Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. Ek het jou gevorm, Ek het jou gemaak. Jy is vir My kosbaar en Ek het jou lief. (Jes. 43:1,4,7) My liefde vir jou is onverganklik. (Ps. 103:17) Ek ken jou, Ek sien dwarsdeur jou. Ek ken jou gedagtes nog voor hulle by jou opkom. Ek het jou mensekind op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. (Ps. 139:1-2,14) Ja liewe kind, jy is as beeld van My geskape. (Gen. 1:27)
Liewe kind, Ek het jou voor jou geboorte al geroep; toe jy nog in jou moeder se liggaam was het Ek jou op jou naam genoem. (Jes. 49:1) Voordat ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken, nie van geweet nie…geken. Voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy. (Jer. 1:5) Ek ken jou op jou naam, Ek is jou goedgesind. (Eks. 33:17) Ek ken jou wat aan My behoort. (2 Tim. 2:19)
Ek is by jou, Ek hou jou vas. (Jes. 41:10) My gedagtes vir jou is wonderlik. (Ps. 139:17) Ek het My genadegawes aan jou gegege. (Rom. 11:29) Jy is volgens My besluit geroep, ook vir jou sal ek alles ten goede laat meewerk. (Rom. 8:28)
Jy behoort aan My, ‘n nuwe mens, die oue is verby die nuwe het gekom. (2 Kor. 5:17) Ek gee vir jou ‘n nuwe naam, ‘n naam wat Ek self vir jou gekies het. Jy sal genoem word: “Die een vir wie die Here liefhet.” (Jes. 62:2,4) Jou naam is in My handpalms gegraveer. Vir jou sal Ek nooi ooit vergeet nie. (Jes. 49:15-16) Jy is vir My baie werd, selfs die hare op jou kop is getel. (Matt. 10:30-31)
Ek het jou nog altyd liefgehad, met ‘n geduldige liefde. (Jer. 31:3) Luister na My stem… en volg My. (Joh.10:16) Jy ken My stem, Ek ken jou op jou Naam en sal jou lei. (Joh. 10:3) Ek ken jou wat My nog altyd liefgehad het. (1 Kor. 8:3) Jy is afgesonder vir My. (1 Pet. 2:9)
Vind jou vrede in My, (Joh. 16:33) loop en lewe in die Lig. (Joh. 8:12) Elkeen wat My Naam aanroep sal gered word. (Rom. 10:13) Maak oop die geskenk van genade… dis verniet. (Ef. 2:8)
Verstaan jy steeds nie liefste kind? Ek het jou lief en Ek is bly oor jou. (Jes. 62:4-5) Ek het jou nog altyd opgetel en gedra wanneer die lewe se storms om jou woed. (Jes. 63:9) Ek omsluit jou van alle kante. (Ps. 139:5) My trou beskerm jou aan alle kante. (Ps. 91:4) Ek is by jou en sal jou beskerm waar jy ook al gaan… (Gen. 28:15) nou en vir altyd…
Amen en Amen 🙏