Vat Nog ‘n Happie van my Jesus, Liefie.

Net nadat ek die opskriffie getik het, toe ‘crinch’ ek so bietjie binne toe, want sjoe dit voel amper disrespekvol teenoor HOM vir wie ek so liefhet, maar in my hart van harte weet ek hier is mammas en vrouens wat dit moet hoor, so optimisties-versigtig gaan ek, met liefde en deernis, hierdie boodskappie probeer oordra! Hoor my hart, nie die woorde nie!

Baie jare gelede met die verhuis van Bloemfontein na Roodepoort was ousus kort-kort siek. Ons het gedink dit kan die lug wees wat vuiler is, sy het nagte om gehoes. Een van die medisynes wat die Pediater lief was om te gee was kortisoon, nou kyk om ‘n een en ‘n half jarige te máák medisyne drink sit nou ook nie in elke ene se broek nie.

Die eerste keer wat ek vir haar die kortisoon gee spoeg sy vir my dat die stroop en die spoeg my afdrip, eers wil ek kwaad word, maar wysheid kry toe die oorhand en ek proe aan die medisyne. Ai eish, galbitter… gun wonder nie!! Toe doen ek wat enige goeie ma sal doen en ek koop haar om met lekkergoed… 5ml kortisoon en ‘n lekkertjie wat direk daarna in die bekkie gedruk word. Weet nie hoekom ek vanoggend daaraan gedink het nie!

Ek en jy gee nie vir ‘n 2 maande oue babatjie steak nie, al werk ons dit in ‘n voedselverwerker hoé fyn, want babas se verteringsstelsel kan eenvoudig nie steak verteer nie! Babas in die geloof kry melk, nie steak nie!

Ons elkeen stap ‘n pad saam met Jesus, en Jesus val langs ons in, en stap die pas wat ons aangee, op die vlak wat vir ons gemaklik is loop Hy al geselsend saam. My pad lyk nie soos jou pad nie, en wanneer ek goed kwytraak oor geloofgoed en jy was nie reg om dit te hoor nie, dan kan dit skade maak.

As kinders het ons altyd saam met oupa en ouma kerk toe gegaan, en jy moes stilsit en luister. Finish en klaar. Kwaai kyke in die kerk het jy gekry as jy bietjie te veel rondskuif of te hard hoes. Na kerk het oupa ons op ‘n strepie laat sit en dan moes jy sê wat jy gehoor het… ai jai jai… die angs was eg! Oupa het altyd by die oudste begin, ongelukkig het dit my tweede in die ry geplaas. Nou sit ek die hele diens deur en dink ek moet luister… en onthou… as ek by die deur uitstap dan weet ek ek het vergeet om te luister en ek kan nie onthou wat ek moes onthou nie. En waar los dit my in my verhouding met die Almagtige God? Met ‘n ‘warm en fuzzy feeling’ van geliefd wees, en uitverkies wees en al daai mooi dingetjies. Moenie glo nie… nogals nie. Al wat jy dink is God is sekerlik kwaad vir my… want nie eers in Sy huis kan ek dit regkry om aandag te gee en mooi stil te sit nie.

Ek het eendag iewers gelees: praat eers met God oor die mens, voor jou met die mens oor God praat. Hoekom? Want God ken alles van daai mens, sy hart, sy drome, sy gedagtes, sy struwelinge en struikelinge, wat ken ek en jy van daardie einste mens? Net wat ons aan die buitekant sien en beleef.

So hoe vertel ons vir, veral ons kinders en tieners van Jesus, sonder om lepeltjie vir lepeltjie van Jesus in hulle kele af te forseer? Ek het geleer jy praat nie namens God nie, Hy is Almagtig en Alwetend en Hy het niemand nodig om namens Hom te praat nie, so ek begin nie ‘n sin met, my liefie, die Here hou nie daarvan as jy dit of dat doen nie.

Vrees is nie ‘n goeie motivering vir glo nie! Klein dogtertjies en seuntjies mag nooit hoor: jy maak Liewe Jesus se hartjie seer as jy so stout is nie. Wat sê Jesus? Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie… Wat sê ek en jy dan eintlik vir hierdie einste klein dogtertjie of seuntjie. Jesus het net perfekte kindertjies lief, nie stout kindertjies nie.

