
Ek het bietjie in die HAT gaan loer wat die woord tevrede se verklaring is. Dit sê die volgende: Voldaan, nie meer begerende nie. Jy mag NIKS van iemand anders begeer nie. (Eks. 20:17) Meet jy tevredenheid aan wêreldse goed? Ai, want dan sal ek en jy nooit tevrede wees nie, en nooit ooit vrede vind nie.
Sien jy die vrede in tevrede? Wat is dit wat jy kort wat jou gelukkig gaan maak, gaan maak dat jy tevrede is, voor dat jy met opregtheid kan sê, die Here is my Herder ek kom NIKS kort nie, ek het alles en nog meer…en nog meer en meer as genoeg? Ek is tevrede, en ek het vrede.
Ek het so paar jaar gelede gaan inloer by ‘n tannie oorkant die straat wat geduldig gelê en wag het dat die Here haar moet kom haal … toe wonder ek vanoggend hoe kan mens nie tevrede wees en voel nie, hier aan die einde van die lewe wat is dit wat jou hart se begeerte is, wat is dit waarna jy dan smag. Nog dinge, nog goete wat nie vreugde, vrede of geluk kan verseker nie? Ek dink nie so nie…
Soms is dit nodig om bietjie ‘n greep op die lewe te kry, soms is dit nodig dat ek en jy bietjie diep dink oor die lewe. Bietjie opgawe neem van ons lewens. Was jy al op Weigh less? Jip, ek ook! Ek hoor die anderdag van ‘n ander vroutjie wat ook in ‘n stryd met kanker gewikkel is, en sy vertel een van die tannies in die kankersaal het die week 1.9kg opgetel en almal het hande geklap, en dit het haar laat terug dink aan haar Weigh less dae. Dis perspektief my liewe vriendin.
As ek net dit of dat kan kry… dan sal ek tevrede wees. Sal jy? Ek weet nie so mooi nie. Net soos die Winter ons lus maak vir somer en kortbroeke, see, sand en koue koeldrank, as dit net die hele tyd somer was, sou ons met dit tevrede gewees het? Ek twyfel, ons sou begin kla het soos ons nogals maklik lekker kan doen, so met die witbrood onder die arm…
My ouma, wat ‘n paar jaar terug huis toe is, het gesterf met ‘n dolleeg beursie en bankrekening, maar haar skatte was reeds in die hemel. Sy het nie met niks gesterf nie, sy het met alles gesterf. Sy het alles gehad wat sy nodig gehad het, want sy het naby aan die hart van haar Vader geleef. Sy was tevrede met min, want baie het haar nie beïndruk nie.
As ek by haar gaan kuier het, het ek altyd gesê, gee vir my ‘n kort-lysie… en ouma sal vinnig sê, sy kan nie nou aan iets dink nie. As ek by haar kom en die goedjies uitpak wat ek saamgebring het, dan vra sy altyd verbaas hoe het ek geweet dit of dat was op? Dan sê ek altyd terwyl ek op en af in Dischem se rakke loop het ek maar altyd gevra Jesus moet wys wat ouma kort. Dis hoe mens in tevredenheid in afhanklikheid van die God van die hemel en die aarde leef. Wanneer jy Hom begin vertrou vir Panache, tandepaste en lekker ryk roompies.
Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. (1 Tim. 6:6-7) Ons jaag dinge na om die reusagtige gat in ons harte te vul, ons probeer mos die holte van niksgeit en leegheid vul met groter motors, mooigoed, klere, dinge, maar ek sê vandag vir jou my liewe vriendin in Jesus, as ons so gat het in ons hart en siel, is daar te veel van die wêreld in my en jou hart en te min van die hemel.
Don’t be obsessed with money but live content with what you have, for you always have God’s presence. For hasn’t He promised you, “I will never leave you alone, never! And I will not loosen my grip on your life!” (Heb. 13:5 TPT) Werklike tevredenheid gaan jy slegs in God vind, Sy teenwoordigheid en in Sy liefde vir jou.
Maar die wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. Geldgierigheid is die wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal. (1 Tim. 6:9-10) Jy kan die Lotto speel en wen, miljoene rande tot jou beskikking hê, maar wat dan… gaan jy tevrede wees, gelukkig wees?
Is gelukkig wees, tevrede wees nie gesondheid, ‘n gelukkige huwelik en kids wat jou darem nie daagliks in die skande steek nie? Is gelukkig nie jou daaglikse brood, nabyheid aan God se hart, ‘n stap in die Goeie Herder se voetstappe. Die stem van Heilige Gees wat jou voete en jou stap rig op die regte pad nie. Is tevrede en vrede nie Jesus se nabye teenwoordigheid ten midde van ‘n lewensstorm wat om jou woed nie?
Wat is gelukkig en T E V R E D E werklik?
As hulle luister en Hom dien, sal hulle hulle dae in voorspoed deurbring, hulle jare in welvaart. (Job 36:11) Nie geldelike welvaart nie maar Goddelike welvaart. ‘n Tevredenheid in die teenwoordigheid van die lewende God.
Is jy T E V R E D E liewe vriendin?
