
En ek in myn. Dit is die enigste reëltjie wat vir dae in my kop gekuier het, al wat ek kon onthou, was dat dit ‘n kinderkrans liedjie was van vervloë se dae. Ek onthou baie goed, kinderkrans was op ‘n Vrydagmiddag half drie en die koster-tannie het ons met ‘n bussie kom haal…My man het net sy kop geskud toe ek die liedjie probeer sing, dis ‘n Oos Kaap ding sê hy.
Uiteindelik kan ek dit toe nie meer hou nie! En ek vind die liedjie… jy moet net lank genoeg soek
Laat ons skyn vir Jesus
Met ‘n helder glans
Skitter soos die sterre aan die Hemeltrans
In die donker wêreld,
Skyn dan, skyn-
Jy in jou klein hoekie
En ek is myn.
Ken jy die liedjie? Nietemin en ek dink nogals by myself toe ek die woorde so lees, die wêreld lyk soms donker nê? Eintlik moet dit ons nie verbaas nie, het Jesus nie presies dit gesê nie? Die Passion sê dit die mooiste: “And everything I’ve taught you is so that the peace which is in me will be in you and will give you great confidence as you rest in me. For in this unbelieving world, you will experience trouble and sorrows, but you must be courageous, for I have conquered the world!” (John 16:33 TPT)
Maar ek wil glad nie fokus op die donker wêreld nie, want ek en jy weet baie goed dat ons nog nie in die hemel is nie. Ons is op die aarde, en hier is gebreektheid en gebroke mensies aan die orde van die dag, want met sonde en die vyand wat soos ‘n brullende leeu rondloop kan dit sekerlik nie anders nie! Maar Jesus sê: “Ek is die LIG vir die wêreld. Wie my volg, sal beslis nie in die duisternis leef nie, maar sal die LIG van die lewe hê.” (Joh. 8:12 [2020]) Jesus is my en jou lig, selfs die donker is lig, want ek en jy behoort aan HOM!
Ek wil vanoggend fokus op die reëltjie wat in my kop verdwaal het, skyn dan skyn… jy in jou klein hoekie en ek in myn…
Doen alles sonder kla en teenpraat, sodat julle sonder blaam en onskuldig kan wees, kinders van God, smetteloos, te midde van ‘n krom en ontaarde geslag. Julle skyn onder hulle soos sterre in die heelal deurdat julle vashou aan die woord van die lewe. (Filip. 2: 14-16 [2020]) Klink dit nie asof die skrywer van die kinderkrans liedjie dalk sy inspirasie hier gekry het nie?
Maar as ons in die LIG leef, soos wat Hy in die LIG is, is ons aan mekaar verbonde, en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. (Joh. 1:7 [2020]) En ons kan probeer maar ons moenie vers 6 ignoreer, of net skrams bo-oor lees nie: As ons sê dat ons aan Hom verbonde is, en tog in die duisternis leef, lieg ons, en leef ons nie volgens die waarheid nie… (Joh. 1:6 [2020]) The proof is in the poeding! En daai poeding is ek en jy!
Ons moet nie net God se LIG reflekteer nie, maar deur die weerkaatsing moet ons aksies Sy karakter wys, ons moet die wêreld verhelder en verlig met goedheid en waarheid (maar nie ons eie waarheid nie, net God se waarheid) Julle is die LIG vir die wêreld… Laat julle LIG só voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, kan verheerlik. (Matt. 5:14,16 [2020])
Wat jy doen en sê… laat dit ‘n getuigskrif wees van wie God is vir jou en in jou. Miskien is jou klein hoekie en die liggie wat jy daar skyn, die rede hoekom iemand besluit om die aangesig van God te gaan opsoek.
Ons hoef nie ons geloof en lig weg te steek nie, ons hoef ook nie met die Bybel onder die arm rond te paradeer nie, maar as ander na my en jou kyk moet hulle nie wonder nie, hulle moet weet aan wie ons behoort.
Dit is U wat my lig laat skyn, HERE. My God verlig my donkerte. (Ps. 18:29 [2020]) Ons is nie LIG nie, God is ons LIG, ons weerkaats net WIE HY IS!! En wat beaam Psalms 27:1? Die HERE is my LIG en my redding- vir wie sal ek vrees? Watter storm? Watter siekte? Watter ongemaklikheid ook in my lewe teenwoordig is…
Hoe lyk ons liggies wat ons skyn, jy in jou klein hoekie en ek in myn? ‘n Liggie wat getuig van medemens-omgee en naaste liefde. ‘n Liggevulde lewe wat geleef word op so manier, dat dit God se hart bly maak. Om deernis te hê met die ene wat langs jou loop, werk, gym, want nie ek of jy weet presies hoe donker sy of haar lewe daarna uitsien nie.
My girls praat van ‘n ‘Influencer’, maar nie van modes en nuwe trends nie, maar van God se goedheid en liefde. Ek het influencer gaan opsoek in Afrikaans, dis ‘n beïnvloeder, nie seker of ek google op die ene gaan glo nie. Volgens Netwerk 24 is die woord Smaakmaker die wenner. Gits, ek weet nou nie so mooi nie! Nietemin, ek en jy moet die ene wat langs ons loop beïnvloed met God se LIG, ons moet God vir hulle wys, deur ons liefde en genade wat ons teenoor ander uitleef. Ons moet sonder woorde vir mense kan wys hoe goed God vir ons is.
Want is God nie goed vir my en jou nie? Altyd naby, vol vergifnis, vol genade… ons hoef net in opregtheid ons arms uit te steek en Hy sal ons opraap en dra soos die verlore seun se Pa hom vasgegryp het, ‘n vasgryp wat getuig van veiligheid, Ek het jou, en Ek sal jou nie laat gaan nie, Ek sal jou nie begewe of verlaat nie!

Die mooiste diepste boodskap!!!!! Ons is nooit alleen!!!! Jesus sal ons nooit ooit verlaat nie. Dankie Here. Amen 🙏