
Is ons? Geskape om gelukkig te wees? Hang dit moontlik af van ons definisie van gelukkig? En is dit ‘n hemelse gefundeerde definisie, of ‘n aardse ene, ‘n definisie met die hulp van Tik Tok? Of AI?
Geskape om gelukkig te wees… net misken soek ons eintlik net nog ‘n pick-me-up-prosperity prekie. En hoe verskil gelukkig wees en ‘vind jou vreugde in die Here’ en wat is die verskil nou eintlik? Wonder jy ook oor sulke goedjies? Of is dit net ek?
Miskien moet ons dan net gelukkig definieër? En gaan elkeen se definisie nie verskil volgens ons eie persoonlike voorkeure en persoonlikhede nie? Is gelukkig en tevrede dieselfde ding? Of is hulle doel om handjies te vat en in die stop paadjie af te loop met ‘n mooi son wat in die agtergrond sak?
So baie mense is vasgevang in die definisie van aardse geluk… en ons kyk met leepogies na Sannie se FB blad wat oorsee is vir een of ander ding. En ons wonder hoekom is sy só gelukkig, maar ek nie? Ons kyk na een of ander influencer (ek praat nou eintlik van ons tiener-kinders) en ons meet en pas ons eie lewe, maar dit voldoen nie aan die “Ek is só gelukkig” maatstawwe nie.
Christianity is…holiness and happiness, the image of God impressed on a created spirit; a fountain of peace and love springing up into everlasting life ~John Wesley
God is die enigste, oorspronklike bron van ons vreugde. Vreugde op enige ander plek gesoek en gevind, sal kortstondig en vlietend van aard wees.
Toe God Adam en Eva gemaak het, het hulle in ‘n mooie Paradys geplaas, met alles wat hulle moontlik kon nodig hê, toe stap sonde in die Paradys in en dit was nooit weer dieselfde nie. Soos die sonde instap moes Adam en Eva uitstap, sielsongelukkig, ver van God, (nie meer in Sy teenwoordigheid nie) Sien soos baie van ons het hulle ook die vyand se definisie van ‘gelukkig wees’ soos soetkoek opgeëet
Ons menslike natuur is om te voel ons kort nog iets om werklik gelukkig te wees. Daar is hierdie gat in ons binneste wat maar net nie wil vol nie, wat smag na dinge wat nooit daai gat sal vol maak nie. Aardse dinge en beloftes van groter en beter en ‘jy is dit werd’.
Hoe nader jy aan God se hart leef, hoe meer jy smag om soos Jesus te wees, hoe kleiner sal die gat in jou eie hart wees, hoe gelukkiger sal jy wees, want jou geluk en vreugde soek en kry jy by God. God wil hê ons moet gelukkig wees, maar nie ten koste van die Ewige Lewe saam met Hom nie. Sommige aardse geluk verwyder ons al verder van God se hart af. Die tema van die Nuwe Testament skree nou nie juis: Jy moet ten alle koste gelukkig wees nie. Markus 8:34 sê Jesus: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg.”
Miskien is dit tyd dat ons gelukkig herdefinieër? Gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie. (Matt. 11:6) Geluk is die vaste vetroue in God, in wie Hy is, in wat Hy kan doen.
Die oorbekende Bergrede in Matteus 5:1-12 sê die volgende mense is die gelukkiges…
Gelukkig is die armes van gees…
(die nederiges wat goed besef presies hoe afhanklik hulle van God is).
Gelukkig is die wat treur…
(treur oor sonde en die toestand wat die wêreld in is).
Gelukkig is die sagmoediges…
(die wat nie hulle eie belange najaag nie).
Gelukkig is die wat honger en dors na geregtigheid…
(wat smag daarna om te leef volgens God se wil vir hul lewens).
Gelukkig is die barmhartiges…
(wat die seer in ander se lewens raaksien, wat ander met deernis en vriendelikheid behandel).
Gelukkig is die wat suiwer van hart is…
(wat meer as enige iets anders in toewyding aan God wil leef).
Gelukkig is die vredemakers…
(wat versoening wil bewerkstellig in ‘n stukkende wêreld).
Gelukkig is die wat vervolg word…
(diegene wat God eerste stel en Hom kies, altyd…)
Anders as die wêreld se geluk nê vriendin, bg lees ampertjies soos ‘n getuigskrif. Dit is nie gevoel nie, maar verhouding. ‘n Intieme, lewendige verhouding met die God van die hemel en die aarde. Dit gaan oor hemelse perspektief, om op die aarde te woon, ja, maar met ons oë stewig gevestig op Jesus en die hemel… ‘n Ewige Lewe saam met God.
Ek het nou al heel vergeet van vreugde, maar as ek dink aan vreugde dan kom daar een baie belangrike versie by my op: Ek wil hom net vir jou gee uit ‘n ander perspektief: Vind jou vreugde in MY, en EK sal jou gee wat jou hart begeer. (Ps. 37:4) Enige iets? Jy sien vriendin, wanneer jy jou vreugde by God se voete gaan loop soek, en nie in die wêreld nie, gaan jou hart se begeertes nie lyk soos die wêreld se begeertes nie.
As ons Jesus voor oë het, as ek en jy diep in Jesus se oë staar en ek vra op daai selfde tyd: Wat is jou definisie van geluk? Vir my is dit dit! Ek wil in my Verlosser se oë wegraak, Ek wil Sy hart hoor klop vir my en deur my… Ek wil voor Hom staan met verwondering oor wie Hy is, en wat Hy vir my persoonlik kom doen het. Dis om gelukkig te wees, as jy hierdie dinge weet en dit glo…
So is ek en jy geskape om gelukkig te wees, as dit dié tipe geluk is? Verseker!
Ek los jou vandag met hierdie mooie versie, skryf hom op jou hart, maak hom jou eie:
You will show me the path of life; In your presence is fullness of joy; In your right hand there are pleasures forevermore. (Ps. 16:11 [AMP])

Baie Dankie ❤️