
Konneksie sonder wifi is moontlik! Dis die naam van ‘n taak wat ek en twee vriendinne (Erné en Desirèe) gedoen het, en dit was hope pret, maar sjoe dit was ‘n ‘eye opener’ soos die Engelsman sê. En luister ek is nie een van dáái ma’s wat die duiwel agter elke klip soek en hom agter elke bos wil uitskop nie, maar vir my is dit duidelik dat die vyand ons fone en veral sosiale media gebruik om ons kinders, maar veral ons tieners by te kom.
Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe. (Spreuke 4:23 [1953])
Ons fone is nie net ‘n handige instrument wat ons toevallig ALTYD saam met ons dra nie. Elke ping, elke sinnelose ‘scroll’, elke ‘like’, elke vibrasie, elke notifikasie is gemaak om jou brein te manipuleer… Die slimfoon is geskep met ‘n baie spesifieke doel! En selfs as jy nie wil kyk, wil optel, wil aandag gee nie, het jou brein geen ander keuse as om te reageer nie. Jou aandag word letterlik gesteel.
En as jy vir jouself vra: wat is nou eintlik die bohaai… dis mos regtig nie so erg nie! Dan beter ek en jy besin, want ons moet die koste bereken, wat kos hierdie SkermSkelm ons? Tyd vir een, slaap… maar die belangrikste is konneksie met die mense vir wie ons lief is. Ek het ‘n angswekkende ding gehoor, nuwe mammas ‘bond’ nie meer so lekker met hulle babas nie. Wil jy weet hoekom? Wanneer hulle hierdie kosbare nuwe babatjies voed, kyk hulle nie meer diep in hierdie einste kosbare kindertjies van God se ogies nie, want tussen hulle en die baba is ‘n skerm. ‘n Skelm wat verhouding en konneksie steel.
Weet jy wat was die heel eerste keer wat ek besef het, hierdie SkermSkelm is ‘n reuse probleem wat jou geheel en al sal insluk? Ek het uit pure verveeldheid ‘n paar jaar gelede Candy Crash afgelaai, ai ek weet, mens so sweer as grootmens sal mens nou ook beter weet. Nietemin, die probleem was: Ek kon eenvoudig nie die speletjie neersit nie, Ek het selfs in die nag daarvan begin droom. Skrikwekkend, nê? Na ‘n week van obsessie het ek die speletjie van my foon verwyder.
Weet jy wat waardeer ek die heel minste op die oomblik van die SkermSkelm? Sy vermoë om mens te laat voel dat jy nooit goed genoeg is nie, want wat doen ek en jy (maar veral die tiener in ons huis)? Ons vergelyk ons met ander… en as gevolg van hierdie vergelyk gogga wat altyd sy kop uitsteek, het ons amper almal ‘n alter-ego geskep. ‘n Sosiale Media wêreld, waar mooi mense lekker goed doen, suksesvol is… ‘n wêreld waar alles klopdisselboom gaan. ‘n Probleemlose wêreld.
Theodore Roosevelt het gesê: Comparison is the thief of joy.
Ons arme jong tiener-bloedjies, leef in ‘n konstante toestand van angs, want hulle is so bang hulle mis uit op die nuutste opdaterings, hoeveel ‘likes’ het ‘n post gekry, wie het wat vir wie gesê? Die nuutste modes, die nuutste giere… Ons leef so in hierdie vreemde wêreld van ‘make-believe’, dat ons nie sien hoe ons lewe ongemerk by ons verby sluip nie, terwyl ons sonder ‘n gedagte net verder ‘scroll’ op ons foontjies nie. Gun wonder hulle noem dit ‘doomscroling’ nie.
Ek het hierdie versie in Efesiërs 5 vers 15-17 raakgelees, en dit klink soos ‘n goeie vers om te gehoorsaam… is dit die wil van God dat ons ure per dag op ons selfone kuier? Wees baie versigtig hoe julle lewe; nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen. (Ef. 5:15-17)
So wat staan ons te doen? Ek en jy sal seer sekerlik moet besluit wie beheer wie? Beheer die SkermSkelm ons, of ons die SkermSkelm. Miskien is dit tyd dat ek en jy onsselwers kies? En nie luister vir die skril ping stemmetjie van die SkermSkelm nie. Waar die toestelletjie nie jou beste pal is nie, maar eerder ‘n tool wat jou lewe makliker maak, maar nie jou lewe en tyd steel nie!
Vriendin, en die ding wat ek besef het met die doen van hierdie taak, is dat ek en jy as ouer, as grootouer, die voorbeeld vir ons kinders moet wees, ek en jy sal moet voorvat en voorloop. En waar ‘n tiener in die huis is, moet daar reëls wees oor die gebruik van selfone, en dit hoef nie ‘n ellelange lys te wees nie. Wat van geen selfone aan die tafel nie, geen selfone gebruik tussen 21h00 en 6h00 nie, stel limiete op sosiale media toeps, ens. Elke gesin kan saam-saam so lysie opstel waarmee almal tevrede is. En Tieners hou eintlik van reëls, die grense van reëls laat hulle veilig voel!
Miskien moet ek en jy dit hoor, en weer hoor. Jy mag jou foon op ‘stil’ stel, jy mag al die notifikasies afsit en na harte lus ignoreer. Jy hoef nie elke oomblik van elke dag beskikbaar te wees nie. Jy mag, in stilte, sonder die SkermSkelm drome droom, kreatief wees, ‘n boek lees, ‘n boek skryf, ‘n nuwe stokperdjie begin beoefen, en gesels met die mense om jou. Jy mag ten volle, in elke oomblik van jou lewe teenwoordig wees, elke diep asemhaling op ‘n nuwe vlak ervaar, jy mag stilte en vrede najaag, sonder die skril stemmetjie van die SkermSkelm wat jou tot ander insigte wil bring.
Deel hierdie twee skakels met jou tieners, maar ek wil hê jy moet eers daaroor gaan bid, bid vir goeie grond waarop die saad kan val. Bid dat Heilige Gees hulle tot ander insigte bring, want ek en jy weet albei ewe goed dat om te karring aan tieners hulle selde tot ander insigte bring. Bid daaroor, stuur dit aan en los dit daar.
Hierdie is die getuienis van Madison, ‘n 14 jarige wat met Jesus gesels het oor Sosiale Media.
Hoeveel tyd het ons oor?

Soooooo belangrik. Ons moet net bid daaroor. Heeltyd!!!!!
Ons moet! En ons moet die voorbeeld wees