‘n Nuwe jy.

As ek moet vra op watter diëte jy al was gaan party van ons se lysies langer wees as ons ‘bucket list’. Ek was ‘n paar jaar gelede op ‘n Rut konferensie en vir huiswerk moes ons ‘n collage maak. Op my collage was ‘n foto’tjie van “‘n Nuwe Jy.” Ek was so opgewonde, kinderlik opgewonde, daar is so ewe ‘n appel en ‘n maatband by… hier dink ek toe God gaan my help gewig verloor… Ek dink God het lekker vir my gelag. Sy ‘Nuwe jy’ het toe effe anders gelyk as wat ek gedink het.

Ek wil nie lig maak van die onderwerp nie, want ‘the struggle is real’… maar ek wil tog vertel van my reis met ‘n Nuwe jy.

God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. (Ef: 2:10) God sien nie jou ekstra vetrolletjies onder jou wegsteek, geplooide groen toppie raak nie, maar ons raak soms so obsessief met die ekstra paar kg en rolletjies dat ons die dade waarvoor Hy ons bestem soms heeltemal mis. Inteendeel God wil hê ons moet gelukkig en gesond wees.

Hoor bietjie wat God vir jou vandag sê: Ek beoordeel jou nie volgens jou uiterlike nie. (Jak 2:2) God dink nie heimlik by Homself: “Ai my kind, Ek het jou so wonderfully and fearfully gemaak… en kyk nou net nie.” Ons moet ophou om hoe ons lyk in ons kop te beïnvloed hoe ons optree, of dalk nie optree nie. Maar as jy jouself volgens jou uiterlike beoordeel, doen jy sonde. (Jak. 2:9) Kan jy dit glo? As jy voor die spieël staan en dink… nee skrap dit eintlik kan jy nie eers vir jouself in die spieël kyk nie. Veral nie in jou Eva’s gewaad nie wat nog te sê ten volle geklee. As jy nie vir jouself in die spieël kan kyk nie, dan moet jy dalkies ‘n punt daarvan maak om bietjie voor die spieël te kuier en vir jouself te sê: Jy is eintlik glad nie ‘bad’ nie… ek is lief vir jou. Weet jy wat… as jy dit genoeg herhaal, uiteindelik gaan daar ‘n klein deeltjie van jou hart wees wat dit begin glo.

Wees dan volmaak soos jou hemelse Vader volmaak is. (Matt. 5:48) Jy is volmaak want jy is vergewe. Volmaaktheid deur vergifnis van jou sonde maar nie perfek nie, a work in progress… dis wie jy is, my liewe vriendin in Jesus, ‘n onvoltooide, volmaakte meesterstuk.

Die oomblik toe ek myself begin lief kry, met foute en al, soos wat God my onvoorwaardelik liefhet, eers toe het die Nuwe ek begin kop uitsteek, die een bestem deur God. Die Nuwe ek was nie blind vir die foute en imperfeksies in die spieël nie, nee, maar die Nuwe ek het besef elke plootjie vertel ‘n storie van lag, seer en genade onbeskryflik groot. Die pensie wat so wil-wil oor die broek se rek kruip is getuienis van twee perfekte girls wat my vul met vreugde en lag wat my uitdaag om anders na die lewe te kyk. Elke rekmerk is deel van wie ek is en die paaie waardeur die lewe my al gevat het. Die haelskade ook nou maar deel van ‘n pakkie wat ek geleer het om lief te kry. Ek is nie ‘n model nie, ek is ook nie meer 18 jaar oud nie.

Die Nuwe ek is ook nie gedurig op soek na die nuutste dieët gier nie. Die Nuwe ek stel meer belang in gesond eet en gebalanseerd wees. Ek weet dis baie makliker gesê as gedaan. Vermy die rakke met die versoekings en die sjokolades wat fluister… kies my. Moet ook eerder nie gaan inkopies doen op ‘n leë maag nie. As dit nie in die kas is nie, kan jy dit nie eet nie. Ek weet jy het kindertjies wat op ’empty’ hardloop en die heeldag agter jou aan suiker… ma wat kan ek eet? Weet jy wat koop ek vir hulle? Die goed wat ek nie lief voor is nie.

Die Nuwe ek is slim genoeg om te besef ek raak bietjie ouer en moet mooier na myself kyk. Die Nuwe ek hou ook nie baie van sweet nie, en die Nuwe ek en ek het saam besluit, oefening waar die sweet jou afloop is nie vir ons bedoel nie. Ek hardloop ook nie, ek hardloop net as iemand my jaag, so as ek met ‘n spoed verby hol moet jy weet…

Nou doen ek 2 of 3 keer per week Yoga, Pilates of strek oefeninge om darem al die skarniere aan die gang te hou. Dis baie moeilik om ‘n oefen program vol te hou as jy eintlik oefening haat met elke greintjie van jou menswees, maar hoor gou-gou hier: Om lekker ente te gaan stap, om die blok of in die straat af of langs die see as jy gelukkig genoeg is, is ook oefening. You tube is ook vol allerhande lekker kort video’s… probeer dit bietjie. Miskien is jy mal daaroor!

Is ek tevrede en gelukkig met myself… ok miskien nie 100% nie, maar ook dit gebeur mos nie oornag nie, of hoe? Nou ja ek sal nie die jaar op Hartenbos se strand in ‘n bikini gaan paradeer nie,  maar die Nuwe ek is nie skaam om in my eenstuk die water aan te durf nie…

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *