Stokke en Klippe.

Hier is ‘n lekker eksperiment vir jou wat jou ure, miskien dae kan besig hou! Vat ‘n buisie tandepaste (enige maak sal werk) en druk dit uit. Soos in die hele buisie. Nou vir die interessante deel, probeer nou om die tandepaste terug te kry… Wat bedoel jy, jy kan nie? Sien woorde wat ons uiter is baie so. Die woorde wat jy sê kan nie net teruggevat word nie. Dit kan nie ongedaan, ongesê word nie.

Ek het nog altyd gewonder oor die Engelse spreekwoord: “Sticks and Stones may break my bones, but words can never hurt me.” Ek het tot die slotsom gekom: die persoon wat dit gesê het was seergemaak, afgekraak deur onnodige woorde met skerp kante wat diep tot in die siel sny. Ek het op hierdie anonieme sê-ding afgekom wat soveel meer akkuraat is: “The tongue has no bones but is strong enough to break a heart.”

My jongste het met ‘n nuwe sê-ding by die huis aangekom. Sy sê iets wat so klein bietjie minder vleiend is en dan voeg sy haastig by, ‘no offense’. So ek het dit tot vloekwoord verklaar. Hoekom? Want geen sin behoort ooit te eindig of te begin met ‘no offence’ nie. Jy kan nie iets vreesliks negatiefs vir iemand sê en dan as ‘n voetnota byvoeg jy bedoel dit in die beste manier moontlik nie. Nee man, daar bestaan nie so iets nie. My motto? As jy nie iets moois kan sê nie, bly eerder stil. Wees spaarsamig met jou woord, ‘n mens met insig bly kalm. (Spr. 17:27) Wees soos die Spreuke 31 vrou, as sy praat is dit met wysheid. Wyse woorde kraak nie af en maak seer nie. Wyse woorde bou op en gee hoop en maak wonde heel.

As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. (Jak. 1:26) Ons is op aarde gesit om Jesus se hande en voete te wees… mind you en Sy mond ook. So miskien moet ons onsselwers afvra: Wat sou Jesus vir hierdie persoon gesê het? As ligdraers van Jesus is my en jou werk om mense heel te maak en nie by te dra tot die verwondheid van die mensdom nie.

Elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie, en nie te gou kwaad word nie. (Jak. 1:19) Ek dink dis hoekom ons twee ore en een mond gekry het. Luister twee maal soveel soos wat jy praat.

Sit ‘n wag voor my mond, Here hou tog wag oor wat ek sê. (Ps. 141:3) Sien die Psalmdigter het self besef as die tandepaste uit is, is dit uit. Ons moet regtig 24/7, 366 dae per jaar ‘n wag voor jou mond hê. Luister, jou wag het geen ‘tea breaks’, geen ‘lunch breaks’

nodig nie. Ek weet, ek weet, soms is dit bitter moeilik en jy kan amper die bloed proe soos jy daai tong vasbyt. Tel tot 10, tel tot 1000. Praat wanneer jy kalm is. Die tong is ‘n klein liggamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. (Jak.3:5)

Soms gebeur dit… baie… dat ons in die hitte van die stryd iets sê wat maar eerder ongesê moes gebly het, skree op ‘n kind wat se ore nie werk nie, verloor jou cool en daar storm die woorde uit jou mond, ongetel. Dit gebeur met ons almal. Moet dit nie net daar laat nie. Gaan sê jy is jammer. Jy het dit nie bedoel nie. Gaan maak reg, vandag nog. As dit jare terug gebeur het, gaan maak reg. Dis nooit te laat nie.

Moet van niemand kwaadpraat nie, en nie rusie soek nie. Wees inskiklik en altyd bedagsaam teenoor almal. (Titus 3:2) Don’t poke the bear. As jy sien manlief kom knorrig by die huis aan. Gee spasie, gee genade. Geen woorde nodig nie.

Chuck Swindoll het gesê: We need to think of our tongue as a messenger that runs errands for our heart. Our words reveal our character.

My gebed vir myself en vir jou: Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, (Ps. 19:15) dat my woorde altyd vriendelik en van goeie smaak getuig. (Kol 4:6) Mag God woorde in jou mond lê (Jer.1:9) wat soet soos heuning is, woorde wat genees, woorde wat opbou, woorde wat die karakter van Jesus Christus reflekteer.

 

4 Replies to “Stokke en Klippe.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *