mos waarheid, wanneer dinge ongemaklik raak, wanneer jy die verandering aan jou lyf en selfs in jou slaappatrone ervaar, ervaar jy HOM ook anders, want nou soek jy vir Heilige Gees meer gereeld op? Vir geselskap, vir raad, vir bystand, jy soek Sy aangesig op in die tye wat jy in die nanag wonder of Klaas Vakie dan nou heeltemal van jou vergeet het!

We cannot change our past. We cannot change the fact that people act in a certain way. We cannot change the inevitable. The only thing we can do is play on the one string we have, and that is our attitude. Chuck Swindoll

 So gewapen met hierdie toepaslike aanhaling, het ek inderdaad besluit om my houding en uitkyk effens aan te pas, en in plaas daarvan om die heeltyd te sê: Ek hou nie van verandering nie, sê ek nou… dankie vir die verandering, want dit is waarvoor ons gebid het. Dankie vir U teenwoordigheid in hierdie verandering… en dankie Here dat ek eintlik baie mooi weet… U het my nog altyd deur elke verandering, groot of klein, regop gehou.

Little men with little minds and little imaginations go through life in little ruts, smugly resisting all changes which would jar their little worlds. Zig Ziglar.

Omdat God se karakter so onveranderlik is, omdat Hy my ROTS is, kan ek en jy (al voel ons bietjie ongemaklik) met blymoedigheid elke verandering tegemoeloop, met ons hand stewig in die hand van Jesus. Ek het ‘n klomp versies gaan soek… En vriendin, as jy deur ‘n seisoen van verandering beweeg, maak hierdie woorde jou eie, skryf dit op jou hart, dat elke woordjie jou optel en bemoedig deur hierdie seisoen van verandering.

My liefste Kind,  Daar is ‘n vasgestelde tyd vir elke saak onder die hemel, selfs vir verandering… selfs in die verandering wil Ek hê jy moet vreugde ervaar en die goeie geniet in die lewe, daar is niks beter nie… Dit is ‘n gawe van MY! (Pred. 3:1, 12-13) Ek bly dieselfde, My jare sal nie tot ‘n einde kom nie. (Ps. 102:28) My heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie verby sal gaan nie… (Dan. 7:14) My ontferming teenoor jou ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut. (Klaagl. 3:22-23)

 Ek, die HERE, het immers nie verander nie! (Mal. 3:6) Ek is gister en vandag dieselfde, en tot in ewigheid. (Heb. 13:8) Vergeet die dinge wat agter is, en strek jou uit na wat voorlê. (Filip. 3:13) Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe kom van bo af, kom van My, by wie daar geen afwyking of skadu van verandering is nie. (Jak. 1:17)

 Vertrou op My, met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Ken my in al jou weë, en Ek sal jou paaie reguit maak. (Spr. 3:5-6) Die hemel en aarde sal tot ‘n einde kom, maar My woorde sal beslis nie tot ‘n einde kom nie. (Mark. 13: 31) Verder, Ek, die Ewige van Israel breek nie My woord nie… (1 Sam. 15:29) dit wat Ek beloof het, dit doen Ek. (Rom. 4:21)

 Die dag wanneer jy bang is, vertrou net op MY, (Ps. 56:4) want Ek sal My aangsig oor jou laat skyn en jou genadig wees. Ek sal My aangesig na jou toe oplig en aan jou vrede gee… (Num. 6:25-26) midde die verandering, midde die ongemak, want jy is My kind, aan My behoort jy tot in ewigheid.

One Reply to “Jesus in die Verandering.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *