God is altyd dieselfde: Hy is die eerste, en wanneer die laaste dinge gebeur sal Hy steeds God wees. (Jes. 41:4) Hy die alomteenwoordige God wat in die verlede, die hede en in die toekoms is. God word nie vasgehou en beperk deur tyd nie. Hy is oral… Vir die Here is een dag soos ‘n duisend jaar en duisend jaar soos een dag.
Ons is so lief om in die verlede te kuier, maar ek praat nou nie van die ‘trip down memory lane en ‘n warm fuzzy feeling’ nie. Ek praat van selfkastyding en ‘n onvermoë om die verlede te los waar dit hoort: in die verlede. Mense wat in die verlede bly vashaak, wat sukkel om in die hede te leef, ervaar net moedeloosheid en onvergewensgesindheid teenoor hulself en ander. Dis moeilik om positief te wees oor vandag as jy die spoke van gister agter jou aansleep.
Ai ons ou mensdom is darem ‘n interessante spulletjie. Ons hou daarvan om die dam geheel en al onder die eend uit te pluk en ons hou daarvan om stink, ou, half ontbinde koeie uit die sloot te grou. Ek het gevind dat stink ou koeie nie goed is vir verhoudings nie, nie vir jou huwelik of vir die lewe in die algemeen nie. Los die onwelriekende koeie in die sloot. Vergewe, vergeet… die oordeel kom jou en my nie toe nie. Laat dit in God se hande. Die enigste een wat jou verlede in iets in positiefs kan omskakel is God… maar jy moet Hom toe laat, jy moet vir Hom plek maak in jou lewe sodat Hy dit kan doen wat jy in elk geval nooit sal regkry nie.
Van ons leef weer in die toekoms, ons bekommer ons so erg oor die toekoms, ons begin sinne met: Wat as? Sê nou maar? Weet jy wat as ek begin bekommerd raak oor die toekoms, veroorsaak dit vrees en uiteindelik lei dit tot angs. Na angs kom die slapeloosheid. Die tyd van my 24 uur wat uitgesit word vir rus, ontspan en herlaai raak die tyd wat ek tob oor dinge waaroor ek absoluut geen beheer het nie. Sinnelose oefening, ek weet, maar steeds doen ons dit…
Maar weet jy wat? God is reeds in die toekoms, Hy wat is en wat was en wat kom. (Openb. 1:8) As ons dan weet dat God reeds vir ons wag in die toekoms, hoekom gaan bly ons die Bobbejaan agter die bult soek? Hoekom laat ons toe dat die wat asse en sê nou maar’s ons lewens geheel en al oorneem en oorheers. Al wat oorbly is vrees vir ‘n onbekende toekoms waaroor ons in elk geval geen beheer gehad het om mee te begin nie. God is reeds daar. Haal asem, raak rustig. Hy het jou in die palm van Sy hand…
Job sê ‘n baie belangrike ding: Wat ek gevrees het, het oor my gekom; waarvoor ek bang was, dit het my getref. (Job 3:25) Pleks ou Job het maar net die Bobbejaan agter die bult gelos… waar hy hoort, mind you.
Ons moet leer om in die hede te leef, die hier en nou. Ons moet begin leef asof ons dit bedoel. Vir vandag. Vreesloos. Asof dit ons laaste dag op die aarde is, met oorgawe. Ek weet die alledaagsheid van die lewe kan vir jou soms onderkry en jy weet meeste van die tyd nie of jy kom of gaan nie. Dit gaan maar ook oor keuses nê. Jy kies waaraan jy dink, jy kies waaraan jy jou tyd spandeer. Make it count… môre vir my en jou is nie ‘n waarborg nie.
Die volgende is vir my so mooi stukkie in die fliek, Kung Fu Panda. Po: “Maybe I should just quit and go back to making noodles.” Oogway: “Quit, don’t quit? Noodles, don’t noodles? You are too concerned about what was and what will be. There is a saying: yesterday is history, tomorrow is a mystery, but today is a gift. That is why it is called: the present.”
Miskien moet ons begin fokus op die geskenk van vandag, miskien moet ons leer om die verlede in die verlede te los en nog belangriker om nie oor die toekoms te bekommer nie, siende dat God alreeds daar is. Gebeur dit oornag? Natuurlik nie! Spiere word net sterker as ons dit gereeld oefen.
Hoor wat sê God oor jou en my toekoms: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!” (Jer. 29:11) Los die verlede en toekoms in God se bekwame hande… en LEEF! Carpe diem!
Baie baie dankie hiervoor….soooo mooi verduidelik xxx
Do not wait for life. Do not long for it.Be aware, always and at every moment, that the miracle is in the here and now. (Marcel Proust)
Wow! Treffend sussie! So waar. Dankie dat jy so ń inspirasie is nie net vir my nie maar vir so baie ander. Lief v jou x
There are only two days in the year that nothing can be done. One is called Yesterday and the other is called Tomorrow. Today is the right day to Love, Believe, Do and mostly Live. (Dalai Lama XIV)
Lief vir jou. 💛
Amen !
We have forgotten what rocks and plants still know-we have forgotten how to be-to be still-to be ourselves-to be where life is here and now. (Eckhart Tolle)
Baie dankie Martha
Lewe asof die hemel hier op aarde is. (anoniem)❤️️