
In die wye oseaan, op die rotsagtige bodem, klou ‘n oester verbete vas vir lewe en vir dood. Hy weet nie wat verkeerd gegaan het met die vorige filter voeding nie, maar dit voel kompleet asof iets agter gebly het, en nou vassit… ‘n irritasie wat hy nie kan beskryf nie. Hy probeer nog water deur filter, oor en oor, weer en weer, maar helaas die irritasie het gekom om te bly. Dis nou al iewers tussen twee en drie jaar se irritasie waarvan hy net nie ontslae kan raak nie. Dit voel kompleet of die irritasie al gladder en ronder raak… en defnitief groter…Maar wat die Oester nie weet nie, in sy mantelholte het die mooiste pêrel gevorm. Die irritasie en ongemak het verander in ‘n pêrel, maar hiervan het hy nie lekker verstaan nie. Ongemak het skoonheid geword.
Die oester het meer as eenkeer probeer ontslaan raak van die irritasie, Hy het selfs na God gedraai, want hy het nie verstaan wat aan die gebeur is nie, dit kan mos nie die plan wees waarvan Jeremiah 29:11 praat nie? Toe die Oester die eerste keer bewus raak van die pêrel was hy stom-verbaas… Die pêrel se skoonheid het sy asem weggeslaan… nou wou hy haar ten alle koste beskerm… die kosbaarheid en die reinheid…
Lao Tzu het gesê: ‘A journey of a thousand miles begins with a single step.’ Die proses van groei in wie ons is, wie God ons geskep het om te wees, is ‘n geduldige proses… ‘n soms ongemaklike proses.
Laag op laag irritasie vorm die pêrel… die transformasie gebeur nie oornag nie, en beslis nie sonder ongemak en pyn nie. Uit die ongemak en pyn…’n pêrel
As die Pêrel kon praat wat sou sy sê?
Die pêrel sal bevestig dat skoonheid te vind is in die manier hoe ons reageer op die ongemak en pyn. Hoe sê die versie? Beauty for ashes… Elke pêrel herinner ons, op haar stil manier, dat uit die ongemak en uitdagings, kan daar waarlik ietsie besonders, ietsie unieks voorkom.
Ralph Waldo Emmerson het gesê: ‘Adopt the pace of nature: her secret is patience.” Die pêrel wil ons elkeen kom aanmoedig en herinner vandag dat ons geduld moet hê met onsselwers, want groei geskied nie in die afwesigheid van geduld nie. Die Oester jaag nie die pêrel aan om klaar te maak en klaar te kom nie. Die Oester beskerm die pêrel tot die voltooide eindproduk wat asems wegslaan. Groei word nie aangejaag nie. Die skoonheid van die pêrel is nie ‘n getuigskrif van die afwesigheid van ontbering en swaarkry nie, nee die pêrel verseker ons: moenie bekommerd wees as dit tyd vat nie, want ‘n Pêrel se waarde lê juis daarin dat sy raar is, dat sy kosbaar is.
Die pêrel fluister vir my en jou vanoggend: aanhouer wen, wees dapper in die aangesig van jou ongemak en pyn, leef met grasie terwyl jy die lewe vierkantig in die oë te kyk.
Ek dink as die pêrel ‘n Bybelversie gehad het waaraan sy haar hele lewe vasgehou het, dan was dit verseker die versie in Josua 1:9 wat sê:
Het Ek jou nie beveel nie,
Wees dapper en sterk nie?
Moenie paniekbevange wees nie
en moet jou nie laat afskrik nie,
Want die Here jou God is by jou,
Oral waar jy gaan.
Sy is ‘n Pêrel in Sy Hand
In die diepte van die oseaan,
waar stilte swaar hang soos water,
het sy geleer
om pyn toe te vou in geduld.
Wat haar moes breek,
het haar uiteindelik gevorm.
In die dieptes van die see
het sy geword…
Elke pynlike traan
was nie verlore nie;
want Hy is dié Een wat dit getel het.
Dit afgevee het.
Dit vasgevang het
in die skatkamers van die hemel.
Wat haar wou breek,
het Hy begin heilig.
In die wagtyd
het sy uiteindelik geleer,
dat die donker nie God se afwesigheid is nie,
maar soms Sy werkswinkel.
Dat stiltes wat leeg en alleen voel,
vol van Sy beloftes en teenwoordigheid is.
Haar binneste het Hy stukkie vir stukkie
met Sy HOOP beklee.
Want in Sy koninkryk
word sand heilig,
word pyn aanbidding,
word ’n vrou
deur genade gevorm
tot iets kosbaars
in die palm van God se hand…
Waar sy veilig is.

Amen 🙏 Dankie vir die diep mooi ❤️❤️