Perspektief: Die Tapeserrie.

Jou lewe is soos ‘n tapeserrie, meesterlik inmekaargeweef deur die Groot Kunstenaar. Die Groot Meester sit op Sy stoel en met eindelose liefde en geduld, met die mooiste kleur kombinasies, weef Hy jou lewe inmekaar. Hy die Kunstenaar van die heelal, sit dag na dag op die stoeltjie besig om jou Tapeserrie te voltooi.

Dis Hy wat jou gevorm het en aanmekaargeweef in die skoot van jou moeder. Dis Hy wat jou op ‘n wonderbaarlike wyse geskep het. (Ps. 139:13-14)

Jy hoef nie te fokus op die Tapeserrie nie. Die Kunstenaar is in beheer en jy kan Hom vertrou. Maak jou los van wat agter is en strek jou uit na wat voor is. Span jy jou maar net in om by die wenstreep te kom. (Fil. 3:13-14) Geen rede hoekom jy jou hoef te verknies of jou Tapeserrie mooi gaan lyk, of betyds gaan klaar wees nie.

Hoor vanoggend wat fluister die Kunstenaar in jou oor. “Ontspan liewe kind, My gedagtes is nie jou gedagtes nie, en jou optrede nie soos Myne nie, soos die hemel hoër is as die aarde, so is My optrede verhewe bo jou optrede en My gedagtes bo jou gedagtes. (Jes. 55:8-9)”

Hierdie moet jy weet, liefste kind van die Kunstenaar en dit vasmaak in jou hart. Die Kunstenaar sit aan die voorkant van die tapeserrie en dit wat Hy sien noem ons kuns, jy daarenteen staan aan die agterkant van die tapeserrie en sien net ‘n klomp deurmekaar drade en kleure wat volgens jou nie eers lekker bymekaar pas nie. Jy sien die Kunstenaar sit in die hemel, en jy op die aarde.  Ons kyk nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is… (1 Kor. 13:12) eendag maar nie nou nie, nie vandag nie.

Sien hier is die ding, elke onvoltooide tapiserrie het vertikale drade waardeur die wol en sy geweef word, die vertikale drade is nie sigbaar in die eindproduk nie, maar tog kan die tapiserrie nie vorm aanneem sonder die vertikale lyne nie. Jou storie word geweef deur die genade van Jesus, Jesus die onlosmaaklike deel van jou storie, altyd daar om jou bymekaar te hou. Dis Jesus waar om, in en oor jou storie geweef word.

Soms wanneer die lewe jou knieë knak en als net te veel raak, wanneer jy met ‘n betraande gesiggie na die Tapeserrie-Maker kyk en moedeloos fluister: “Ek verstaan nie, hoekom?” Moenie probeer inmeng in die ontwerp, of die kleure wat die Meester gebruik nie, nee los dit in Sy bekwame hande… Hy weet wat Hy doen… As ek in beheer sou wees van my eie tapiserrie, watter droewige dag sal dit tog nie wees nie? Ek sou sekerlik net blou en groen kleure gekies het, onbewus van die asemrowende ontwerp wat die Meester reeds uitgewerk het.

Soms kies die Meester ‘n donker kleur, selfs swart, en dis swaar en dis moeilik en ongemaklik vir jou, maar tog ook deel van die meesterstuk, ook deel van die eindproduk. Soms is die kleure lig en vrolik, tye van blydskap, hoop en passie.

Eendag wanneer die groot Kunstenaar jou terugroep huistoe, wanneer jou uurglas hier op aarde uitgeloop het, sal die Kunstenaar en Skepper van alles jou nooi om op Sy knie te klim, en dan my liewe vriendin sal jy jou asem ophou want dit sal die mooiste ietsie wees wat jy nog ooit aanskou het. Saam-saam sal jy en Pappa Vader jou tapeserrie bekyk en jy sal diep dankbaar wees dat Hy die Kunstenaar was en nie jy nie, maar tot dan los ek jou met Jesus se woorde in Johannes 13:7: “Wat Ek doen begryp jy nie nou nie, maar later… eendag liewe dogter sal jy verstaan”

 

4 Replies to “Perspektief: Die Tapeserrie.”

Comments are closed.