Onderstebo-Kop-Kind.

Jy vra-smeek: “Vergewe my my sonde, want dit is groot Here, só groot?”, (Ps. 25:11) maar Ek sê vir jou, My Onderstebo-kop- kind, tel op jou kop, daar is geen mens op aarde wat regverdig is nie, niemand wat goed doen en nie sondig nie! (Pred. 7:20) Ek het jou sonde op My Seun laat afkom, (Jes. 53:6) want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe wat Ek gee is die Ewige lewe. (Rom. 6:23) Ek het jou sondes aan die kruis vas gespyker en dit weggeneem. (Kol. 12:14)

Ek wil vir jou ‘n ander hart gee. Ek gaan die kliphart uit jou liggaam uitskeur en jou ‘n hart van vleis gee. (Eseg. 11:19) Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen jou dat Ek die lewe en die dood aan jou voorhou, die seёn en die straf. Kies die lewe sodat jy kan lewe. (Deut. 30:19) Ek het jou so bitterlik lief dat ek My enigste Seun gegee het, vir jou, sodat jy wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewigheid by My sal deurbring. (Joh. 3:16)

Weet net dit geliefde, as jy jou sondes bely: Ek is getrou en regverdig. Ek vergewe jou volkome… Ek reinig jou. (1 Joh. 1:9) Al was jy skarlakenrooi van sonde, jy sal wit word soos sneeu. (Jes. 1:18) So ver soos die Ooste van die Weste is, so ver verwyder Ek jou oortredinge van jou af, (Ps. 103:12) want verstaan jy nog nie? So groot as die afstand tussen die hemel en aarde is, so groot is My liefde vir JOU! (Ps. 103:11)

Jy is dood vir die sonde. (Rom. 6:11) Moet dan nie toelaat dat die sonde verder oor jou lewe heers nie. (Rom. 6:12) Jy staan immers onder My genade. (Rom. 6:14) Heers jy dan oor die sonde as vrygemaakte, gebegenadigde mens, (Gen. 4:7) want Ek het jou sondes in die diepsee gegooi. (Miga 7:19)

Dit gaan met jou goed, My kind, Ek reken jou oortredinge jou nie toe nie. (Ps. 32:2) Dit is Ek wat jou sondes vergewe, wat al jou siektes genees, Ek kroon jou met liefde en ontferming. Ek laat jou die goeie in oorvloed geniet. (Ps. 103:3-5)

As jy ander mense hulle oortredinge vergewe, sal Ek, jou Hemelse Vader, jou ook vergewe. (Mat. 6:14) Vergewe die ander persoon sewe maal sewentig keer. (Matt. 18:22) Spreek vry, en jy sal vrygespreek word. (Luk. 6:37)

Glo met jou hele hart, en word vrygespreek, bely met jou mond en word gered. Niemand wat in My glo sal teleurgesteld wees nie. (Rom. 10:10) So is dit dan! Elkeen wat My Naam aanroep, red Ek. (Hand. 2:21) Onthou, kind-na-aan-my-hart, Ek weet waarvan jy gemaak is, Ek hou dit in gedagte dat jy net stof is. (Ps. 103:14)

Ek is ‘n God wat vergewe, genadig, barmhartig, lankmoedig, vol liefde. Ek sal jou NOOIT verlaat nie. (Neh. 9:17) En hier is My belofte aan jou: Ek gaan jou vooruit, Ek is by jou. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie. Moenie skrik nie. (Deut. 31:8) Ek is by jou oral waar jy gaan (Jos. 1:9) Ek ontferm My oor jou, my onderstebo-kop kind. (Ps. 103:13) Jy is vergewe…