Ezer Kanegdo.

Ezer Kanegdo is ‘n Hebreeuse woord. Dit beteken om te red/en om sterk te wees. Ezer beteken ook om ‘n Vegter te wees, ‘n Helper. Dit beteken om ‘n Lewensredder te wees. Die frase word ook gebruik om God te beskryf, wanneer jy absoluut desperaat is vir Hom om jou te red. Kanegdo beteken die teenoorgestelde van…

Die mens is geskape vir verhouding, om saam te wees, om lief te hê. God het die man en vrou geskape, na Sy beeld, op dieselfde manier, maar tog verskillend. Met verskillende chromosome, met verskillende hormone, met verskillende drome, met verskillende funksies. Nie minder nie, gelyk, maar anders.

God het vir Eva geskape, God het vir my en jou geskape vriendin, as ons manne se Ezer Kanegdo. God het besluit en gesê: “Dit is nie goed dat die mens (Adam) alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n helper maak, as sy gelyke.” (Gen. 2:18)

Daar is ‘n paar onderwerpe waarvoor ek effe versigtig voor is. Die woord onderdanigheid behaal beslis die top tien van die ‘versigtig wees’ lysie. Ek myself het geen probleem met die ou afrikaanse woordjie nie, maar daar is ‘n paar dames wat erg geaffronteer voel, jy kom nog net by die tweede lettergreep van die woordjie dan word daar wapens, woorde en houdings uitgepluk. Ai! Dis oorlat ons nie lekker verstaan nie, en as gevolg van al die misverstaan kom daar ongelukkigheid en sommer opstandigheid in sy oortreffende trap.

Ons is onlangs by ‘n troue, en toe kom ek agter dis nie net ek wat versigtig is vir die onderdanig woordjie nie, selfs die predikant het die woord baie vining genoem en sommer die woord vloermatjie baie vinnigg bygevoeg, so asof ons moet verskonings uitdink vir dit wat in die Woord van God staan.

Ons grootste probleem is ons dink met ‘n wêreldse mentaliteit oor die woord onderdanigheid. Ons dink in terme van besigheid. ‘n CEO met onderdane. ‘n Baas en ‘n klaas. Waar die vrou die klaas is en wel haar man is die Baas. En dis absoluut glad nie wat onderdanig-wees beteken nie. ‘n Huwelik is nie ‘n besigheid nie!!! Wees onderdanig beteken nie, voer jou man se opdragte uit, en hy neem al die besluite en jy sê ja en amen… liefie nie!

Gaan lees Efesiërs 5 van hoek tot kant deur. Sommer al by die eerste twee versies staan daar belangrike inligting: Volg dan die voorbeeld van God as geliefde kinders, en leef in liefde, net soos Christus ons liefgehad, en Homself ter wille van ons oorgegee het as offergawe aan God, as ‘n offerande met ‘n aangename geur.

Opofferende liefde, van albei kante af… verstaan jy dan hoekom onderdanigheid dan glad nie ‘n probleem kan of behoort te wees nie! Vers 21: Wees onderdanig aan mekaar, uit ontsag vir Christus. Die manier hoe ons met mekaar omgaan moet deurdrenk wees deur die liefde en teenwoordigheid van Christus.

Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, (die 1953 vertaling sê dit die heel mooiste- die man sal sy vrou aankleef) en hulle twee sal een wees, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie. (Markus 10:7-9)

En luister ek weet, alle mans kry dit nie so heeltemal reg nie (dis nou die wees vir jou vrou so lief soos Christus die kerk het), en ons vrouens sukkel ook maar met die onderdanigheid-besigheid. Weet jy hoekom? Ons kort nog en nog van Jesus. Hoe nader ons aan Jesus en aan Sy hart, en aan Sy essensie beweeg, hoe nader sal ons aan mekaar beweeg, hoe mooier die eenwording in liggaam en gees.

Ek het die volgende in ‘n artikel raakgelees en dit was vir my mooi genoeg om neer te skryf: Rather, as we’ve seen, Paul describes the order in terms of the husband giving himself in love for the sake of the marriage relationship, and the wife responding to his giving and so fulfilling the relationship. It’s an order of love, and giving, and responding. (Lionel Windsor)

So every married man should be gracious to his wife just as he is gracious to himself. And every wife should be tenderly devoted to her husband. (Eph. 5:33) Klink dit nie ook vir jou soos ‘n Ridder op sy wit perd wat die vrou van sy drome oppik en wegry uit die gevaarsone met haar haar hare wat in die bries wapper, terwyl sy styf om sy lyf vashou, want sy weet, hy het my lief met sy hele wese en wil net die beste vir my hê nie?

Wedersydse onderdanigheid beteken eintlik, wees lief vir die man wat jy gekies het, werk hard aan jou huwelik, want liefde is ‘n werkwoord. Manne wees lief vir die Eva wat God aan jou toevertrou het. Wees die Priester, Profeet en Koning van jou huis. Hê haar lief met die liefde van Christus, dan sal niemand ooit hoef te baklei oor onderdanigheid, wie dra die broek en wie is Baas en wie is klaas nie.

Die vrou is uit Adam se rib gemaak;
nie uit sy kop om oor hom baas te speel nie;
nie uit sy voete om deur hom vertrap te word nie;
maar uit sy sy om sy gelyke te wees,
onder sy arm om deur hom beskerm te word
en onder sy hart om deur hom bemin te word. (M. Henry)

 (Liefste vriendin, en so as ‘n laaste gedagte, hierdie stukkie is op geen manier op jou van toepassing, as jou man jou verniel met woorde, fisies of finansieël nie. Dis nie net nie van toepassing nie, maar kry asb hulp, vertel iemand… God se bedoeling was nooit dat vrouens deur hulle mans verniel word of selfs anders om nie. Dis nie God se hart nie, dis nie God se droom of wil OF PLAN vir jou lewe of jou huwelik nie!)

One Reply to “Ezer Kanegdo.”

Comments are closed.