Jesus Min My!

As ek my weer kon kry dan het my kop iewers by ‘n liedjie loop vassteek!

Jesus min my salig lot
Dit leer my die Woord van God
Al is ek ook swak en blind,
Nogtans noem Hy my Sy kind

Ja, Jesus Min My!
Ja, Jesus Min My!
Ja, Jesus Min My!
Ek weet dit uit God’s Woord.

Ek gaan kyk toe wat sê die verklarende woordeboek oor die werkwoordjie min, en weet jy wat staan daar? Ww. (gemin). (verh.) Liefhê; bemin: Jesus min my. So tot die verklarende woordeboek weet, ons dien ‘n God wat ons min.

Ek loop en wonder toe sommer… hoe lyk dit as Jesus My, sondige mens, min? Hoe voel ek dit aan my lyf, hoe sien ek dit in my lewe, daar waar die tekkie die teerpad tref? Wat beteken dit om gemin of eerder bemin te word deur die God van die heelal?

Jesus Min My met Sy hele hart en hierdie suiwer liefde hang nie af van my doen en prestasies nie, die Min My, is gewortel in Sy onveranderde karakter, Sy essensie, wat liefde is. Gelukkig tog word my en jou identiteit nie bepaal deur ons sondige natuur, wat ons soms so sukkel om afgeskud te kry nie. Ek en jy is die dogter en seun van die Koning, nie oor ons so oulik is nie, inteendeel glad nie, ons is Koningskinders en daarop kan ons aanspraak maak oor WIE HY IS!

Jesus Min My, want God is liefde. (1 Joh. 4:8) Dit maak my Sy geliefde. Sy liefde vir my en jou is ‘n onbeskryflike, onvoorwaardelike, nimmereindigende agapé liefde. ‘n Liefde ten spyte van. En hierdie Jesus, wat my en jou so min, wil hê ons moet verstaan; dat absoluut niks ons ooit kan skei van hierdie liefde wat Hy vir ons het nie. (Rom. 8:38-39) Dat Sy liefde vir ons so groot is dat Hy namens ons, gewillig, gesterf het… vir my en vir jou… (Joh. 3:16) Ek en jy is in Sy liefde gewortel en gegrond. (Ef. 3:17)

Ek is Sy kind, daarom Min Hy my! (1 Joh. 3:1) Van my geboorte af is ek onder U sorg, van die begin van my lewe af is U my God. (Ps. 22:11) Omdat ek Sy kind is, is ek ‘n erfgenaam, nie van wat Hy het nie, maar wie Hy is.

God het my eerste liefgehad (1 Joh. 4:19) Met liefde en genade het Hy my aanmekaargeweef na Sy beeld (Gen. 1:27). Voor die grondlegging van die aarde het Hy oor my gesing en oor my gedroom. Sy planne vir my was nog altyd goed (Jer. 29:11). Hoe min Hy my nie as Hy saggies fluister: Ek het jou nog altyd liefgehad. (Jer. 31:3)

Jesus Min My– want oral waar ek gaan, daar is Hy by my. (Jos. 1:9) Selfs, ja selfs as ek deur die dal van doodskaduwee beweeg, sal ek nie vrees nie, sal ek nie bang wees, want Hy is met my, in my, om my… (Ps. 23:4) Hy is naby. (Filip. 4:5)

Jesus Min My, Sy liefde en trou hou my regop. Hy lei my deur Sy liefde, en ek lewe deur Sy trou. (Ps. 26:3) Dit is goed om die HERE te dank, om U Naam te besing, Allerhoogste; om in die môre U troue liefde te verkondig, en U trou in die nagte. (Ps. 92:2-3) U troue liefde, my Here en my GOD, is meer werd as die lewe; daarom sal ek U prys. (Ps. 63:3)

Ek word bemin deur ‘n goeie Vader en God. Daarom sal ek sing tot U eer, want aan my het U goed gedoen. (Ps. 13:6) Kom ondervind en sien self, dat die Here goed is vir my en jou. (Ps. 34:9) Weet dan nou: Die HERE jou GOD, Hy is GOD. Hy is die betroubare God wat Sy verbond in stand hou. (Deut. 7:9) Ek sê vir myself: Die HERE is my lewe daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop… (Klaag. 3:24)

Jesus Min My, dis vir mý wat Hy begenadig het. (Ef. 2:5) Ek is inderdaad geregverdig deur Sy genade. (Titus 3:7) Uit Sy genade is ek en jy verlos. (Ef. 4:5) Christus se krag beskut my, Sy genade was nog altyd vir my genoeg, wanneer ek op my swakste was, was Hy sterk in my, was Hy sterk namens my. (2 Kor. 12:9-10)

Omdat die God van die heelal my min, het Hy my verseël met die Heilige Gees. (Eph. 1:13) Die Gees wat Jesus uit die dood opgewek het, bly in my en jou. Sy opstandingskrag is in my en jou. (Rom. 8:11)

Vir my het Hy uitverkies, dis hoe baie Hy my min. So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in HOM uitgekies… (Ep. 1:4) Uitverkies om anders te wees, anders op te tree… Nog voordat ek en jy gevorm is, het God ons op die naam geken. (Jer. 1:5) Gemaak deur God vir God. As God se uitverkore, heiliges en geliefdes, moet ek en jy onsself beklee met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. (Kol. 3:12)

In die God wat jou min se oë is jy kosbaar. (Jes. 43:4) Die Here vind vreugde in jou. (Jes. 62:4) Vandag wil Hy seker maak dat jy weet jy hoef nie bang te wees nie, want Hy het jou losgekoop, Hy het jou op jou naam geroep- aan HOM behoort jy! (Jes. 43:1) Dit is Hy wat jou naam in Sy handpalms gegraveer het. (Jes. 49:16)

Omdat U My Min, wil ek U liefde op my hart graveer. (Spr. 3:3) Ek weet dat U my ondersoek en ken…  U ken my sit en opstaan… al my paaie is aan U bekend. Van voor en agter omsluit U my, U plaas U handpalms op my. U het my niere geskep, my in die moederskoot geweef… ek is op ‘n ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak… hoe kosbaar is U gedagtes vir my? (Ps. 139) Hoe min U my, o God!

2 Replies to “Jesus Min My!”

Comments are closed.