Dit is wat dit is…

Ek dink dit is ‘n sinnetjie wat ons tieners moet ken en onder die knie kry en okay moet wees mee, want nee, die lewe is toe nie ‘n sprokiesverhaal nie. Alles loop nie altyd lekker en reg nie, en nee, die lewe en die wêreld skuld jou toe aan die einde van die dag, net mooi niks nie!

Die lewe is soms oorweldigend onregverdig- en dit is ook wat dit is- as dit eers ingesink het… dan is die lewe sommer oor die algemeen makliker. As ons net kan leer om skouerophalend okay te wees om met die kaarte te speel wat die heelal vir ons uitdeel… maar nog meer as ons dit sommer vroeg-vroeg vir ons tieners kan leer-dit is wat dit is.

Sommige situasies kan eenvoudig nie verander word nie, al wat oorbly is die aanvaarding. Weet jy hoekom is hierdie sê-ding (wat ek hoor my tieners nou glad ook al gebruik) so kosbaar? Want leef ons nie in ‘n wêreld wat redelik in chaos gedompel is nie met imperfekte mensies wat op die oppervlak spoeg en spartel nie? Soms moet ons maar net skouerophalend aanbeweeg.

Om die teen die prikkels te skop en te rebelleer teen ‘it is what it is’ veroorsaak net ongelukkigheid in hart en siel. ‘Mamma ek is bekommerd oor my wiskunde punte- ek het nie lekker geskryf nie.’ ‘Ai sussie, mamma hoor jou, dis nie lekker nie, jy kan nou niks daaraan verander nie, dit is wat dit is… waarop kan jy sinvol fokus, waar jy nog iets kan verander? Maandag se wiskunde eksamen? Nou konsentreer daarop, en los die bekommernis oor die goedjies wat jy nou niks kan aan verander nie…”

Kosbare lessies- ons tieners- bless their hearts, raak groot met ‘n reuse entitlement, en volgens hulle skuld die heelal hulle beslis ietsie. Vriendin, en met woord en daad (en soms gebede) moet ons hulle die waarheid wys en voor stap en dit uitleef, die wêreld skuld niemand niks.

Weet jy wat is vir my so bevrydend van hierdie eenvoudige sinnetjie? Dit is miskien wat dit is, maar God is onveranderlik, God is goed en God is nog die heeltyd in beheer. God is in die ‘dit is wat dit is’.

Wat as ons na ‘dit is wat dit is’ kyk met ‘n ewigheidsperspektief? Soms ervaar ek en jy teleurstellings, maar agter die skerms is dit nie teleurstelling nie, maar beskerming. Soms ervaar ons pyn, maar in die pyn, skuur en skaaf God aan ons karakter- die meer en meer soos Jesus…

En soms wanneer dit voel of niks wil uitwerk soos ons wil nie… dan is dit God wat sê, wees geduldig, Ek het het iets beters vir jou in gedagte.

Vriendin, maar ons moet versigtig wees dat ons “dit is wat dit is” nie hard en ongenadig is nie. Dit is wat dit is, kom net bietjie oor jouself… dit is wat dit is… ‘n gegrens en geklaery gaan nou net mooi niks verander nie. Wel dis nou bietjie laat… Nee dit moet genadige woorde wees. Woorde wat opbou en moed gee, nie afbreek nie!

As ouers moet ons ook darem vir ons kinders kan leer… Soms kan jy regtig absoluut niks aan ‘n sekere situasie verander nie, soms is dit eenvoudig wat dit is, ons moet hulle leer dat leiersposisies nie alles is nie, jou identiteit lê nie in jou wiskunde punte nie, jou rapport bepaal nie jou waarde nie. (Daar is te veel ouers wat hulle eie drome deur hulle eie persoonlike kindertjies wil leef, ai stop dit toe? ASB? Kids kry swaar genoeg soos dit is, hulle het nie al die ekstra druk oor die beste wees, goeie rapporte en leierskapposisies nodig nie!)

Ek het gaan soek vir ‘n “dit is wat dit is” versie: Hier kom hy: Jeremiah 31:3 AMP- The Lord appeared to me (Israel) from ages past, saying, “I have loved you with an everlasting love; Therefore, with lovingkindness I have drawn you and continued My faithfulness to you.”

God is orals, in elke tydsdimensie, in jou hart, daar langs jou. So ongeag jou situasie onthou, Sy liefde en goedertierenheid is oral en in alles… God is ook in elke ‘dit is wat dit is’ situasie!

 

One Reply to “Dit is wat dit is…”

  1. “dit is wat dit is “. Dankie Martha vir die mooi boodskap. Gesëende naweek vir julle. Xx❤️❤️🙏🙏

Comments are closed.