
Eendag, lank lank gelede was daar diep diep onder die grond ‘n stukkie koolstof, sy was nie gelukkig nie, maar ook nie juis ongelukkig nie… maar sy het altyd gehoop, gedink, gewonder of sy nie meer behoort te wees nie. Sy het met God hieroor gepraat… en ja werklikwaar daar was meer, God het haar belowe, Hy, wat goed is, sal haar nooit begewe of verlaat nie.
Soos die tyd aanbeweeg, baie baie tyd, en die druk van die lewe haar ampertjies onder kry, druk sy deur en sy hou vas aan die soom van Jesus. Omdat sy diep onder die aardkors bly, is dit warm, amper te warm. En sy ‘suffer’ soos die Engelsman sê, en dis warm en die druk hou net eenvoudig nooit op nie, maar tussen die ongemak en pyn, bly sy altyd bewus van Hom wat haar regterhand styf in Syne vashou!
En eendag gebeur die wonderwerk, sy die stukkie koolstof, begin stadig maar seker verander en kristaliseer, en sy is self verbaas hoe Sy deur Sy genade verander het ten spyte van al die druk en swaarkry, en een oggend word sy wakker en sy is nie meer ‘n stukkie koolstof nie, maar ‘n diamant… ‘n rowwe diamant, nie geslyp nie, maar nietemin ‘n diamant.
En eintlik liewe vriendin, wil die diamant haar storie met ons deel wil sy graag hê, ek en jy moet verstaan dat ‘n stukkie koolstof tog uiteindelik die potensiaal het om ‘n diamant te word. Haar reis getuig van die krag van uithouvermoë, tot dit verander in ‘n briljante, veelvlakkige diamant. Sy herinner ons graag dat uit die slegste, moeilikste omstandighede kan daar iets moois, iets raars ontstaan.
S Kushner het gesê: en dis verskriklik mooi, jy moet jou ore spits en dit sommer in jou hart bêre: The diamond is the perfect metaphor for what it means to become your best self. It is formed in the fire, under pressure, and it emerges as something extraordinarily rare.
Die diamant is die verpersoonliking van sterkte en skoonheid. Out of suffering have emerged the strongest souls, the most massive characters are seared with scars. En soos dié diamant getuig, my en jou worstelinge vorm ons, en dis deur die swaarkry van die lewe dat ons ware glans na vore kom. Groei geskied selde in die afwesigheid van pyn en ongemak.
Miskien is die grootste oorwinning om deur God oorwin te word, om Hom toe te laat om die rowwe, ongeslypte mens wat ek en jy is, te slyp, en te poleer, en te sny tot iets asemrowends mooi en kosbaar. En weet jy wat ongeslyp, amper geslyp, besig om geslyp te word, maak geen verskil nie, want ‘n diamant se sterkte maak dat sy die druk van die lewe kan hanteer, wat die diamant eintlik vir ons vandag wil sê is, waaragtige skoonheid kom juis vorendag in die midde van beproewings.
Ek dink as die diamant kon sê aan watter stukkie in die Bybel sy die styfste vasgehou het, was dit sekerlik Ps. 23, die Herder en die versies het haar deur die moeilikste van tye gedra en regop gehou.
‘n PSALM van Dawid.
Die Here is my herder;
niks sal my ontbreek nie.
Hy laat my neerlê in groen weivelde;
na waters waar rus is,
lei Hy my heen.
Hy verkwik my siel;
Hy lei my in die spore van geregtigheid,
om sy Naam ontwil.
Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee,
ek sal geen onheil vrees nie;
want U is met my:
U stok en u staf dié vertroos my.
U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders;
U maak my hoof vet met olie;
my beker loop oor.
Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe;
en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.
En soos Mae West dit so mooi gestel het: “You only live once, but if you do it right, once is enough” ‘n Doelgerigte lewe, ‘n geloofwaardige lewe, ‘n lewe wat ‘n getuigskrif is van die grote God wat ek en jy dien. Kan ons skyn vir HOM en Sy LIG weerkaats, sodat ander Hom in ons kan sien.
Hoor bietjie wat God vir jou wil sê liefste diamant-vriendin, wat druk en ongemak te goed ken…
Liewe Dogter,
Jy behoort aan My sê die HERE, EK die Heerser oor alle magte… Ek het deernis met jou. (Mal. 3:17) Jy weet mos nou al teen die tyd, Ek laat vir jou wat MY liefhet, alles ten goede meewerk. (Rom. 8:28) Jy sal ‘n sierlike erekroon wees in My hand. ‘n kosbare koninklike hoofband in MY palm… Ek vind vreugde in jou! (Jes. 62:3,4)
Vertrou op MY… As EK vir jóú is, wie kan dan teen jou wees? (Rom. 8:31) Ek is vir jou ‘n skuilplek en ‘n bron van krag; as hulp in benoudheid is EK altyd te vinde. Ek is in jou midde, jy sal nie wankel nie. EK sal jou help wanneer die oggend aanbreek. Bedaar dus liefste kind, wees stil en weet dat EK God is. Ek is verhewe bo die nasies. EK is verhewe bo die aarde (Ps. 46:2,6, 11)
Werp al jou bekommernisse op MY, want dis EK wat vir jou omgee. (1 Pet. 5:7) My vrede is joune. (Joh. 14:27) Werp jou las op MY, jou HERE, EK sal jou versorg, Ek sal nooit toelaat dat jy wat regverdig is, wankel nie. (Ps. 55:22) In jou angs het jy geroep “HERE!” en EK het jou geantwoord… Liewe dogter, dis veel beter om by MY te kom skuil, as om op mense te vertrou. (Ps. 118:5,8) Ek self tree vir jou in, MY troue liefde duur vir ewig. (Ps. 138:8)
Liefste kind na aan MY hart, ek sal jou standvastige gesindheid in volkome vrede bewaar omdat jy op MY vertrou, Vertrou te alle tye op my, want Ek die HERE… is jou ewige rots. (Jes. 26:3-4)

Amen 🙏. Dankie Martha vir die mooi boodskap. Ek het dit oor en oor gelees. Dankie jou engelmensie Xx❤️❤️🙏🙏
Wow!!! Amen. Dit is so waar. Dankie Vader U is my rots by wie ek skuil. Dankie vir U Liefde en Genade in my lewe. Amen
Wat ‘n mooi getuienis van ‘n Vader wat vir Sy kind sorg. Dankie Louise! ❤