Ek dink toe ook onmiddellik aan die versie in Deuteronomium 6:6-7, En hierdie woorde wat ek vandag vir jou voorskryf, moet jy op jou hart dra. Herhaal dit vir jou kinders en praat met hulle daaroor wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan. En hierin lê die tameletjie, hoe doen mens dit, deurlopend sonder om Jesus in jou kinders en die mense wat jy liefhet se keel af te druk? Daar is ‘n fyn lyn nê?

Geforseerde geloof is nie geloof nie,
en nog minder is dit verhouding…

So hoe dan gemaak?? Wat kan ek en jy as mammas doen? Ons kan bid… baie bid. Het ons gebede nie ‘n kragtige uitwerking nie? Hoor hier, moet veral nie jou tiener in ‘n hoek vasdruk en bid asof julle albei se lewens daarvan afhang nie. Jy sal hulle totaal en al uit‘freak’! Wat van net voor die Wiskunde toets in die motor op pad skool toe… Kan mamma gou skietgebed vir jou opstuur?

Wat kan ons nog doen? Ons kan saam met ons kinders kerk toe gaan… kan jy ‘n kind verplig om kerk toe te gaan… verplig is so kras woordjie. Myne het van kleins af ‘n keuse gehad, jy kan Sondagskool toe gaan of saam met mamma en pappa in die kerk sit. Nou is hulle te groot vir Sondagskool…

Die realiteit is: Jy kan nie jou kinders dwing om te glo nie, maar jy kan die grond voorberei, saad plant, en jou lewe so uitleef dat hulle Jesus in jou sien en Hom self wil leer ken. Kinders doen wat jy doen en doen selde wat jy sê… wys vir hulle genade, liefde en vergifnis in aksie.

Los ‘n Bybelversie op ‘n kussing, in ‘n kosblik, op die lessenaar… veral wanneer jy weet dinge gaan woes, los maar die prekie… Maak Jesus deel van jou alledaagse lewe, sê sommer so terloops, sjoe God spog lekker met hierdie sonsopkoms vanoggend nê? Of Ai Jesus kan U help met ‘n parkeerplekkie asb… en dankie Jesus wanneer jy die plekkie kry.

Skep ‘n ruimte waar hulle jou enige iets kan vra… onthou geloof groei, dit verskyn nie oornag in wonderwerk vorm nie! Twyfel is deel van geloof en groei. Wees geduldig… Rome is mos nie in een dag gebou nie!

Ek luister selde iets anders as praise and worship. Maar niemand word verplig in my huis om dit saam met my te luister nie. Ek sal so liedjie of twee op die motor radio luister, en dan sê ek: Gooi bietjie ‘n lekker liedjie… en dan gaan kuier ek bietjie in hulle musiek wêreld.

As jou kids weet jy het hulle onvoorwaardelik lief, is dit vir hulle makliker om dit van God te glo! Geloof is nie ‘n klomp reëls en regulasies, moets en moenies nie. Geloof gaan oor God en God… is lief vir jou kinders, meer as wat ek en jy ooit sal weet of besef.

7 Replies to “Vat Nog ‘n Happie van my Jesus, Liefie.”

  1. Jy is spot on.
    Ek dink ons het nie ons kinders n keuse gegee nie, Sondag skool toe gaan jy want anders word jy nie aangeneem nie, anders kry jy nie ‘n atestaat van watter kerk behoort jy dan, nee julle gaan.
    Anders kan julle nie trou in die kerk nie , nee julle gaan.

    Ai as ek dit kon oor doen sou ek, want nou is hulle aangeneem en hulle is groot en hulle kan nou hulle eie besluite neem. So, in kort was Sondagskool nie lekker vir hulle nie. Wat nou…. nou bid ons vir ons kinders se siele en hoop dat hulle ons God op ‘n persoonlike manier sal aanbid nie met al die reels and regulasies nie
    Amen

  2. Dankie vir dié boodskap. Ek dink nou terug aan iemand wat ek geken het. Wat hard geveg het om godsdiens uit ons skole te hou. Wanneer dit kom by onderwysers wat kinders bangmaak met God en sesjariges vertel dat hul pa wat kanker het, hel toe gaan omdat hy ‘n ateïs is, dan het ek saamgestem om liewer “godsdiens” uit skole te hou. Maar helaas, dis nóg erger wanneer onvolwasse christenouers sélf hul kinders so ‘n onreg aandoen. Dis hoekom ons die skrif moet ken en moet groei om die steak van die evangelie te eet. En ons kinders te kan leer wie Jesus eintlik is. Ons bly sò maklik net melk drink want dis mos makliker…

Comments are closed.